Ent

Dit wat op almal se lippe is, die vaksinering. Dis die woord wat almal gebruik. Ek moet selfs mooi dink wát die regte Afrikaanse woord is. Inenting. Ent.

Dis of ek die heeltyd in ‘n tweestryd gewikkel is: Moet ek my laat ent of moet ek nie? En nee, ek is geensins téén die ent nie. Om die waarheid te sê voel ek dat elke persoon wat nog nie Covid 19 gehad het nie, geënt moet word as hulle so voel. Dit is sekerlik elkeen se eie keuse.

Eie keuse. Elke persoon s’n. Ek dink dit is waar my eerste tweestryd begin. Eie keuse. Ek raak gespanne as ek gedruk word om iets te doen. Ek voel vasgekeer in ‘n hoek met geen uitkomkans nie.

Ek wil nie gedruk word nie. Veral nie as die redenasie nie heeltemal water hou nie.

Want ek het mos al Covid gehad.

“Jy kan dit weer kry as jy dit gehad het.”

Ja, ek weet jy kan dit weer kry. Maar jy kan dit weer kry as jy geënt is ook … (al noem hulle dit nie graag nie.) En as jy een keer geënt is, beteken dit nie dat dit die laaste keer is nie. En nee, ek is steeds nie teen die ent nie, ek is net besig om vrede in my eie hart oor my eie situasie te kry. Beslis nie oor enige ander een s’n nie. En terloops, my gesin respekteer my besluit. Dit voel net of ek regtig AL WEER stroomop is. Soos gewoonlik. Want ek oordink dinge.

Want hoekom word iemand geënt? Om teenliggaampies te ontwikkel. Want jou liggaam ken glad nie die virus nie en as jy dan daarmee te doen kry, mag hy jou verskriklik siek maak. Soos hy met my gemaak het. Ek besef net elke dag hóé verskriklik gelukkig was en hóé die Here my beskerm het in Januarie toe ek wou verstik aan my eie slym en nie die krag gehad het om dit uit te hoes nie en iemand op daardie tydstip vir my ‘n video stuur van presies hoe ek moes maak en dit het my gehelp. Gered. En almal se hulp het my gered.

Ons as beesboere KI die beeste. (kunsmatige insiminasie). ‘n KI-handelaar het een keer vir my verduidelik dat as jy ‘n koei KI, jy een strooitjie gebruik, maar as die bul die koei dek, dit honderd strooitjies is. (Ek kan nie onthou of hy gesê het honderd of duisend nie, die feit van die saak is dat die bul ‘n klomp strooitjies gelyk uitstuur.)

Say no more. Die Covid-bul is ‘n ander storie.

Ek het my bloed laat trek en vir teenliggaampies laat toets. Twee weke gelede. Die uitslag? Ek het nog baie teenliggaampies. Daarom het ek gedink om nog ‘n rukkie te wag voor my inenting. Dalk eerder vir iemand anders wat dit regtig nodig het, die geleentheid gee.

Die ding is, ek weet nie waar en wanneer ek dit moet laat doen nie. Ons gependel maak dit regtig moeilik. Hier is nie noodwendig ‘n inentingsgeleentheid die een dag wat ek by die huis is nie. En om dit op die ander dorp te doen … dis of die administrasie daaromtrent nou net te veel is en ek hét dan teenliggaampies. En ja, ek weet ek kan dit steeds kry, want die mutasies verskil.

En dan vra die stemmetjie in my kop, en as jy dit kry en baie siek word, gaan die eerste wees wat hulle vra, of jy ingeënt is en dan gaan jy met ‘n rooi gesig moet sê, ‘nee, ek het beter geweet.’

Ek praat met die Here hieroor en die hele tyd is ek net nog nie oortuig nie. Tog het ek geweet dat ek sal weet wanneer die regte oomblik daar is.

Vanoggend kry ek die SMS: ‘You have been scheduled for vaccination on xxx at yyy.’

Ek is opgeroep.

En toevallig is dit op ‘n tyd en plek wat ek sal kan bywoon.

En ja, ek sal gaan.

Jou beurt is jou beurt.

Dit is seker maar die regte ding om te doen.

Toortsie

14 thoughts on “Ent

    1. Jip. En ek weet dat ek al met covid in aanraking was en was toe vir ‘n dag kopseerderig en keelseer, maar my teenliggaampies en die Here het my toe beskerm. Ek weet regtig nie of die inenting my enigsins meer kan bied as wat ek reeds het nie. En dan is jy chemies afhanklik daarvan.

      Liked by 2 people

  1. Ek voel ook amper soos jy. Gelukkig het ek nog nie covid gehad nie. Ek en my seun het al baie gepraat oor die toedien. Hy het bv n imuun siekte wat 50 persent kan terugkeer. as hy nou aan sy imuun sisteem getorring word kan daar n probleem kom. Weet steeds nie hoe of wat nie.

    Liked by 2 people

  2. Hoe mooi het jy dit geskryf, dankie hiervoor. Dit is en bly jou besluit. En ek dink dit is seker een van die beste vergelykings , as ek dit kan sê, tussen die C en KI😄😄. Briljant! En daarin lê die antwoord🤗🤗

    Liked by 1 person

  3. Jinne ja, Toortsie.Liewer ingeënt as om dalk jou agterent te sien omdat jy besluit het om nie te laat ent nie😃. Ek en Danie gaan ook Donderdag. Ons het ook intussen ons sms’e gekry. Ons loop mekaar dalk daar raak!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s