Ongemerk verslap ‘n mens

Soos wat ek eergister geskryf het, is dit nou al sewe jaar sedert ek begin Bant het. Ek het aanvanklik vinnig gewig verloor, maar oor tyd stadiger. My gewig het ook altyd gefluktueer, maar altyd op ‘n sekere plek gestabiliseer. Soms het ek 3 kg minder geweeg, soms 3 kg meer, maar altyd teruggekom na daardie punt toe.

Die afgelope twee jaar het die stabiliseringspunt egter verhoog, wat my baie bekommer het. Een van die redes was hormone, wat nou gelukkig uitgesorteer is en ek kon die verskil gou sien. Tog is die stabiliseringspunt in my gewig steeds nie waar dit altyd was nie.

Ek weet dat ek oor tyd verslap het wat sekere goedjies aanbetref. Ek het byvoorbeeld lui geraak om elke oggend eiers te bak en gryp sommer dubbelroom joghurt, pekanneute en ‘n vrug. Ja, die joghurt ís op die groenlys, maar joghurt word van melk gemaak, nie room nie, en melk bevat maar heelwat koolhidrate. Netso met die pekanneute wat ‘n mens maar versigtig moet wees om nie te veel te eet nie. En dan die vrug, wat gewoonlik ‘n bietjie kleiner is as wat die oranjelys voorskryf. En ek eet heelwat ingelegde groentes. Gelukkig wat ek self maak, maar dis nie vars nie. Ek is steeds nie heeltemal seker of dit ook taboe is nie, want alles wat ek daarin gooi, is op die groen lys.

Al die jare wat ek bant, wou ek nog graag die kursus doen om ‘n gesertifiseerde Bantingjuffrou te word. Sommer net vir myself. Vir kredietwaardigheid. Eers het ek nie geweet waar om aansoek te doen nie, want ek kom aanmekaar uit by die plek waar ‘n mens moet begin om te leer bant. Ek wou die ‘juffroukursus’ doen. Of, wanneer hulle dit aanbied, was dit op ‘n tyd wat ek dit nie kon doen nie, of het my geldsake my nie toegelaat nie, of dalk was ek nog heeltyd op ‘n verkeerde plek. In hierdie week kry ek ‘n e-pos dat die kursus nou teen halfprys aangebied word.

Dadelik stel ek belang. Ek sal nou die tyd kan inruim om dit te doen en die beste van alles is dat daar ‘n sperdatum is. Ek moet dit doen binne die volgende drie maande. Sperdatums is nie lekker nie, maar dis goed.

Die eerste wat ek aflaai, is die nuwe groen lys, oranje lys, rooi lys. Uhm, ek sal hierdie lyste ‘n slag weer moet goed bestudeer. Ek sien dat ek darem nie té ver van die pad af is nie, maar dat daar beslis plekkies is waar ek my sokkies sal moet optrek. Daar is ook nuwe items op die lys, of die lys is beter gespesifiseer as wat dit nog in die eerste uitgawe van The Real Meal Revolution was. Byvoorbeeld: Tuna in groente-olie is ‘n NEE. Okay, ek moet erken, groente-olies word genoem in die rooi boek. Ook sardiens in tamatiesous. Want tamatiesous is op die rooilys. Ag, en vis in krummels. Ja, ek koop dit darem gewoonlik nie, maar as die kleinkinders kom kuier … Spare Ribs … kunsmatig gegeurde tee …

O, en die oranje lys. In die rooi boek mag ‘n mens nog van die oranje lys geëet het. Natuurlik binne perke. Ek was altyd so geïrriteerd met mense wat ewe trots vertel dat hulle oranjelysitems uitsny en sommer suiwel ook. Dan wonder ek: Nou wat op aarde eet julle dan? Ek sien dat dit verander het en dat jy eers van die oranjelysitems mag eet as jy jou doelgewig bereik het. Ek dink dat ek soms ‘n bietjie baie van daardie lys af eet. Sien, kleine verslappinkies maak foutjies.

En ja, ek weet nog altyd van die Diet Coke. Jip. En dat hy nie regtig aanbeveel dat ‘n mens alkohol inneem nie.

Voor my Toortsie 3 hopelik in volgende week na die drukkers gaan, sal ek net gou met ‘n vergrootglas daardeur moet blaai, die lyste aanpas en hier en daar ietsie verander. Want ek mag mos nie vir my lesers van die wal af in die sloot inhelp nie, of hoe?

Toortsie

8 thoughts on “Ongemerk verslap ‘n mens

  1. Onthou net Toortsie dat ons gewig wel ‘n bietjie verander as ons ouer word 🙂 Ek het gelag oor die ‘sokkies optrek’ uitdrukking wat jy gebruik want net gister het ons daaroor gesels. In ons kinderdae, en selfs toe my seuns op laerskool was, het van die onderwysers ons aangemoed met ‘pull your socks up!’ Hierdie uitdrukking word nou selde gebruik en ons het gewonder of dit iets te doen het met die tipe sokkies wat seuns nou dra – hulle val nie so maklik af nie 🙂

    Liked by 1 person

    1. Idiome het heeltemal in onbruik geraak. In ons huis is idioom baie in gewone spreektaal gebruik, maar ek vind deesdae dat as ‘n mens in idioom praat, mense jou letterlik opneem en baie skeef opneem saam met dit. Ek dink ons taal verarm deesdae baie. Dalk het dit te doen met ons wat so Verengels? Of nie meer baie lees nie? Ja, ‘n mens se gewig verander, maar ek kan maar ‘n paar goedjies los. Soos, met ons gependel eet ons baie Kentucky (gif). Ek het altyd gesê ‘n stukkie Kentucky so af en toe sal nie skade doen nie, maar iewers steek ‘n mens ‘n lyn oor wat eerder moes gebly het.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s