En nou, noudat daar ‘n mate van kalmte gekom het in Natal en Gauteng en die rampokkers (wat ‘n mooi woord, ek het al heel daarvan vergeet, toe sien ek dat my neef dit op sy Facebook gebruik) ‘n bietjie laaglê, wat nou? Ons almal besef dat hier ‘n verandering moet kom, maar hoe? Ek weet ook nie. Regtig nie. Maar ek kan net my klein verskilletjie maak soos wat ek dink dit prakties gedoen kan word en as elkeen van ons sy klein verskilletjie maak soos wat hy dink in sy kop, maak dit dalk ‘n groot verskil.
Die groot klem bly maar op die groot verskil tussen rykes en armes. En dadelik kom die gedagte in my kop: Ons betaal mos belasting, is dit dan nie juis een van die maniere wat die mense wat meer verdien die armes help nie? Maar soos ons baie goed weet word die belasting nie oordeelkundig spandeer nie, ons weet van korrupsie, swak leierskap, ens en ek wil regtig nie my blog met ‘n gesprek hieroor besoedel nie. Nee, ek wil eerder hê dat ons prakties gaan dink: Hoe kan ek en jy help?
Die Bybel leer ons dat ons ons tiende moet gee. ‘Gee aan die keiser wat die keiser toekom (belasting) en gee aan God wat God toekom.’ God vra vir ons ons tiende van ons geld. Hy vra ook dat ons ons tyd tot Sy eer moet gebruik. Dit is nie die een of die ander nie.
In ‘n tyd wat ek dit regtig nie kon bekostig nie, in ‘n tyd wat ek letterlik elke sent ‘n paar keer moes omdraai, het God my baie duidelik gewys dat ek my tiende moes betaal. Ek het geantwoord: ‘Ek wil, Here, maar hoe? Ek kom dan nou nie eers uit met my geld nie, net vir basiese behoeftes?’ Hy het my daarop gewys dat ek aan die begin van die maand, die eerste geld wat ek uitgee, as tiende moet gee. Dit het my lewe verander. Nee, ek was nie skielik skatryk nie, maar ek kon koop dit wat ons nodig gehad het.
Nou ja, almal behoort nie aan ‘n kerk nie. Almal glo nie in God nie. As jy nie wil nie, hoef jy nie die tiende vir ‘n kerk te gee nie. Jy kan en mag self besluit waar jy dit wil aanwend. Wil jy dit aan ‘n organisasie soos die ACVV gee wat goeie werk doen? Of wat van geld vir ‘n sopkombuis in jou area? Dalk wil jy self die geld gebruik en leë joghurt- en fetakaasbakkies vol sopbestanddele maak en dit uitdeel. Of wat daarvan om ‘n kind ‘n beter toekoms te gee deur sy skoolgeld te betaal by ‘n beter skool waar hy beter onderrig kan kry? Dalk ‘n oumens se verblyf in ‘n ouetehuis finansier? Dalk het jy ‘n buitekamer wat jy nie meer nut voor het nie en kan jy dalk blyplek en kos vir iemand verskaf. Miskien kan jy hulp aanbied by ‘n sopkombuis? Wat van ekstra klasse gratis aan kinders aanbied – wiskunde, rekeningkunde, Afrikaans, Engels? Of iemand finansier om ‘n kursus oor die internet te doen en sodoende vir hom ‘n beter toekoms te bied? Iemand help om ‘n motor- of lorrielisensie te kry? Koop komberse en deel dit uit by die taxi-staanplekke.
Daar is soveel maniere. As ons wil goed doen aan ander, hoef ons glad nie ver te soek nie. Die nood is groot hier in ons land, dit weet ons almal.
Waar daar liefde en deernis is…. daar is die Heer… sing ons Sondae. So oorwin die goed die kwaad. Was hierdie ‘n kantelpunt? Hoeveel kanse kry ‘n nasie om homself aan die veters op te tel? Is daar enige ander land waar ek so deel van sy mense, sy verliese en sy oorwinnings sal voel? Wat is hierdie land anders as ‘n roeping? Ek rus in die arms van Hom wat al die antwoorde het. Ons is onrustig gerus en aktief hoopvol. Wees ons genadig, skenk aan ons U vrede. Thuma mina, stuur my.
Ons moet vandag begin. Nie môre nie. Vandag. Daar is nie meer tyd vir terugsit of uitstel of die verantwoordelikheid op iemand anders se skouers sit nie. Dis my en jou taak. Vandag nog.
Toortsie
Ek maak my klein verskil rondom my. Ons het n tuinwerker , n man wat al op pensioen is. Ons het hom nie nodig nie, maar dis deel van ons barmhartigheid . Ek wou hom finansieel bystaan maar om sy waardigheid te beskerm laat ons hom ligte werk rondom die huis doen
LikeLiked by 1 person
Dis wonderlik wat julle doen.
LikeLike
Jou wysheid is aanmoediging – dankie hiervoor, Toortsie.
LikeLiked by 1 person
🙂
LikeLike
Altyd goeie idees! Ek het n 10de koevertjie. Snaaks hoeveel geld jy het om te gee as jy so n koevertjie het.
LikeLiked by 1 person
Ja! Myne is net in ‘n bankrek, maar die idee is dieselfde. En dis so lekker om daaruit te gee. 😁❤️
LikeLike
Dit IS lekker!
LikeLiked by 1 person
Dis snaaks, jy kry ook nie seer as jy daaruit gee nie, want dit is mos eintlik nie meer joune nie. 😁
LikeLike
Presies!
LikeLiked by 1 person
Om te gee is baie lekker, want dit laat mens onmiddellik skatryk, goed en geseënd voel! Dankie vir jou skrywe.
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die inloer. Ja, mens voel dadelik skatryk, ongeag wie jy is.
LikeLiked by 1 person