Rebusfontein? Rustig?

Hierdie vorm deel van ‘n storie wat deur ‘n groep vroue, die Goue Vroue, geskryf word. Lees al die avonture hier: https://fresh.inlinkz.com/party/222c461d2afc4999aca03fa567cd84ea

Die katte en honde lê lekker uitgestrek en bak in die wintersonnetjie. Geluk is nie die woord nie. Hulle nonnas sit almal om die lang tafel en klets terwyl hulle so ‘n vreeslike lelike ding van die een na die ander rondskuif. Dit lyk of net die een wat die lelike ding vashou, praat. Blommetjie in haar veelkleurige jas wei te lekker, vanaand sal Una haar kom melk. Santie die donkie is ook dolgelukkig, daar is niks wat pla nie, net ‘n vlieg so hier en daar. Die seekoeitjie duik en swem in Rebus se dam.

Dan, skielik, kyk Danie op. Wat het nou gebeur? Waar is die Goue Vroue dan nou? Hulle is net weg! Verdwyn. Die volgende oomblik hoor hulle ‘n allervreeslikste lawaai soos wat hulle nog nooit gehoor het nie. En die grootste monsters kom op Rebusfontein afgestorm! Al wat kat, hond, hoender is, weet, hulle moet vlug! Vlug vir hulle lewe! Na die hoogste, moontlike punt van veiligheid! Na Frannie se toring!

Die olifante storm af op Rebusfontein se dammetjie. Seekoeitjie is in die wolke! Is seekoeie en olifante dan nie familie nie? Was dit dan nie ‘n seekoei wat ‘n krokodil beetgekry het aan sy neus en gerem en gerem en gerem het todat dit so ‘n lang slurp geword het nie? Dit is haar familie hierdie!

Net toe kom die volgende lawaai. Blouwildebeeste! Hulle vertrap al die blommetjies en groentetuintjies en sien die dam! Hulle is aan die migreer en weet dat hulle iewers deur water moet gaan. Hier is dit! Rebus se dam!

Blommetjie skrik haar melk en amper haar kleur ook weg! Santie storm vir die naaste boom om agter weg te kruip. Wat gaan aan? Wat is volgende?

Toortsie

28 thoughts on “Rebusfontein? Rustig?

    1. Ek het nou eers weer jou Rebusfonteintstorie ook gaan lees en dit so geniet. Ek wou daar kommentaar lewer, maar met my Apple moet ‘n mens eers inteken as jy die Inlinks volg. Dis hoekom ek graag ‘n fliek twee keer kyk en ‘n boek twee keer lees (deesdae is daar nie meer tyd nie), die tweede keer is nog baie lekkerder as die eerste een. Ek dink ek kyk dan rustiger en neem in.

      Like

Gesels saam, asseblief!