#proudlysouthafrican #trotsafrikaans

Met dit wat die afgelope paar dae in ons land gebeur, is die laaste ding wat jy seker wil skryf, #proudlysouthafrican of #trotsafrikaans.

Maar selfs die spinnekoppe en slange in die paradys maak die paradys minder mooi nie.

Ja, hier is baie wat verkeerd is in ons land, maar dit maak my nie ‘n minder trotse Suid-Afrikaner nie.

Want te midde van hierdie chaos en plundery en ons vrees en waarheen gaan ons land, wat gaan van ons land word, is daar mense wat opstaan. Wat nie saam plunder nie. Mense wat uit hulle eie begin opruim agter die barbare, soos wat hierdie mense doen volgens Faceboek:

Dit is mense soos hierdie wat my trots Suid-Afrikaans maak. Mense soos hulle wat my moed gee vir ons land. Dit is ‘n ingesteldheid soos wat hierdie mense het, wat maak dat Suid-Afrika steeds op sy bene staan, selfs al is dit erg wankelrige bene. Suid-Afrikaners het ‘n durf, waagmoed en uithouvermoë wat ons uniek en spesiaal maak, wat maak dat ons weer en weer opstaan, weer en weer probeer.

Maar, soos die Wêreldbank tereg gesê het, is hier dinge wat ernstig aandag moet kry: Daar moet dringend aandag gegee word dat kinders behoorlike onderrig kry en dat werkgewers mense makliker in diens kan neem en afdank. Behoorlike onderrig sal kinders beter toerus om hulle werk beter te doen. Nie ‘n klomp afgewaterde matrieksertifikate nie, maar behoorlike onderrig. En dan die probleem dat ‘n mense halwe mense in diens neem wat ‘n kwart mens se werk wil doen, maar behoorlik daarvoor betaal wil word en dan, as jy van die halwe mens wil ontslae raak, jy die wêreld se probleme op die hals dra.

Ek dink dat ons elkeen voor ons eie deur sal moet vee in hierdie situasie. Elke keer wat ek of jy op die selfoon sit en speel in werkstyd, is ons met presies dieselfde besig as hierdie plunderaars. As ons nie ons werk behoorlik doen nie, slap is, lui is … Elke keer wat ons ‘n werkspotlood in ons handsak sit, of ons kinders se skooltake in ons werkstyd doen met die besigheid se toerusting, papier, ens …

Dissipline is heeltemal by die agterdeur uit. Dissipline wat onsself aanbetref, maar ook die dissipline van ons kinders. Ons wag vir die onderwyser om ons kind aan te praat oor hy vloek en as hy dit wel doen, gryp ons hom aan sy oor, sleep hom hof toe, maak hom sleg op Facebook en die wêreldvol, want wie dink die onnie is hy dat hy my pragtige onskuldige bloedjie wil reghelp …

Dan wil ons ook geen verantwoordelikheid vir onsself neem nie. Ek weet nie iets nie, want my ma het my dit nooit geleer nie. My ma het vir my skeef aangekyk kleintyd, daarom … Niemand het dit of dat vir my geleer nie. Ook nie die kerk nie. Die kerk is alles wat verkeerd is. Probeer die kerk hom uitspreek oor enige ding wat my ongemaklik maak, is die kerk verkeerd. Sommer die kerkmense ook. Dan oordeel hulle. En ek mag ‘oordeel, oordeel’ skree soveel ek wil solank ek net nie geoordeel word nie. Maar ek vergeet dat ek maklik ‘google’ kan druk en enige ding wat ek sou of wou leer, daar kan kry …

Die Bybel sê in Spreuke 29:18: ‘Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder die volk.’

Ek dink ons moet elkeen ons eie sokkies optrek. Verandering begin by my.

Maar ja, ek is steeds trots Suid-Afrikaans. Selfs te midde van chaos. Want hier in ons land gebeur steeds soveel waarvoor ons trots kan en mag wees. Ons kan en sal dit maak. Ons kan.

Toortsie

17 thoughts on “#proudlysouthafrican #trotsafrikaans

        1. Baie dankie. Ek het mos ‘n volstruishouding en druk my kop in die grond in om nie ál die slegte nuus te hoor nie. Hier op die plaas het ons nie tv nie, so ek is gelukkig ‘n bietjie afgesny.

          Like

            1. My geaardheid en Die Nuus werk nie goed saam nie. My lewe lank nog nie. Dit ontstel my gewekdig en eintlik kan ek niks daaraan doen nie. Ek luister graag RSG, want jy hoor die hoofgebeure, maar nie so in detail altyd nie.

              Like

        2. Ek was tweedejaar op universiteit. Toe is ek en my broer en sy meisie op pad huis toe. En ons gee weer eens ons ma die skuld vir iets in ons lewe. Toe sê sy: Iewers in ‘n mens se lewe miet jy self vegin verantwoordelikheid neem. Dit was ‘n les wat ek altyd sal onthou.

          Like

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord