Ongelyk is nie gelyk nie

Die kleingoed mag vir hulle elkeen iets kies in die speelgoedry by die winkel. Boeta sien die karretjies raak, maar kies ‘n borrelgeweer. Sussa kies ‘n botteltjie borrels. Maar ouma lees die borrelgeweer as ‘n bubblegumgun, nie ‘n bubblegun nie. By die kassier aangekom, betaal ouma al die aankope: kruideniersware en lekkers en borrels.

Maar sussa is ongelukkig: Dis ‘unfair’, boeta het borrels én ‘n borrelgeweer, sy het net ‘n botteltjie borrels. Ouma het in haar kop dat daar wel twee botteltjies borrels ook in die sakke is. Ouma sê dis alles reg, sy mag ook ‘n borrelgeweer gaan haal. Ek bedoel, al kon elkeen uitkies wat hy en sy graag wou, is regverdig darem seker regverdig en as die storie eers ongelyk is, hoe op aarde kry jy dit weer gelyk?

Sussa kry nie die rak nie. Boeta gaan help ook soek. Ouma betaal maar solank die ander goed, ons kan mos nie die mense in die ry laat wag nie. Eers wil kredietkaartmasjien nie reg werk nie, uiteindelik is alles betaal en gaan die hele prosessie weer terug om die speelgoedrak te soek. Yesss! Gevind! Ons gaan staan in die ‘minder as tien items’-ry.

Maar boeta is ongelukkig. Hoe kan sussa dan ‘n borrelgeweer hê én ‘n ekstra bottel borrels en hy net ‘n borrelgeweer? Ouma het steeds in haar kop dat daar twee botteltjies borrels gekoop is en belowe dat ons net eers by die kar sal gaan kyk in die sakke. Ek bedoel, ongelyk is ongelyk.

By die kar aangekom, is daar net een botteltjie borrels. Hele prosessie terug, maar loer sommer by Crazy Store in. Hulle het net kleiner botteltjies en groter botteltjies, nie dieselfde botteltjies nie. Weer Checkers toe, koop die regte bottel …

Wat ‘n plesier! Ons het jare laas borrels gekoop, dit was of dit op ‘n tyd nie snaaks is nie. In die speelparkie word borrels gemaak van die hoogste plek in die wêreld af, daar word op die gras baljaar terwyl die borrels die wêreldvol waai. En tuis by oupa en ouma se huis is dit ‘n skouspel van borrels met die borrelgeweer. Ouma geniet haar gate-uit!

Ag, dis lekker om ouma te wees! Veral as die ongelykheid gelykgestel is! Maar met ‘n borrelgeweer hou ‘n bottel borrels net ‘n paar minute …

Toortsie

Inlinks skakel vir al die oupa- en oumastories: https://fresh.inlinkz.com/party/2808199db9894254b848ffd032d39e8c

26 thoughts on “Ongelyk is nie gelyk nie

  1. Dis wonderlik om die vermoë te hê om regverdigheid te bewerkstellig, Toortsie. Die lewe self is nie aldag regverdig nie. Siestog en toe was die borrelende vreugde kortstondig. ‘n Oomblik se vreugde is soveel beter as ‘n lewenslange herinnering van onregverdigheid, né.

    Liked by 1 person

    1. Nee, nee, hulle het darem ‘n lekker stuk gespeel en onthou, die spaarbottels is ook daar en dan is daar darem iets soos skuimbad en handwasmiddel en en en … Ons gaan die oomblik uitrek so lank as wat ons kan. Ja nee wat, die lewe is regtig nie altyd regverdig nie, maar ouma sal ouma se kant probeer bring om dit so regverdig as moontlik te maak. 🙂

      Like

  2. Ek stem saam, dit IS lekker om ouma te wees – en makliker om sulke ongelykheid reg te maak omdat ons kan. Jammer dat die borreltjies so gou opgeraak het. Sunlight Liquid en water werk ook lekker.

    Liked by 1 person

    1. Ja, maar eintlik het elkeen vrye keuse gehad. Lesvir ouma: laat hulle daar in die winkelrak kyk wat die ander een gekoop het. Een kry altyd lus vir die ander se keuse.

      Like

    1. Ons het mos baie meer geduld met die kleinkinders as wat ons met ons kinders gehad het. Toe was daar soveel wat gedoen moes word. Ondat ek hulle nie só baie sien nie, is dit vir my prioriteit dat as hulle kom kuier ek nie regtig moet probeer om iets anders te doen nie. Vir die volle week het hulle amper al my aandag en dit maak dat die geduld aansienlik langer is. Die dag moet ook op ‘n manier omgaan. 😁

      Like

    1. Selfs die koopervaring was eintlik ‘n beloning, net om dit saam met hulle te beleef maak dit mos besonders. Interessant hou die koppies werk. Hulle help my soek en pak goedjies in die waentjie. Ons kruideniersware is ook rondom hulle geskoei en hulle moet kies volgens hulle smaak.

      Like

Gesels saam, asseblief!