Daar is twee soorte mense

Pointless Overthinking sê daar is twee soorte mense: 1) Hulle wat hou van die stabiliteit en veiligheid van ‘n vaste blyplek kry, ‘n vaste werk, nes skrop en 2) Hulle wat lewenslank nomades sal bly. Wat ‘n onrustigheid in hulle het en altyd nuwe dinge wil ervaar en ondersoek. Hy is een van die tweede groep.

‘n Mens kan natuurlik die ‘daar is twee soorte mense’ baie verder deurtrek: Daar is die ekstroverte en die introverte, die praters en die luisteraars, hulle wat lief is vir diere teenoor hulle wat lief is vir mense, ag, so kan ‘n mens aanhou en aanhou. En natuurlik is daar altyd die uitsonderings, of hulle wat ‘n mengsel is van die ‘twee soorte mense’. Soos ek wat soms ‘n ekstrovert is en soms introvert.

Gekyk na die twee soorte mense wat hy noem: Die wat hou daarvan om gevestig te wees teenoor dié wat lewenslank nomades sal wees. As jy my sal klassifiseer, is ek seker in die eerste groep, dit is hoe ek grootgeword het. As boerekind het ek geleer om lief te wees vir my plek, hier waar my wortels geskiet het. Ek wil naby my familie wees, selfs al kuier ons nie heeldag oor en weer nie. Tog het ons in ons boerdery soms baie groot gewaag en grond verkoop en ander grond gekoop en getrek en weer begin op ‘n ander plek. Dit het natuurlik ‘n uitdaging van sy eie. Nie net ‘n uitdaging nie, baie uitdagings. Groot uitdagings.

Maar aan die ander kant is daar ‘n stukkie nomade ook in my. Ek vermoed dat ek dalk eerder net ‘n geweldige wanderlust het, meer as die deursnee mens. So dalk kan ek sê: Daar is twee soort mense: hulle wat graag reis teenoor hulle wat verkies om tuis te bly. Ag, en dan is daar mos baie mense wie se omstandighede dit nie vir hulle moontlik maak om te reis nie, al sou hulle dalk eerder reisigers wou wees.

Ek bewonder die nomades. Hulle wat ‘lig reis’. Hulle wat maklik hulle tentpenne optrek en na ‘n nuwe plek gaan om daar te gaan woon vir ‘n ruk. Wanneer ek raaklees van mense wat in ‘n karavaan leef van dorp na dorp en van daar oor die internet hulle werk doen, kriewel my tone en dink ek dat dit wonderlik moet wees.

Maar dan roep die stemmetjie in my hart my tog, die een wat maar hou van ‘n bietjie standvastigheid hê, ‘n plekkie onder my voete wat stewig staan. En dan is ek dankbaar dat daar vir my só ‘n plekkie gegun is. Dalk is hier soveel onnodighede in my huis waarsonder ek kon klaarkom, maar dit is dinge wat my lewe inkleur. Dinge wat my toelaat om my so wye verskeidenheid van belangstellings te voed.

Toortsie

23 thoughts on “Daar is twee soorte mense

  1. Eintlik tussen die twee soorte mense is daar n derde soor wat gelykmatig is as mens dit so kan noem. Hou van vastigheid en ook avontuur. Hou van diere en mense op dieselfde manier. As dit bv van my af gehang het sou ek werklik op een plek wil bly. Steeds naby familie en vriende. Dis nie altyd so maklik nie.

    Liked by 1 person

  2. Ek hou van standvastigheid, maar dit is half onmoontlik as mens met ‘n mynman getroud is – een wat trappies geklim het. dan lig jy die penne, trek saam, maak dit vir hom maklik en is jy dankbaar dat daar ‘n rivierhuis is waar jy weer kan ontspan.

    Liked by 1 person

  3. Ek het soveel keer my penne gelig….gedink ek is so gebore. Toe bly ek vir 16jr in een huis….die langste keer nog….en val uitmekaar toe ek weer moet penne lig…sê baie vir my sogenaamde nomade bloed

    Liked by 1 person

    1. Ek het ná ons troue elke 3 jaar getrek en dit was goed so. Toe bly ons 9 jaar en 19 jaar. Elke keer was die trek moeiliker. Maar die 2 jaar wat ons in ‘n tydelike huis gebly het voor waar ons nou woon, kan ek amper nie eers onthou nie.

      Like

  4. Ek verkies om op een plek te bly, maar baie te reis. Ek hou ook daarvan om lank op ń ander plek te bly, nie te veel te moet rondtoer nie. Soos as ek Italië toe gaan, wil ek 10 dae in Rome bly en op my eie tyd die plek ontdek. Ek is dus nie ń gereëlde toermens nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!