Nou is dit regtig my beurt

Die Goue Vroue is ‘n handjievol Suid-Afrikaanse vroue – oud en jonk – wat lief is vir skryf.  Ons is geanker in die werklikheid, maar spoor mekaar met bloguitdagings aan om te fantaseer.  “The Talking Stick” dien in hierdie geval as inspirasie tot wonderbaarlike stories…elke Goue Vrou kry haar beurt.  Hierdie rondte pak ons in alfabetiese volgorde aan.

Dit werk so: as jy die praatstok vashou is dit jóú beurt! Jy praat en die ander moet luister sonder om jou in die rede te val. As jy klaar is met jou storie, gee jy die praatstok vir die volgende persoon aan. (Hierdie konsep is deur Stephen en Franklin Covey in hulle kursusse tot meer effektiwiteit benut om empatieke luister te bevorder).

Volg hierdie skakel as jy ons Goue Vroue se stories in volgorde wil lees:
https://fresh.inlinkz.com/party/fe16b378ba494670a41c59177986b352

Frannie gee vir my die praatstok. Uiteindelik is dit my beurt. My kop het al oortyd gewerk, waaroor sal ek tog praat? En die regte gedagte wil net nie kom nie. Ek het die praatstok al so bekyk, die arme mannetjie wat dit vashou is ook al moedeloos met ons, maar daardie sandjies vloei baie vinniger as my woorde en ek moet julle sê, dít wil gedoen wees!

Ag, en soos altyd, wanneer ek nie weet waaroor om te praat nie, praat ek sommer oor my geliefde Goue Vroue. Wat ‘n kosbare groep! ‘n Groep met ‘n klomp dinamiese, positiewe vroue, maar tipies van enige groep, ‘n groep met ‘n verskeidenheid van persoonlikhede. Die stilles, die lawwes die ordentlikes, die waaghalsigers, die fyn opgevoedes … en ek. Sommige van ons babbel heeldag, ander sê amper nie ‘n woord nie. Party is so besig met Goue Vrou wees, jy kan haar nie mis nie, ander is besig met die lewe, en dit is ook reg. O, en die ongelooflike ondersteuningsnetwerk van hierdie groep vroue kan nie genoeg beklemtoon word nie. Ek dink met dankbaarheid terug hoe die Goue Vroue my al deur krisisse gedra het en nie net vir my nie, vir elkeen van ons wanneer ons dit nodig het. Of ons nou in Suid-Afrika is of in ‘n verre land, wanneer ons ondersteuning nodig gehad het, kon ons op die Goue Vroue staatmaak. Soos die keer toe Una se kinders van Bali af moes kom in die grendeltyd en dan is daar ‘n vliegtuig en dan nie en uiteindelik kom hulle en ons almal volg daai vliegtuig asof dit ons eie kinders is en dan moet die vliegtuig land, maar hy land eers twee ure later … en toe …

Ek vang Una se oog, sy ken my so goed. Want sien, ons blog al vir jare saam. Baie jare. Ek moet al rondom die tien jaar blog, Seegogga ook, Una nie veel minder nie. Haar oë is groot. Wil sy vir my iets sein met haar oë? Maar dis nou my beurt. Una. Weet julle dat ek haar die eerste keer ontmoet het in Pretoria saam met Kameel toe ek kom Capital Singers sing het? Sy het al die pad gery om vir my te kom hello sê! Ek het gedink dat dit baie kosbaar is, maar het nog nie geweet hóé kosbaar die Goues kan wees nie.

Want VirgoC het vir my een keer gesê dat sy saam met my wil koffie drink en ek het gewonder, nou wanneer wil jy dít doen? Jy sit daar verrrr in die vreemde en jou familie is in die Transvaal so hoe op aarde gaan ons die koffie gedrink kry? Maar nee, vir Virgo moet jy nie onderskat nie. Sommer net kort daarná kom sy al die pad van die woestyn af, gryp haar boetie en sy vroutjie en kom al die pad na Napier! Ja, Napier! Net 16 km van my en Seegogga af. Manne, toe kuier ons darem ‘n hond uit ‘n bos uit, of soos my skoonseun sou sê, ‘n bos uit ‘n hond uit. Kosbaar, né? En die einste Virgo is een van die stilles op die blogs, ‘n mens sien haar min, maar as sy die slag praat, kan ‘n mens maar luister, hoor. Dan kom die diepste en mooiste dinge denkbaar.

Van kuier gepraat. Een van my hoogtepuntdae was toe Frannie en haar vriendin een dag vir my en Seegogga kom kuier het. Ai toggie, en ons twee wat gewoond is aan Bredasdorp se wind en weer, neem hulle sowaar in die koue weer na die suidpunt van Afrika. Maar die regte dame wat Frannie is, het sy nie een oomblik gewys dat die reëndruppeltjies haar pla nie.

Sonell is die pragtige, jongste een in ons groep. Maar ons hoor en sien haar amper nooit en dit maak ook nie saak ie. Want Sonell is nou daar waar ons ook al was: dis werk en huis en kinders en en en en vannag as jy uit eindelik in die bed kom, is jy so stokflou, jy wil net slaap. Of, dit is waar ek al was? En dis reg so. Dit is nou die tyd van die lewe wat dit so gaan en ek gun dit vir haar. Maar soms wys sy haar liewe gesiggie en is ons so bly en geniet ons die oomblik.

San is ons nuwe lid, ek ken haar nog nie so goed nie, maar gee tyd, een van die dae … Maar of jy nou al vir hoeveel jaar ‘n Goue Vrou is of net ‘n dag of twee, dit maak nie saak nie. Dan is jy ‘n volwaardige Goue Vrou en soos Aalsie, met die twee buffies te pragtig om haar kop gedrapeer, altyd sê, Een vir almal en almal vir een. Ek het mos ‘n verbintenis met Aalsie. Ons is mos eintlik familie. Want sien, my ma het op die rype ouderdom van 76 met haar man se pa, toe 85, getrou! Ek was so trots op hulle dat hulle dit gedoen het, want my kinders was toe op ‘n brose ouderdom en ouma wys toe vir hulle dat sy steeds die huwelik eer. Wat ‘n voorbeeld. Maar ek en Aalsie is ook saam in die VLV en ons is altwee Amigo’s. By die Amigo’s brei ons saam, hekel ons, borduur ons, kekkel ons …

Van familie gepraat, ek en Appeltjie is mos ook nou familie. Nee, ons was nie altyd familie nie, maar ons is nou, want sien … Weet julle dat ek en Appeltjie mekaar reeds sedert standerd twee ken? Ons was saam in die klas en later saam in die koshuis, selfs by tye saam in die groot kamer. Arme Appeltjie. Ek en Appeltjie was redelik sterk in dieselfde dinge, maar ek dink sy het ‘n bietjie beter netbal gespeel as ek. Ons skool het agt netbalspanne gehad, ek was in die agtste span en in matriek het ek gevorder tot die sesde span. Maar ek het sommer gaan musiek oefen in netbaltyd, dit het baie beter gewerk. Toe een dag kom ek toevallig in netbaltyd met my hoë hakke en sykouse en musiekboeke uit die skool gestap en hulle soek kandidate en roep my, toe maak ek maar gou span vol met daardie outfitjie en al. Julle! ek kan my darem vir ‘n grap laat vat!

Ek en Seegogga is mos ‘n tweeling. Nie van dieselfde ma en pa nie, maar ‘n tweeling wel. Al verskil is, sy kan geweldig mooi skilder en weet baie beter van kleure bymekaar sit as ek. Maar ek is mal oor haar sommer net sy wees en nie worrie wat die ander mense dink nie. Sy is ‘n juweel, hoor, maar julle weet dit mos. Ek sukkel ‘n bietjie om my lag in te hou, sy het haar buffie oor haar mond getrek.

Al sien ons vir Positief min op die blogs, beteken dit nie dat sy afwesig is nie. Wanneer sy so vertel van hulle bokboerdery, dan kry ek so ‘n glimlag van genoegdoening. En weet julle hoe mooi sy kan hekel?

Christa het ons leer ken toe sy in Kazakstan was en sy het ons lewe soveel verryk met al haar stories uit daardie pragtige wêreld. Ons was so dankbaar toe die grendelreëls soveel verlig is dat sy en haar man kon terugkom Suid-Afrika toe. Sy het tot in haar artikel in Die Sarie van ons vertel! Manne, ons raak beroemd! 🙂

WoordNoot is ‘n kosbaarheid vanself en het so pas die groot omwenteling van afskaal ervaar, iets wat ons almal seker een of ander tyd in ons lewe moet doen. Na ‘n kleiner plekkie trek. Maar WoordNoot het veerkragtigheid en is al weer klaar besig om haar plekkie hare te maak. Want sien, Home is where the heart is.

Trommeltjies het ek op die blogs ontmoet. En toe, op die wonderbaarlikste manier, in lewende lywe. En soos dit regte Goue Vroue betaam, koop ons toe vir ons twee erfies in die Baviaansberg, styf langs mekaar. As jy eers saam oor die Baviaansberge is …

Ag tog, ek het nog so baie om te vertel, soos van ons Whattsappgroepie waar die dinge gebeur en jy groot verloor as jy nie daarop is nie, maar die sandjies het deurgeloop. WoordNoot, dis nou jou beurt!

Toortsie

30 thoughts on “Nou is dit regtig my beurt

  1. Jy sien, ek luister altyd as iemand oor ons groep GV praat! Jy het ons omtrent teruggevat na ons beginjare, Toortsie, en my klaar weer trane in die oë laat kry. Dankie dat jy so ń opregte vriendin vir ons almal is.

    Liked by 2 people

  2. Ag dit was nou so lekker om te lees. Ek glo ook aan een vir almal en almal vir een. Ek het nog nooit negatiewe vibes by die Goue Vroue gekry nie. Party stil, party baie aktief, party neem aan alles deel, party min, maar ek besef dat ons almal ook ons eie goeters het, en dit pla my nie, want sien ons is nie net ‘n Goue Vroue skryfgroepie nie, ons is ook mense, meestal baie besig. Niemand hier is ook onder verpligting om enigiets te doen nie. Ons is nie n rugbyspan of n skoolgroep nie. Jy kry wel ‘n geleentheid om jou brein se kreatiewe selle te gebruik as jy so voel, en ek is stomgeslaan deur die wonderlike goed wag hier uitkom. Grootmense speel sowaar meer verbeeldingryk as kindertjies! Daarom is ek so dankbaar en voel so bevoorreg om deel te kan wees, en daarom wou ek vir julle elkeen n presentjie gee. En aangesien ek baie moes laat maak, lê hier nog n hele paar vir nuwe Goue Vroue wat in die toekoms dalk wil saamskryf. Maar wag:WAAR IS MY BUFF? EK MOET HOM AS MUILBAND GEBRUIK. NOU!

    Liked by 2 people

  3. O wee!!!!! My beurt? Toorts, is jy seker? Is dit nie dalk Trommels se beurt voor my nie. Nou is ek konfoes!!! Laat ek net gou daai rooster gaan check

    Liked by 1 person

  4. Wat ń besonderse loop saam met jou oor die Baviaans, al moes ek halfpad stop. My voet herinner my gereeld aan my donkie-val. Ons het ook so lekker by jou huis gekuier waar jy ons omtrent onthaal het. O ja en by jou see huis, toe kon ek nog van jou familie ontmoet en honde kinders. Dankie Toortsie vir jou liefdevolle omgee hart. Lekker gelees.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s