My eerste oorsese vlug

Twee totaal verskillende mense en gesprekke het my gedagtes na hierdie vlug geneem. Die een is ‘n oud-lugwaardinvriendin wat gepraat het oor vliegtuigkos. Die ander een was die RSG-aanbieder vandag wat iets gepraat het van jou eerste oorsese vlug.

Ek was ‘n volle 21 jaar toe ek die wonderlike voorreg gehad het om oorsee te mag reis. Dit was in die 1980’s. Noord van Suid-Afrika was vyandige gebied en SAL kon nie oor Afrika vlieg nie. Om dus in Tel Aviv in Israel te kom, het ons as volg gevlieg: Kaapstad Johannesburg Lissabon Londen Rome Athene Tel Aviv.

Dit was binnelands tot in Johannesburg. Daarvandaan het ons met dieselfde vliegtuig al die pad gevlieg. By elkeen van die stoppe moes ons bly sit en mag ons nie afgeklim het nie. Dan is passasiers afgelaai, kos opgelaai en het die vliegtuig al hoe leëer geraak totdat ons later hele banke vir onsself gehad het waarop ons kon lê en slaap.

Die probleem was dat daar iets was met die vliegtuig wat die loods bekommerd gemaak het. SAL was daardie tyd gereken as die tweede veiligste lugdiens in die wêreld naas Israel en sou niks doen om hulle passasiers in gevaar te stel nie.

Dus het ons in Johannesburg nadat ons reeds opgeklom het, nog drie ure gewag sodat hulle die fout kon herstel. Aandete was al klaar bedien en opgeëet voor ons opgestyg het!

Daarná, by elke lughawe op ons roete was dit dieselfde storie. Ure op die grond om die fout reg te stel. Om ons as passasiers gelukkig te hou, het hulle telkemale nog kos aangedra. Gelukkig was vliegtuigkos toe nog behoorlike kos, maar regtig, Chicken or Beef is net vir so lank snaaks.

Ek dink dit het meer as 36 ure geneem vandat ons opgeklim het tot ons uiteindelik die vliegtuig veilig kon verlaat. Arme AB en ATA het toe al die heeldag op die lughawe in Tel Aviv vir ons sit en wag.

Gelukkig het alles tog goed gegaan. Eind goed, alles goed. Dit was ‘n wonderlike toer!

Toortsie

14 thoughts on “My eerste oorsese vlug

  1. Dis nou n lekker ding om oor te skryf. As jy nie omgee nie gaan ek sommer my Maandag is wasdag by jou stuk aanhaak. Daars n paar ekstra vliegondervindings wat hierby gevoeg kan word. Was omtrent n leeftyd se vlieg veral omdat jul as suid Afrikaners nie mog uitklim nie.

    Liked by 1 person

  2. As ek dink hoe lank dit voel as mens die eerste keer na ‘n TV advertensie kyk,teenoor die kere wat jy dit weer sien dan moes die kontras tussen jou heel eerste, uitgerekte vlug en die tjoef tjaf retoervlug gróót gewees het,Toortsie.

    Liked by 1 person

    1. Dit was massief! Terug het ons uit Switserland direk gevlieg. Hoeveel ure sou dit wees? 7 of 9? Zurich-Johannesburg? Dink nie dit sou direk tot in Kaapstad gewees het nie.

      Like

Gesels saam, asseblief!