Apatie is ‘n dief

Apatie is ‘n dief wat by jou steel, baie keer dit wat vir jou die belangrikste in die lewe is. Ek weet nie van jou nie, maar ek maak my skuldig aan apatie. Baie keer. En dan, op ‘n dag hoor ek dat dit wat eintlik vir my belangrik is, maar waarby ek nie so gereeld uitkom nie, toemaak. Nie meer bestaansreg het nie. En ek het dit nooit geweet nie! En as ek geweet het, sou ek dalk meer aandag daaraan gegee het.

Dalk is dit ‘n vriendskap. ‘n Persoon by wie ek net nie uitkom nie. Dalk het jy die laaste keer wat jy by die persoon gekuier het, nie so lekker gekuier nie en nou het jy lank weggebly. Nie gebel nie. En dan hoor jy terloops by iemand dat die persoon deur diep dinge gegaan het en jy het nie geweet nie en as jy geweet het sou jy dalk iets gedoen het of meer sensitief gewees het … Dit kom my oor.

O, en toe die kinders nog in die skool was – daardie beheerraadverkiesings. Ons weet mos in elk geval wie gaan inkom, dit is mos maar eintlik altyd dieselfde mense: Koos en Piet en Klaas. Watter verskil gaan my ou stemmetjie nou regtig maak? So het ek een keer in ‘n baie betroubare bron gelees van ‘n skool hier in Suid-Afrika wat ‘n beheerraadsverkiesing gehou het. Daar was ‘n minderheidsgroep wat ‘n heeltemal aweregse beleid gehad het, wat ook ‘n paar mense benoem het vir die beheerraad. Niemand het veel ag geslaan daarop nie. Min mense het die beheerraadsverkiesing bygewoon. Daardie minderheidsgroep was voltallig, het gestem vir hulle mense en al hulle mense het ingekom – genoeg om die beherende stem te kry op die beheerraad. Binne ‘n paar maande het hulle onderwysers vervang met hulle mense, ook die hoof en binne ‘n baie kort tydjie, minder as ‘n jaar, het die skool se beleid, sy atmosfeer, sy manier van doen, totaal verander. Tot skok en verbystering van sy meerderheid ouers – en hulle kon niks doen nie.

Covid het veroorsaak dat ons nie meer in groepe mag saamkom nie. Kerke het begin om op Youtube dienste te hou. Eintlik was dit so lekker, ons kon binne die gemak van ons huise die kerkdienste ‘bywoon’. Nagmaal met ons eie glasie soetwyn en stukkie brood geniet. Sommer in ons pajamas. Ons het dalk selfs begin om ‘beter’ predikers te volg en te luister en toe die kerke weer oopgaan, het ons reeds in ‘n nuwe gewoonte verval. Ons luister sommer oor die radio. Of op ons selfoon. Of op die televisie. Dis nie dat ons ‘n probleem met die kerk het nie, ons doen dit nou net anders … en ons besef nie dat die kerk ons bywoning nodig het nie … ons besef nie dat ons kerk swaarkry nie … en wanneer ons kerk dan ‘n noodkreet van hulp uitskree, is ons geskok en verstaan ons nie regtig wat hy vir ons wil sê nie …

Ek en jy het soms nodig om introspeksie te doen en te kyk wat regtig vir ons belangrik is voordat ons dalk dit verloor, voordat dit dalk onder ons vingers uitglip en dit nie regtig was wat ons wou hê nie.

Toortsie

24 thoughts on “Apatie is ‘n dief

  1. Jy praat so na my hart. Ek wil byvoeg dat aanlyn kerk nie dieselfde is nie. My kerk het sommer twee weke gelede reeds besluit dat die kerk toe is. Ds het Covid gekry, maar ons het nog altyd plaasvervanger gekry as hy siek of op verlof is. Nou is kerk sommer net toe. En toe maak die regering dit weer toe – sonder dat ‘n haan kraai. Want wie gaan nou kraai as hy self besluit het om toe te maak. Die ding staan vir my nou net so – as ek op TV moet kyk, kan ek sommer na ander dominees ook kyk. Ons kerk maak verkorte video’s elke week, maar dit is nie dielsefde nie. Ek mis die sang, ens. En dit laat my vermoed dat ek na ‘n kerk gaan soek wat nie deur ‘n regering toegemaak kan word nie.

    Liked by 1 person

    1. Jy was nog altyd lief vir jou kerk. ❤️ Ons s’n was nog oop tot gister. Nou ook tydelik toe. Lyk my ons sal ondergronds moet gaan. Ek moet sê dat ek nou ook gesê het dat ons bybelstudiegroep ook ‘n bietjie moet laag lê. Sjoe dis ‘n moeilike een hierdie.

      Liked by 1 person

  2. Ek was gister in ons kerk nadat hulle vir 2 weke toe was omdat die pastoor-gesin covid gekry het. Ek en Bertus mis nie sommer ń diens nie, en soos jy sê, dis soms die enigste plek waar ons sekere mense te siene kry. Ons moet ń punt daarvan maak om dinge by te woon, glo ek, al voel mens jou stem tel nie eintlik nie.

    Liked by 1 person

  3. Ek praat nie sommer uit oor my gevoel oor godsdiens en die kerk nie. Jy skryf hier beslis die waarheid oor hou sekere groepe of mense in stilte ondergrawers is en dan suksevol is ook omdat die meeste mense nie belangstel om betrokke te raak nie. Dis nou oor die verkiesing en besluite wat geneem moet word. As niemand hul mond oopmaak sal die oorname glad verloop en dan wonder ons hoe kry hul dit reg. Die weer is besig om te versleg hier. Koue en sneeu is nou naby.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s