Mevrou Verstrooid

‘Ietwat verstrooid soms’ het iemand een keer op my papiertjie geskryf. Ons moes in ons bybelstudiegroep waar ons mekaar vertrou, ‘n papier in die rondte omstuur met ‘n + aan die een kant en ‘n – aan die ander kant. Dít was die minus wat iemand vir my geskryf het. Ietwat verstrooid soms. Ek het dit heel prettig gevind.

Ja, wel, verstrooid is ek sekerlik verstrooid. Of dalk nie? Dalk kom ek baie keer meer verstrooid voor as wat ek is. En nou wil ek hier in my binneste ‘n bietjie lekkerkry. Want as iemand hardkoppig my só wil brandmerk en verkies om my só te sien, is die kans goed dat hy hom met my misgis. En dan kry ek nóg lekkerder. Want ek hét al gewonder as iemand herhaaldelik daarop hamer op ‘n tydstip wat sy nie regtig rede daartoe het nie en ek eintlik die teendeel bewys het, of sy dalk bedreig voel en probeer om my van my spoor af te kry deur dit herhaaldelik te noem?

Dit is geen geheim dat ek al my eie naam vergeet het en myself as iemand anders voorgestel het, net om twintig minute later te onthou dat ek regtig nie Elsie is nie, maar Toortsie. En my kinders hét geleer om hulle maats vooraf te waarsku dat wanneer hulle by die huis aankom, ek verbaas mag lyk om die maatjie te sien, maar dat ek regtig weet dat hy kom. Of as ek ‘n klomp vriende vir ‘n partytjie nooi, ek teen die tyd dat die gaste opdaag, nie kan onthou vir wie ek genooi het nie en dan heerlik verras word. Of, as jy vir my skielik ‘n resep vra wat ek baie keer maak, ek dit nie doelbewus vergeet omdat ek dit nie wil gee nie, maar dat ek regtig moet konsentreer om te dink wát moontlik daarin kan kom.

Links: die normale brein. Regs: die ADHD brein. https://www.additudemag.com/secrets-of-the-adhd-brain/

Ek wonder baie keer: Wat maak ‘n ‘normale’ persoon in ‘n situasie soos wat ek kort gelede in een week ervaar het: Eerstens was dit loneweek, wat ek eintlik moordweek noem, omdat dit gewoonlik rof gaan en ek nie vooraf weet watter moontlike hekkies in die pad gaan wees wat my probeer pootjie nie. (Lone neem gewoonlik twee volle dae). Terselfdertyd het ek ‘n paar weke tevore vir ‘n borduurkursus van vier dae ingeskryf waarvan die datum nog nie vasgestel was nie. Toe die datum uitkom, is dit die Woensdag tot die Saterdag van daardie selfde loneweek. Ek doen my beplanning goed: Ek sal die Maandag die twee-en-‘n-halfuur-pendeplad ry, die lone-inligting inlees, die Dinsdag terugkom en die lone doen sodat ek die res van die week daagliks die borduurkursus kan bywoon en die huiswerk kan doen daarvoor saans soos wat verlang word. Dan, die Donderdagnag sal ek die lone oorbetaal. As alles goed uitwerk, kan dit werk.

Maar intussen breek my 92-jarige ma haar heup drie weke voor hierdie betrokke loneweek. Dus, tussen die gependel deur, moet ek haar ook ondersteun in ‘n hospitaal net mooi in die teenoorgestelde rigting van waarheen ek pendel. Laat weet hulle vir my twee weke ná die operasie dat hulle niks meer kan doen nie en moet sy terugkom huis toe waar ek graag haar laaste dae saam met haar wil deurbring. Intussen moet die hele 60×60 cm fyngeweefde lap elke twintigste ry in blokkies geryg word. Dis nou behalwe die normale dinge wat ek doen. Ja, die borduur hét ek oor myself gebring. Moet my ma se woonstel begin ontruim word, want sy gaan nou in die siekeboegsaal lê.

Die Maandag van die betrokke lone/borduurweek wat ek so fyn beplan het, net toe ek alles reg het en gou ‘n uur by my ma sit voor ek die beplande rit doen, lui die telefoon dat dit goed sal wees as ek na my ma toe kom, die einde is naby. Ek sit daar tot die aand agt uur, kom huis toe om te slaap, om die volgende oggend agt uur weer op my pos voor haar bed te wees.

Intussen het my man een van sy werkers met die lonestokkies gestuur sodat ek daar voor die hospitaalbed kan aangaan met die werk …

Die goedbeplande lone/borduurweek kry nóg stertjies by, soos ouetehuisbed, ‘n skielike, onbeplande rit van twee-en-‘n-halfuur plaas toe en twee-en-‘n-halfuur terug wat toe wel moes gebeur, ‘n moeder wat sterf, beurtkrag wat keer op keer gebeur die oomblik as ek by my rekenaar gaan sit, begrafnisreëlings, baie whattsapp- en faceboekboodskappe, huis regmaak vir die familie wat kom, wel een-en-‘n-halwe dag laat by die borduurkursus opdaag om darem net íets daarvan te leer en ervaar en sommer net ‘n bietjie te ontspan tussen die geharwar.

Asof dit nie genoeg is nie, is ons kar se battery ook nog pap die Vrydagoggend en moes een van die borduursters my kom haal. Maar net vóór dit het ek die oefenlappie hanteer. Toe ek by die borduurklas aankom, is my borduurwerk nie in die sak nie. Kar leen, borduurgoed kom haal. By huis aangekom, is die sekuriteitsmaatskappy daar, want die honde het die alarm geaktiveer. Borduurgoed totaal verlore, want toe ek dit hanteer het, het een van die werkers geskakel, daar is ‘n fout met sy loon. Rekenaar toe, fout gesoek, geen fout, hom teruggebel om te verduidelik wat gebeur het. Ná ‘n gesoek ontdek ek toe die lappie by die rekenaar. Terug in die geleende kar, onthou ek het die alarm vergeet, want tóé is ek nie eers meer in een van die kolletjies in die regterkantste brein nie en voel ek angstig verward.

Terug by die borduurklas waar ek die vorige middag myself oortref het, maar met ‘n nuwe lappie wat ek die nag oorgedoen het omdat ek ‘n fout gemaak het daarmee. Snap dadelik wat ek moet doen, doen die borduurwerk, kry my lesse, help die persoon langs my … maar tog hoor ek grappenderwys uit dieselfde ander mond twee keer die woord verstrooid by die geleentheid … ??

Ja, toe wás ek totaal verstrooid op daardie oomblik. Of so mag dit voorgekom het. Maar was ek? Was ek regtig? Want, lyk my ‘verstrooidheid’ dalk net so omdat ek op daardie oomblik 100% op iets anders fokus en dan daardie iets anders korrek afhandel? Of was my brein dalk net een honderd persent oorlaai? En ís my ooglopende ‘verstrooidheid’ werklik ‘n tekortkoming, of dalk juis nie?

Toortsie

Ns. Ek hét die week oorleef al was dit rof verby. Die lone is gedoen en betaal, ek het ‘n stukkie hardanger werk geleer, ek het een middagete vir die borduursters voorsien en afgelewer, moeder is ondersteun langs haar sterfbed en die byeenkoms ter ere van haar was suksesvol danksy wonderlike helpers. En nou mag my brein maar afskakel en ek dit ‘n bietjie rustiger vat vir ‘n rukkie. Geskryf 02:15 nadat alles afgehandel is en my brein steeds dink hy moet galop. Nag, julle!

My amperklaar kursustoetslappie. Hardangerwerk vir my heel eerste maal.

22 thoughts on “Mevrou Verstrooid

  1. Sjoe, Toortsie, dit is ‘n wonderwerk dat jy alles kon afhandel – ek hoop jy sal nou ‘n bietjie tyd kry om met jou gedagtes kan stil sit en die nuwe fase van jou lewe begin. Sterkte vir jou.

    Liked by 1 person

  2. Verdeelde aandag, ja. Verstrooid, nie sommer nie! Daarvoor het jy die balle te goed in die lug gehou. Eintlik is jou verhaal net weer bewys van hoe ‘n mens deurgedra word in uitdagende tye

    Liked by 1 person

  3. My man sê sy onthouers is swak, maar sy vergeeters is baie goed, op sulke dae. Liewe land Toortsie, met soveel balle in die lug moes hulle bly wees jy het 9nthou om al jou klere aan te trek. Puik werk, kan dink wit op wit sal pragtig lyk.

    Liked by 1 person

    1. My onthouers en vergeeters … net so! Gits! Dalk wás dit die probleem, dat ek nie al my klere aangehad het nie en niemand wou dit sê nie! Wat praat jy nou!? Wit op wit of ecru op ecru is ryk. Dalk moet ek dit ook so doen. Maar nou doen ek eers ultrabont swartwerk.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s