Liewe Ma

Liewe Ma

Ek sit nou hier by ma se bed. Dinsdagoggend 1 Junie 2021 tien oor ag. Ons het nie verwag om ma vanoggend nog te sien nie, ma was reeds gisteraand al so swak. 

Toe ek instap en ek ma groet, helder ma se gesig op en noem ma my op die naam en vra my waar ek is. Ek sê dat ek by ma is. Ma sê dat ma by die huis is. Ek sê dat ma moet groete stuur vir pa, vir Ouma Lenie en vir Gaaf. Dat ma moet sê dat ek baie lief is vir hulle. Ma het ma se kop geknik. By Gaaf was ma effens ontsteld. Daarná het ma gesê ma is veilig. 

Ja ma, ma ís veilig tuis. Veilig by Jesus, saam met al hierdie mense wat ek hier genoem het en nog baie ander ook. En ek is dankbaar dat ma en pa bygedra het dat ons ook eendag veilig sal wees wanneer ons sterf. Tot in die duisendste geslag, belowe die Woord ons, van hulle wat Hom liefhet, en ons hét Hom mos lief, soos ma en pa Hom ook liefgehad het. 

Liewe ma, ons kon soms lekker goed vassit, maar vandag wat ek ook al die lewenspad ‘n hele ent gestap het, besef ek dat God vir my nie ‘n beter ma kon gee nie. Ma was ‘n fyn opgevoede vrou. Hoogs gekwalifiseerd en dit was iets wat min vroue in daardie jare kon regkry. Dit was net vir ‘n handjievol vroue beskore. 

Ma het nie lelik gepraat nie en die ergste woorde wat Ma gebruik het was Dammit en Bloody Fool. Maar jy moes weet, as jy gebloodyfool is kon die see jou nie skoon was nie. 

Ma het goeie smaak gehad. ‘n Aanvoeling om dinge mooi bymekaar te sit. Ek onthou die een keer wat ma so vies was. Julle was by ‘n potterywinkel en ma het ‘n paar potte so by mekaar gerangskik, maar dit toe nie geneem nie. Toe ma ‘n rukkie later terugkom om dit te koop, het iemand anders dit klaar gekoop. Ma weet, dis eintlik ‘n kompliment, nè! 

Ma het ‘n ding nie halfmas gedoen nie, maar voluit. Amper in overdaad. Soos om 6 vrugtekoeke op een slag te bak of tien pasteie of blikkevol krismiskoekies. 

En ma kon tuin maak soos min. Ma het Bosfontein se werf omskep in ‘n ware lushof. Ek bewonder ma daarvoor.

Ma het ons goeie Taal geleer en al het ek op skool geglo dat ek eintlik syfervaardig is eerder as taalvaardig, weet ek vandag dat Ma vir ons geleer het om nie taal te meng nie en die regte woorde te gebruik. Ma, maar ook ek het verslap hierin, ek is jammer, ma. En die bietjie skryf wat ek deesdae probeer, is nie naastenby die mooi geskrewe werk wat ma gedoen het nie. 

My musiekliefde kom van ma af. Ek sal nooit daardie dag vergeet wat ons die klavier by Heuer op Stellenbosch gaan koop het nie. En toe hulle hom indra in die huis in. Dit was of die hemel vir my oopgegaan het daardie dag. Dankie daarvoor, ma. Ma kom ‘O glo my’ so mooi op die klavier speel en dan het ma sulke draaie en swaaie ingebou daarin waaroor ek mal was. 

Vandag besef ek ook dat ma baie dinge baie beter hanteer het as wat ek ooit kon. Soveel mense het altyd gesê dat Ma ‘n Lady was en ek het dit toe nie besef nie. Maar ja, ma wás ‘n lady. Ma se voorkoms was end-uit belangrik. En ma het ook end-uit probeer om ‘n goeie en interessante gesprek te voer. 

Ma, as daar nou een eienskap van ma is wat ver bo almal uitstaan, is dit ma se gasvryheid. Ma het ma se gaste almal spesiaal laat voel en daar was altyd iets lekkers in die yskas om aan te bied vir hulle. Selfs op die einde nog wou ma seker maak dat ons ‘n koppie tee saam geniet.

Ag, en ma was natuurlik die ewige romantikus en wou almal altyd laat trou met mekaar! Tot ons irritasie soms, maar later het ék dit ook begin prettig vind, net soos die kleinkinders. 

Ma was ‘n fees met kinders en al ma se kleinkinders was mal oor ma en het ma soveel geniet en praat altyd met ‘n glimlag van ma. 

Ek is so dankbaar dat ma my ma was. Ek is trots om ma my ma te noem. Dankie vir ma se nalatenskap. Ma het beslis ma se merk gemaak. 

Mag ma in vrede rus. Dankie dat my my vanoggend die uiters belangrike boodskap gegee het dat ma veilig aangeland het. Wat meer kon ek vra? 

Madelé

44 thoughts on “Liewe Ma

  1. Ai Madelé. Jou ma wás al hierdie dinge. Ek onthou hoe kwaad sy een dag was toe jou pa my geterg het!! Ek het geweet hy doen dit met liefde, maar sy het gevoel dat ek ‘n kuiergas was en nie geterg behoort te word nie.
    Totsiens Tannie Martjie. Sê groete daar by die huis.

    Liked by 1 person

  2. ‘Death Is Nothing at All’

    Harry Scott-Holland, British educator, 1847-19188

    “Death is nothing at all.
    It does not count.
    I have only slipped away into the next room.
    Nothing has happened.

    Everything remains exactly as it was.
    I am I, and you are you,
    and the old life that we lived so fondly together is untouched, unchanged.
    Whatever we were to each other, that we are still.

    Call me by the old familiar name.
    Speak of me in the easy way which you always used.
    Put no difference into your tone.
    Wear no forced air of solemnity or sorrow.

    Laugh as we always laughed at the little jokes that we enjoyed together.
    Play, smile, think of me, pray for me.
    Let my name be ever the household word that it always was.
    Let it be spoken without an effort, without the ghost of a shadow upon it.

    Life means all that it ever meant.
    It is the same as it ever was.
    There is absolute and unbroken continuity.
    What is this death but a negligible accident?

    Why should I be out of mind because I am out of sight?
    I am but waiting for you, for an interval,
    somewhere very near,
    just round the corner.

    All is well.
    Nothing is hurt; nothing is lost.
    One brief moment and all will be as it was before.
    How we shall laugh at the trouble of parting when we meet again!”

    Liked by 2 people

  3. Ai sjoe Toortsie. Bid vir jou… hierdie getuienis oor jou ma se mooi lewe is die grootste geskenk wat jy haar ooit kon gee.
    Here, troos asseblief vir Toortsie en haar mense. Dankie Liewe Heer.

    Liked by 1 person

    1. Haar heup het gebreek van osteoporose. Sy het geweldig pyn gehad. Hulle kon haar nie hanteer nie so pynlik was dit. Het geopereer, maar ná 2 weke kon hulle niks meer vir haar doen nie. Pyn ondraaglik. Sy was 92.

      Liked by 1 person

            1. Ja en dit was so kosbaar dat sy dit vir my gesê het. Daarná was haar oë halfmas oop en het sy net gelê en glad nie meer gereageer nie totdat sy die aand dood is. Ek glo met my hele hart dat sy tóé daar aangekom het en dat dit nog net haar liggaam was wat moes afskakel. Die siel was reeds veilig in sy tuiste.

              Liked by 1 person

  4. Om te verhuis, van jou aardse woning na jou hemelse woning en dit reeds ‘n tuiste te noem, voordat jy gearriveer het, is reeds ‘n hemelse gevoel en/of wete. Dit is fantasies om by te kon wees met die ‘verhuising’! Koester al jou herrinderinge, dis baie kosbaar.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!