Wie is dit wat ons toets? God of die duiwel?
Ek dink daar is verskillende opinies hieroor. Ek dink en glo albei. Dat daar tye is wat God ons toets en ander tye is wat Satan ons toets. Dit staan tog baie duidelik in die Bybel op ‘n paar plekke dat God ons toets. Soos in Rigters 2:18-22 waar die Israeliete nie meer God gehoorsaam het nie en Hy toegelaat het dat van die vyandige nasies oorleef het om hulle te toets of hulle by die Here se paaie gaan hou of nie. Selfs al weet Hy vooraf wat die uitslag van die toets gaan wees.
En dan is daar die uiters bekende boek Job, waar Satan kyk of hy vir Job kan laat struikel te midde van al die krisisse wat oor hom gekom het. Daar is die bekende Job 1, vanaf vers 6, wat begin met God se gesprek met die satan en waar Hy vir die satan vra of hy vir Job gesien het. Dat daar immers niemand soos hy op aarde is wat so onberispelik in sy optrede is, opreg, wat God voluit dien nie. Waar die satan toe vir God sê, ‘kom ons kyk ‘n bietjie wat gebeur as daar aan sy mense en aan sy besittings gevat word?’ Job het getrou gebly. Hy het die toets deurstaan.
En dan is die beoogde uitkomste van die verskillende toetse ook verskillend. Satan toets net met een doel en dit is om ons te laat val, te laat twyfel, om ons in sy strik te laat trap. Ja, God weet vooraf wat die uitkoms gaan wees, maar ek glo dat Hy my toets sodat ék kan sien waar ek staan. Sodat my geloof kan groei. Sodat ek kan sien hoe Hy my regop gehou het.
Ek het al verskeie toetse in my lewe gehad. Ek het selfs al myself met Job vergelyk op ‘n stadium. God het my al verskeie kere getoets: met my finansies, verhoudings, my hantering van my tiende. Party kere het ek dit dalk nie besef nie, maar soveel kere het ek presies geweet dat ek nou besig is met ‘n toets en die oomblik as die toets verby was, het ek dit ook geweet. Kies ek Hom bo my alles? Waar staan ek wat Hom aanbetref? Vertrou ek Hom regtig voluit? Glo ek Hom, of glo ek net in Hom? Soms het ek geslaag. Soms het ek dit nie gemaak nie.
Gelukkig is my God ‘n God van tweede kanse, is Hy bereid om nóg aan my te werk om my sterker te kry, my geloof in Hom te versterk, my selfs vreesloser te maak. Want eintlik is ons mos ‘n Werk in Proses wat eers die dag as ons sterf, voltooi sal wees.
Maar op die ou end dink ek dat dit nie só belangrik is om te weet of dit God is of Satan wat die toets gee nie, die belangrikste is om vas te hou aan Hom wat soveel genade het vir ons en wat vir ons net die beste wil hê. En die vertroue te hê dat ek met God se hulp die toets kan slaag.
Toortsie
Ek stem saam, Toortsie, met Sy hulp kan ons ons toetse slaag. Net met Hom aan ons kant.
LikeLiked by 1 person
❤️
LikeLike
Stem maak nie saak wie orkestreer die toets nie, daar is net Een wat ons kan help om te wen en dit is ons getroue Here.
LikeLiked by 1 person
Amen
LikeLike
Jou laaste paragraaf som alles netjies op. As mens terug dink kan mens beslis agterkom wie die toets doen. In werklikheid toets God ons nie. Hy vertrou ons. Dis Satan wat die toetse opstel om te kyk of jy gaan slaag of nie.
LikeLiked by 1 person
En die ou duiwel sal wil hê ons moet val, maar God gee die krag.
LikeLike
Beslis, as jy God volg kan die duiwel maar toets so hard hy wil.
LikeLiked by 1 person