Met te veel energie

Hoor wie praat!

Die vriendin wat my raad gee met my borduurwerk, vra my nou die dag of ek net met een hand borduur of met albei hande. Ja, ‘n mens gebruik natuurlik twee hande, hoe kan jy net met een hand borduur? Maar as jy jou borduurwerk op ‘n borduurraam het en die een hand hou die werk vas, dan werk jou ander hand hom dood, want dan is hy bo die borduurwerk om die naald van bo af te steek en dan weer onder om dit van onder af te steek en tussendeur word hy soos ‘n mal ding van bo na onder heen en weer geswaai.

Nou is ek besig om te leer om met twee hande te borduur. Of nee wag, eintlik is ek nog net besig om die lap te ryg in blokkies van tien, oor twee drade, dus elke twintig drade word die hele lap geryg. Swak hand steek die naald van bo af, sterk hand van onder af. Ek begin dit al hoe makliker regkry, en ja, ek dink nogal ek gebruik minder tyd én energie.

Ek sien baie mense brei nog soos ek toe ek geleer brei het, met die een hand wat die breiwerk vashou terwyl die ander hand die draad elke keer om die punt van die naald haak. Geweldig baie energie en tyd word so vermors. Dis onprakties en ongemaklik terwyl dit eintlik so maklik is om as jy die idee van breiwerk bemeester het, die draad net met jou vinger te haak.

Dieselfde met hekelwerk. Nou die dag moes ek een of ander hekeltegniek google. Ek het amper seesiek gekry net deur die hekelpen dop te hou. Waar die persoon geleer het om só te hekel, weet ek nie, maar dis regtig vreemd. Behalwe dat sy die hekelpen en die wol vreemd vashou, moet sy elke keer die pen op ‘n ongemaklike manier rol om die wol gehaak te kry. Dis of sy elke keer ‘n ekstra aksie doen om een steek te maak. En dit wil my lyk dat sy ‘n gereelde hekelles gee op die internet dat ek nou wonder hoeveel ander mense doen nou ook hierdie rol-aksie as hulle hekel? Genade, hulle arms en skouers sal dit nie hou nie.

En in die ou dae toe ons nog gesakkiesakkie het, onthou julle hoeveel mense water gepomp het met die lang arm? Baaaie energie.

Een Sondag in ‘n ander kerk hou ek die kitaarspeler dop. Hy hardloop omtrent ‘n marathon met elke liedjie. Hy moet fiks wees, sowaar!

Nou ja, van my wat ‘all over the place’ is, met my hele lyf praat en die kop wat skud en die arms en hande wat saampraat … die besadigde spreker sal seker moeg raak en dink dat ék onnodig energie vermors!

Toortsie

27 thoughts on “Met te veel energie

                1. Klein skool.
                  Afr en Eng
                  Biologie verpligtend
                  Wisk ofGesk
                  Skeinat, houtwerk of tik
                  Rekeningkunde, naaldwerk of Duits
                  So kon jy darem ‘n redelike vakkeuse doen en genoeg vakke hê om Universiteit toe te gaan.

                  Like

                  1. Ons kon kies tussen Duits/Latyn, Wisk en Wetenskap. Dan het jy A-baan gehad vir universiteit. Kannie onthou of ons regtig al handelvakke gehad het nie want ons skool het pas begin en nie alle vakke is aangebied nie. Was vir drie jaar seniors gewees omdat skool met st 8 begin het en elke jaar n volgende jaar.

                    Like

  1. Met dié dat my regterduim uit aksie is probeer ek dinge met linkerhand. Sukkel maar goed. Besef nou eers hoe hard ‘n mens se duim werk. Van jou skrywe lei ek darem af dat ek energieloos brei…. 🤔

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!