Boeke is nie heilig nie

Oeee, vandag gooi Toortsie haarself in die bynes, maar dan is dit nou maar so. Boeke is nie heilig nie. Daar het ek dit gesê. Ja! Boeke is nie heilig nie.

Die rede hoekom ek dit sê, is dat ek soms die gevoel kry dat mense so dink. Dat boeke heilig is.

Natuurlik moet ‘n mens ‘n boek met respek behandel. Dis vir niemand lekker om ‘n boek te lees wat soos ‘n ou weggooiding lyk met blaaie wat omkrul nie. Ja, die skrywer hét hard gewerk daaraan. Maar dit maak nie boeke heilig nie.

Ná my mening is daar net een Persoon wat heilig is, en Sy naam is God. Die Drie-enige God. Vader, Seun en Heilige Gees. En daar is, na my mening slegs een boek wat heilig is, en dit is die Bybel. Maar ek aanbid steeds nie die Bybel nie, selfs al is ek geweldig lief vir my Bybel en selfs al is dit vir my heerlik om tyd met my Bybel te spandeer. Ek aanbid vir God self. Die Bybel is deel van die manier wat ek Hom aanbid, deur in Sy Woord te lees en te bid.

Mense kan soms stuipe kry as iemand iets vreemds met ‘n boek aanvang. Asof dit heilig is. Maar, dit is nie. Want as ons boeke heilig maak, maak ons van dit ‘n afgod. En dit mag ons nie doen nie! Ons mag van niks ‘n god maak nie, behalwe van God, die God van die hemel.

Kyk, ek heg natuurlik baie waarde aan ‘n klavier en moet waak dat ek nie van ‘n klavier ‘n afgod maak nie. ‘n Klavier wil mooi behandel word. Wil graag teen ‘n binnemuur staan. Hou nie van vog nie. Ook nie van muise en motte nie. Hy wil graag gereeld gestem word om sy beste klank voort te bring. Daarom hou ek nie daarvan dat iemand van ‘n klavier ‘n wynbottelhouer maak nie, soos hierdie een:

Maar selfs al hou ek nie hiervan nie, beteken dit nie dat ek hulle nou gaan bespring en stenig nie! Dis húlle klavier wat hulle gekóóp en betáál het of dalk as geskenk gekry of geërf het. Maar dis hulle s’n en hulle kan maak daarmee wat hulle wil en ek moet my mond hou. Want ‘n klavier is nie heilig nie, selfs al sou ek dit graag as heilig wou verklaar. En ek wil dit dadelik sê: Welgedaan aan die eienaars van hierdie klavier, want hulle hou dit gestem en in ‘n goeie toestand.

Net so met boeke. As iemand ‘n boek gekoop het waaraan ‘n skrywer regtig hard gewerk het, en hy hanteer daardie boek dalk nie so mooi nie, gaan hy nie in die hel beland as gevolg daarvan nie. Net soos die eienaar van hierdie klavier ook nie in die hel sal beland omdat hulle ‘n wynhouer van die klavier gemaak het nie.

As iemand een van my Toortsieboeke gekoop het en hulle gebruik dit nie meer nie of hulle hou nie regtig daarvan nie of wat die storie nou werklik is en hulle besluit om dit in die drom te gooi, of weg te gee, of as ‘n potplantstaander te gebruik of zolle rol daarmee en dit rook, is dit fine met my. Ek gaan dalk nie regtig daarvan hou om dit te sien nie, maar wat, dis okay.

Want my boeke is beslis nie heilig nie. Dit is net boeke! En ja, ek hét hard gewerk daaraan en die geld wat ek daarvoor kry, is maar net vir my direkte koste soos die drukkoste, die proefleser, die stileerder, ens. Ek kry nie regtig geld vir my eie werk nie, maar dit is ook okay. Die positiewe terugvoer wat ek kry is vir my genoeg beloning. Maar my boeke is nie heilig nie en ek hoop nie dat íémand dit ooit heilig verklaar nie. En dít maak nie my boeke waardeloos of minder werd nie, hoor! Geensins nie.

Liewe leser, as jy jou boeke wil verheilig, is dit jou saak en jy mag dit met liefde doen. Maar ek gaan dit nie doen nie.

Toortsie

20 thoughts on “Boeke is nie heilig nie

            1. Ouch. Daar is een spesifieke bib boek waaroor ek spyt is dat ek dit nie gekoop het nie. Dit was ‘n fotoboek vir kinders, maar die dogtertjie daarin kon net sowel my dogtertjie wees. Haar absolute ewebeeld.

              Liked by 1 person

  1. Inderdaad, er is maar één boek Heilig en dat is De Bijbel.
    Jammer genoeg wordt dit Boek steeds minder gelezen (hier in Vlaanderen toch)
    Weinigen kunnen zelfs nog een kruisteken maken; In de naam van De Vader, De Zoon en De Heilige Geest. Amen
    Ben trouwens van plan om binnenkort samen met enkele andere mensen dien nog gelovig zijn een Blog te beginnen rond Het Geloof.
    Bedankt voor dit mooie bericht.
    Groetjes uit Vlaanderen 😀
    Theo

    Liked by 1 person

  2. Ek stem saam Toorts. Dis vir my lekker om ‘n boek te lees wat wys dat hy al deur baie mense gelees is. Gee hom karakter. My Knowing God boek het uitmekaar geval en geen tape wou hom meer bymekaar hou nie. Voel soos ‘n ou vriend wat ek in die asblik moes gooi.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!