Ek is lid van die VLV

Soms, wanneer ek sê dat ek aan die VLV behoort, kry ek skeptiese kyke. Waaroor, weet ek tot vandag toe nog nie. VLV -Vroue Landbou Vereniging

‘Bestáán die VLV dan nog?’ Ja! Die VLV bestaan nog en het sommer ‘n klomp lewendige takke.

‘Is dit nie net ‘n spul ou tannies wat daar sit nie?’ Ja, ons tak het meer ouer persone, maar nie ‘stokou tannies’ nie. Die jonger vroue werk meestal of dalk weet hulle net nie van die VLV nie. En ek, met my grys kop en al, is ook nie die jongste in ons tak nie, daar is nog vroue wat jonger is as ek. En omdat ons dalk ouer is, beteken dit nie dat ons dooierig, simpel of oninteressant is nie.

‘Maar ek hou nie van naaldwerk en kook nie. Wat moet ek daar kom maak?’ Nee, jy hoef nie daarvan te hou om aan die VLV te behoort nie. Ons doen baie meer as net dít. Die vergaderings is vars, interessant en altueel en elke keer het ons baie oulike sprekers wat oor verskillende dinge kom praat of demonstrasies lewer. Die VLV was nog altyd bekend as die Universiteit van die Platteland en daar is altyd iets ouliks aan die gang.

Jy kan ook deelneem aan die jaarlikse kompetisies as jy wil. Daar is blommerangskikking, kuns, skryfkuns, naaldwerk, breiwerk, gebak, borduurwerk, ag nog baie goed om te noem. Deur deel te neem aan die kompetisies leer jy nuwe vaardighede aan en verbreed jy jou horisonne. As dit nie vir die VLV was nie, sou ek nie een van die borduurartikels wat ek gemaak het, gedoen het nie. Ek sou nie weet van Amigurimi en Ierse hekelwerk nie. Ek sou nie leer Swartwerk doen het en al die verskillende borduursteke wat ek bemeester het. Ek sou nie ‘n babakombers brei wat ‘n storie vertel en verskillende breitegnieke daarvoor gebruik het nie. Ek sou nie dit gewaag het om ‘n gedig te skryf nie. My menswees sou nie soveel ontwikkel het nie.

‘Moet ‘n mens dan deelneem aan die kompetisies? En party van die goed wat hulle as kompetisieartikels gee, is so vreemd?’ Nee, jy hoef nie as jy nie wil nie, dis heeltemal vrywillig, maar ek sal jou aanraai om elke jaar ten minste een iets te probeer maak. Dis so verrykend. Net die navorsing, die soek op die internet na patrone, om te sien wat ander doen, maak dit absoluut die moeite werd. Dit dwing jou selfs om soms ‘n bietjie buite jou gemaksone te beweeg. Dit help jou om te groei.

‘Waar leer jy dan die tegnieke aan?’ Behalwe natuurlik op die internet, leer ons ook by mekaar. VLV-lede is nie suinig net hulle kennis nie en ons help mekaar graag. Ons deel ons kennis met mekaar en gee vir mekaar idees om ons produk te verbeter en sodoende hoër hoogtes te bereik. Ons inspireer mekaar. Ons doen ook kursusse en kry kundiges om ons te leer wat om te doen. Vir ons gaan dit glad nie oor die wen nie, al is dit heerlik om te wen. Nee, vir ons gaan dit oor die reis, die saam opgewonde wees.

Is jy nog nie lid van die VLV nie? O, jy verloor groot! Vind ‘n bietjie uit of daar nie ‘n tak naby jou is nie en word deel daarvan. Dit is beslis die moeite werd! En nooi sommer ‘n lekker, lewendige vriendin ook saam. Ek is mal oor ons tak en al die entoesiastiese dames wat daar is en wat mekaar inspireer.

Toortsie

18 thoughts on “Ek is lid van die VLV

  1. Ek is ook lid van die VLV en hierdie jaar gaanvek ook aan die kompetisies probeer deelneem. Dit gaan omtrent my horison verbreed, want die selfvertroue is maar min😬!

    Liked by 1 person

  2. Hier by my noem ons dit die VLU. Ek is al ‘n geruime tyd lid en ook skakelbeampte. eergister het ons ‘n heerlike uitstappie na Snymans sjokolateur beleef. Die samesyn en die tjoklits was ewe lekker! Geniet jou tak se bedrywighede, dis wonderlik en verrykend soos jy sê.

    Like

  3. Jare gelede as jong vroutjie het ek ook aan die VLV behoort. My eerste wit vrugtekoek gebak met selfgesnipperde vrugte; tamatiesous in die bottel; perskeblatjang. Daar was een tannie wat alles perfek gedoen het. Niemand kon dit regkry on haar te klop nie.

    Liked by 1 person

  4. In die noordelike provinsie of nou Limpopo is dit ook VLU. My laaste amper twintig jaar in SA was ek ook lid gewees. Ek het alles wat uitdaging gedoen. Dit verbreed n mens se kennis. Dis baie lekker om so deel te wees van n groep spesiale welmenede vroue. Gladnie n klomp ou tannies nie. Ek het aan aandtak behoort wat uit werkende vroue bestaan het.

    Liked by 1 person

    1. Ek het al verneem dat sekere takke by ons ook aandbyeenkomste het. Ekdink dat dit maar steeds moeilik is vir werkende vroue om op ‘n gereelde basis saans bymekaar te kom. Maar, waar ‘n wil is, is ‘n weg.

      Like

          1. Beslis. Ek was gelukkig dat hul in Potties ook ‘n aandtak begin het toe ek die laaste jare daar gebly het. Ek het saam met die tak gegroei tot ‘n hegte klomp vroue wat mekaar ondersteun het en altyd gehelp het. Het steeds nog kontak met van hulle. Ek glo nie die tak bestaan meer nie want meeste het maar getrek na veiliger gebiede as mens so kan sê.

            Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!