Hoe weet jy?

Marileen van Die Venster vra: Hoe weet jy dat dit die regte lewensmaat is wat jy kies? Ja, hoe weet jy? En selfs al weet hy hy is reg, kan dinge tóg iewers in die latere lewe skeef loop. Hoe op aarde weet jy?

Hierdie is my eie mening en na aanleiding van wat ek in my matriekjaar in Bybelonderrig by Die Skim geleer het.

O, hy móét jou hart laat vinnig klop, jou oë laat blink. Jy moet na hom verlang as jy nie by hom is nie en dit geniet saam met hom wanneer julle by mekaar is.

Moenie dinge te vinnig vat nie. Vat dit stadig. Leer eers die persoon ken. Moenie sommer met hom in die bed spring nie, hou dit vir die huwelik.

Ek glo steeds aan die ou reël van twee jaar. Dat julle vir minstens twee jaar moet uitgaan voor jy aan trou dink. Sodat julle oor die aanvanklike verliefdheid kom en sien hoe julle probleme en verskille hanteer. En sien of julle steeds opgewonde voel oor mekaar.

Is sy belangstellings vir jou belangrik? Gun jy hom dit? Is jou belangstellings vir hom belangrik? Gun hy jou dit om dit te beoefen?

Hoe pas jy by sy familie in en hy by joune? Onthou, jy trou nie net met hom nie, maar met die familie.

Kultuurverskille, taalverskille, geloofsverskille is GROOT goed. As dit verskil, plaas jy groot stremming op jou verhouding en dit mag dalk nou vir jou oulik en opwindend wees dat hy uit ‘n ander kultuur, taal of geloof kom, maar ek belowe jou, dit gáán steurnisse veroorsaak en dán moet die liefde groot genoeg wees om dit te kan hanteer.

As jy so na hom kyk, is jy regtig gewillig om jou hele lewe met hom saam te loop? Oor berge, deur dale, deur storms, deur opwindende tye? Is jy bereid om baie keer die minste te wees, om terug te staan, om selfs soms stil te bly, toe te gee? Want ‘n huwelik gaan oor gee én neem, oor jou 100 persent te gee selfs al gee jou huweliksmaat dit nie noodwendig nie. Dit gaan oor harde werk vir jou liefde, om baie te veg om jou liefde en geliefde te voed en te behou.

Het jy al gebid hieroor? Baie gebid? Tyd met God spandeer? Vir Hom gevra wat Hy hiervan dink en hoe Hy hieroor voel? Het julle al saam gebid?

Hoe is sy geestesgesondheid? En joune?

En dan, as daar genoeg tyd verloop het, hy jou steeds geweldig opgewonde maak, jy voel jy kan nie sonder hom lewe nie, dat jy regtig jou hele lewe net hom wil deurbring, jy in jou hart seker is dat dit is wat jy wil doen, dan doen jy dit. Dan vat jy die geloofsprong en gaan voluit daarin. Dan gee jy jou alles om hierdie verhouding te maak werk en maak jy álle agterdeure wat moontlik nog op skrefies staan, toe. En dan wens ek jou geluk toe.

Dit skryf ek ná 4 jaar se uitgaan met my geliefde en 35 jaar se huwelik, na goeie én swaar tye, berge én dale, rykdom én armoede, siekte én voorspoed en ek kyk terug en is dankbaar vir ‘n vol lewe saam met my man en my kinders en ek gee aan God die eer wat ons tot hier gebring het.

Toortsie

12 thoughts on “Hoe weet jy?

Gesels saam, asseblief!