Om vir iemand anders te moet besluit

Ek is mos ‘n baie spontane mens wat doen voor ek dink. Ja sê en later die volle realiteit besef. Maar wanneer ek namens iemand anders moet besluit oor lewe en dood, is dit ‘n ander storie. Dan moet ek maar die kundiges se raad volg en vertrou dat hulle die beste weet.

Wel, oor my hond se finale rit veearts toe, was my en my besluit alleen. Daardie finale besluit en sy was maar net ‘n hond. Maar as die inspuiting gegee is, is dit onherroeplik gegee.

Soos toe my pa in 1999 ‘n beesborsbeentjie ingesluk het en dit ‘n gaatjie in sy slukderm gesny het. Die internis het gesê dat hul niks vir hom kon doen nie. Hy sou van honger doodgaan. Maar ‘n doktersoom het van ‘n prosedure geweet en daar is eers ‘n buis na sy maag gemaak sodat hy daardeur voeding kon kry. Dit was verskriklik met ‘n masjien wat heeldag langs sy bed gestaan het om kos direk na sy maag te pomp. Verskriklik. Onuithoudbaar. Ek het hom so jammer gekry. Hul het ‘n stent in sy slukderm gesit en hy kon terugkeer huis toe. Selfs eet. ‘n Wonderwerk.

Maar iets was nie reg nie. Hy sou aan sy maag vat en ssss maak asof dit baie seer is. Skielik is hy dood. Dink die stent het geskuif. Ek het vir jare daarna met skuldgevoelens geloop. Het ek nie iets help dryf wat hom onnodige ongerief en pyn veroorsaak het nie?

Vyf jaar gelede het ‘n dokter vir my toe reeds baie broos, baie oue ma ‘n heupvervanging voorgestel. Ek het gevoel dat sy nie meer geestelik sterk genoeg is vir so ‘n operasie nie. Was dit die regte besluit? Ek weet nie en ek sal nooit weet nie.

Want nou het haar heup gebreek. Verbrokkel as gevolg van osteoperose en valle vroeër. En nou is dit daardie Catch 22 situasie. Opereer? Of nie? Sy is bitter baie oud. So broos. As hulle nie opereer nie, lê daar ‘n paar weke van uiterste pyn en verskriklike agteruitgang en ekstra probleme vir haar voor totdat sy sterf. Operasie het ook geen waarborge nie.

Al wat ek kan doen is om die dokters se oordeel te vertrou en vir haar en elke persoon in die teater en die ICU daarná aan God toe te vertrou. Sy is volgende op die teaterlys. Vanoggend nog.

Maklik is dit nie.

Toortsie

27 thoughts on “Om vir iemand anders te moet besluit

      1. PRAYER I

        Prayer the church’s banquet, angel’s age,
        God’s breath in man returning to his birth,
        The soul in paraphrase, heart in pilgrimage,
        The Christian plummet sounding heav’n and earth
        Engine against th’ Almighty, sinner’s tow’r,
        Reversed thunder, Christ-side-piercing spear,
        The six-days world transposing in an hour,
        A kind of tune, which all things hear and fear;
        Softness, and peace, and joy, and love, and bliss,
        Exalted manna, gladness of the best,
        Heaven in ordinary, man well drest,
        The milky way, the bird of Paradise,
        Church-bells beyond the stars heard, the soul’s blood,
        The land of spices; something understood.

        -George Herbert

        Liked by 2 people

  1. Toortsie, ek verstaan daardie keuses. Maar ek kan vir jou se dat heupvervangings in ouer mense baie goed werk. Die oom wat saam met my man in is – hy vir heup en my man vir knie – het lank voor hom geloop, dieselfde dag nog. ‘n Tannie wat saam met my in die hospitaal was, het vervanging gekry en sy is hups, kan self weer loop – en ek sweer beter as ek. My pa het op 85 ‘n knievervanging gekry – en was volgens sy dokter ‘n model. Hy is nou pynloos.

    Liked by 1 person

    1. Baie dankie. Nadat ek nou met die ortopeed gepraat het voel ek rustiger. Daar is ander komplikasies wat maak dat hulle dalk eerder tot Vrydag wil wag voor hulle opereer.

      Like

      1. Daar is so baie wat in ag geneem moet word voordat daar op so n hoë ouderdam ge-opereer moet word. My ma was 86 toe sy hospitaal toe is en hul moes dele van haar boud wegsny om die wond skoon te kry. Moes n tweede keer dit doen omdat dit aanhou versprei het. Dit vat baie krag van sulke ouer mense om dit deur te gaan. Ai dit bly maar nie n goeie ding om te hanteer nie. Bly hul gaan nog eers ander dinge ook eers toets voor hul regtig gaan opereer.

        Liked by 1 person

  2. Dit is verskrilik moeilik as jy vir jou ouer besluite moet neem. Wanneer waag jy die kans en wanneer gee jy oor? Ek weet nie, al wat ek weet, waar daar lewe is, is daar hoop. Net onse Vader weet wat is reg, ons kan net glo en vertrou.

    Liked by 1 person

  3. Here,
    Laat die harte en verstand van die mediese mense in U hand wees soos waterstrome, stuur dit soos U wil. Beveel hulle besluite en neem hulle verstand en hande in U hand om uit te voer wat U weet die beste is, sodat alles ten goede sal meewerk.
    Alle lewe is in U mag, die asem van elke mens. Elkeen van ons se tye is in U hand. Al ons dae is deur U bepaal nog voordat ons gebore is. Of ons iewers gaan of oorbly, U bepaal dit. U is met ons waar ons ook al gaan.
    Maak asseblief hierdie woorde waar vir Toortsie en haar ma.
    Gee asseblief die vrede wat alle verstand te bowe gaan en omsluit hulle aan alle kante.
    U oog is op die mossies, U oog is op hulle ook. Selfs die hare op hulle koppe is getel.
    Dra hulle deur alles heen.
    Asseblief Here. Dankie Here.
    In die Naam van Jesus Christus, amen.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!