Heimwee oor Hallelujas

Ag, hoe lekker sit ek nou en heimwee kry en dit oor Hallelujaliedere. Hallelujaliedere is vir my kenmerkend aan Pinksterbidure. Pinkster op Ouplaas in die ou kerksaaltjie. met my ma agter die klvier en later ‘n baie gespanne ekself wat die Ouplasers begelei. Ons het altyd die volle tien dae vanaf Hemelvaartdag tot by die Pinksterfees elke aand. Kosbare tye. Ek was mal daaroor as ons saans in die donker die plaaspad ry Pinkster toe, die Pinksterdienste saam met ons bure en vriende daar in die ou saaltjie. Die ou mense, Ouplasers. Tannie Mags en tannie Willa. Oom Johnie en tannie Martha. Oom Pieter Jack en tannie Bes. Oom Eric en tannie Kitty. Oom Jan en tannie Ena. Oom Dirk, tannie Ohna. Oom Dirkie en tannie Rita. My eie ouers. Oom Japie-hulle. Van Spitskop af het oom Kosie en tannie Johanna-hulle gekom, oom Giewie-hulle. Oom Nico Steyn hulle. Juffrou Petro-hulle. Oom Eddie en tannie Dina. Malgas se mense.

Pinkstertyd het ons gesing. Baie gesing. Hallelujaliedere. En ja, dit is nou al weer amper daardie tyd van die jaar. Maar dit is nie hoekom ek heimwee het nie.

In die eerste plek het ek en my klavier mekaar weer ontdek. Og, dis lekker. Nee, ek speel mos al lankal nie meer moeilike, klassieke goed nie. Ek kom ook agter dat die hande styf geword het. Joe, ek kon ‘n arpeggio speel, hoor, vier oktawe, op en af, hande te same. Nou kom dit nie meer heeltemal so maklik nie.

Hulle het my gevra om môre, as die pad dit toelaat bygesê, op Struisbaai klavier te speel. Te begelei. Die predikant het die liedere vir my gegee sodat ek dit vooraf ‘n bietjie kan oefen. Genadiglik tog, want twee van die liedere is nie goed wat ek sommer ongeoefend sal kan gaan sit en speel nie. Een van die liedere is lied 444 uit die Hallelujaboek. Wat ‘n vriend het ons in Jesus. Jare gelede het Jan de Wet op Bredasdorp kom sing. Hy het gereeld hier kom sing en was baie gewild. Op ‘n stadium gee hy toe geleentheid dat mense kan versoeke gee, natuurlik van sy eie liedere. Thys het so ‘n harde stem gehad en het erg gebrei. Toe weergalm dit deur die saal: ‘Lied vieg vieg vieg.’ Jan het ‘n bietjie verslae rondgekyk, maar iemand het hom gou reggehelp en hy kon die regte lied speel.

Met die Hallelujaboek in my hande, begin ek toe speel. En speel. En speel. Al die ou liedere. En ek speel dit met gevoel, nie vir begeleidingsdoeleindes nie. Sit sommer met my oë toe en speel. En ek hoor vir oom Johnie sing. En ek hoor hoe lekker hulle soms kon trek om die draaie. En ek verlustig my daarin. Want dit is tye wat verby is. Maar nie verby in my hart nie. Dalk diep weggebêre, maar nie verby nie.

Toortsie

20 thoughts on “Heimwee oor Hallelujas

  1. Dit laat my ook nou verlang. Sondagskool en opening by skool was altyd die lekkerste want mens kon na hartrlis saamsing. Eks eintlik n Hervormer en ons het nie haleluja liedere gesing nie. Sondagskool was by NG kerk omdat daar nie n hervormde kerk naby was nie.

    Liked by 1 person

    1. Ons sanggroepleier het ook in die Transvaal groo tgeword en wasvoorheen in een van die Susterskerke wat nie Hallelujas gesing het nie. Wanneer ons dominee dan ‘n Halleluja voorgestel het, moes ons altyd help omdat dit vir haar onbekend was.

      Like

      1. Was eintlik ‘n voordeel dat ons buite op “plot” gebly het. Dit was altyd lekker om Sondagskool toe te gaan. Was n klein saaltjie wat deur die gemeenskap opgerig was. Daar is ook met tye ‘n diens gehou of ook ‘n begrafnis. Lekker dae gewees. Ons moes Pretoria toe ry om in ‘n kerk te kom wat my Pa nooit gedoen het nie. Hy het my darem afgegee aan my man in die kerk. Lekker hom uitgevang! Hy wou nie regtig nie. Selfs ‘n pak klere gekoop vir die geleentheid!

        Liked by 1 person

          1. Ten eerste het ons die onthaal by die huis gehad en al die skoonfamilie sou kom. Die dominee het mooi kom praat en ons kon hom oortuig om wel te gaan. Toe wou hy gladnie op fotos wees nie. Die fotograaf was baie behulpsaam en het hom net dood eenvoudig regesit om my kerk in te vat. Hy roep toe en ons kyk toe om. Was nie tyd vir omdraai nie want troumars het begin en ek het sy arm vasgehou dat hy nie kon wegkom nie.

            Liked by 1 person

Laat 'n boodskap na Una Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s