Etiese bemarking

Jy het nou lank by ‘n plek gewerk. Jy het jou beste gelewer. Jy het vaardighede aangeleer. Jou eie vaardighede met die besigheid gedeel. Jy het gesien wat die ander besigheid doen wat werk en wat nie werk nie, waar jy beter kan doen, waar jy dit dalk anders kan doen.

Intussen het jy begin moed kry om jou eie besigheid te begin. Jy beplan jou besigheid haarfyn, soos ‘n mens dit mos maar moet doen. Jy doen jou marknavorsing. Jy kry vir jou ‘n plekkie waar jy jou eie besigheid gaan opstel. Bestel jou toerusting. Vertel vreugdevol vir jou vriende. Jy begin bemark op Instagram, Facebook, Linkedin, Media 24, waar ook al. Jy laat druk selfs advertensies en deel dit uit. Jy sit dit in die plaaslike koerant. Mooi! Ek is so bly vir jou. Ek wens vir jou alles van die beste toe.

Maar moenie in die slaggat trap deur oneties te wees met jou bemarking nie. Moenie by jou vorige werk steel nie. Na my mening is dit oneties as jy byvoorbeeld die kliënte by jou vorige werk se selnommers en e-posadresse afskryf en dan vir hulle laat weet dat jy jou eie plek het. Dit laat ‘n geweldige slegte indruk, ‘n wrang smaak in die mond. Dit sit my so af as ek en verseker dat ek nooit jou besigheid sal gebruik nie.

Ja, die kliënt hét van jou gebruik gemaak toe sy daardie besigheid ondersteun het, maar sy was steeds daardie besigheid se kliënt. Sy hét dalk haar hare by jou laat knip, sy was in daardie tyd ‘jou’ kliënt, maar dis oneties om haar telefoonnommer af te skryf en vir haar laat weet dat jy nou op ‘n ander plek is. Tensy sy jou vra dat as jy weggaan, jy haar moet laat weet. Of, tensy jy die besigheid by die vorige eienaar gekoop het.

Jy kan dalk sê dat ‘almal’ dit so doen, maar selfs al doen almal dit so, is dit nie reg en eerlik nie. Nie eties nie. Hoef jy dit nie so te doen nie. Ja, jy wil graag jou besigheid op die been kry, maar is dit reg om by jou vorige werk te steel om dit te doen? Doen jou eie bemarking. Adverteer so veel as wat jy kan. Gee goeie diens. En as jou diens goed is, sal die mense na jou toe kom en dán is dit nie steel nie, selfs al was dit kliënte van jou vorige besigheid.

Ek weet dat jy graag ‘n sukses van jou besigheid wil maak. Ek gun dit vir jou. Maar waak daarteen om oneties op te tree. Wees eerlik. Gee goeie diens en die werk sal begin inkom, een of ander tyd.

Groetnis

Toortsie

12 thoughts on “Etiese bemarking

    1. Natuurlik gun ‘n mens die persoon haar eie salon. Ook dat van die mense wat sy gehelp het, besluit om na haar oor te gaan. Maar op ‘n eerlike en eerbare manier.

      Like

    1. Ja, dis nie so maklik afdwingbaar nie. Ek het nie ‘n probleem as irmand haar eie besigheid wil open nie. Dit gaan vir my daarom dat mense letterlik die kontaknommers ens afskryf uit die werkgewer se bronne. Dis steel.

      Like

Gesels saam, asseblief!