Oordra van vaardighede

Terwyl ek nou besig is om my Engelse Toortsie, Toortsie’s Banting Bash, om te skakel na ‘n e-boek en die inhoudsopgawe op te stel, en boekmerke te maak sodat die skakels kan werk en ek trek by zx en zy, kom die gedagte by my op: Dankie dat ek kan tik. Alhoewel, ek moet nogal soms dink waar al daai letters is. Snaaks, nie terwyl ek net een van hulle tik nie, want, soos Die Skim vir ons gesê het in standerd sewe, as hy in die nag kom en sy vinger in ons sy druk en sê T, dan moet ons linkervoorvinger daarheen spring. Maar nou by die zx en die zy en die zz is dit tog of die vinger nie heeltemal so vinnig spring nie.

Een dag, terwyl my dogter nog in die laerskool was, was haar klasonderwyser van daardie jaar ook haar musiekjuffrou. Op die deur was daar ‘n stukkie bladmusiek geplak en daarby was getik: ‘As jy hierdie kan lees, bedank jou musiekonderwyser.’ Ja wel, ek kon verstaan wat daardie vreemde skrif sê en was in my hart so dankbaar vir die musiekonnies in my lewe, veral vir tannie Elza Wessels wat die grootste deel van my skoolloopbaan my musiekjuffrou was en ook vir Elsa Marais wat my musiekjuffrou was toe ek as volwassene musiek geneem het. Daar was net so ‘n spesiale band tussen ons. Later jare, natuurlik weer tussen dieselfde Elsa en my meisiekind ook.

Die oordra van vaardighede. Of dit nou sport is, waarin ek nie eintlik goed is nie, behalwe dat Eps vir ons ‘n liefde vir draf en stap geleer het, en of dit naaldwerk is. Of tik. Of musiek. Of rekenaarvaardigheid. Of visvang. Of kosmaak. Iewers moes iemand dit vir jou geleer het. Selfs al leer jy dit vir jouself deur middel van Youtube, is dit iemand wat die moeite gedoen het om die video te maak en vir jou te demonstreer hoe dit gedoen moet word. Iemand wat lief genoeg was vir sy vaardigheid en dit graag vir iemand anders wil leer. Sodat dit nie verlore gaan nie. Sodat die volgende persoon selfs hoër hoogtes as hy kan bereik. Iemand wat nie omgee om dit wat hy geleer het, vir iemand anders oor te dra nie.

En dit laat my dink, bedank ons so ‘n persoon ooit genoeg? Is ons dankbaar vir ons onderwysers wat vir ons leer op skool, selfs te midde van soveel negatiewe kommentaar van arrogante kinders en ouers? Dink ons ooit daaraan om wanneer ons op die internet vra: “hoe doen ‘n mens watookal”, by daardie youtube video of bloginskrywing net ‘n ‘dankie’ onderaan te skryf? ‘Dankie vir jou moeite. Dit het vir my baie beteken.’

Ek is so dankbaar dat ek kan tik. Dit is eintlik hoekom ek hierdie bloginskrywing begin het. Dankie vir Die Skim wat dit vir my in die sewentigerjare geleer het. Dankie vir die geskenk wat ek gekry het en dat ek amper so vinnig kan tik as wat ek dink. Ek, wat so lief is daarvoor om my gedagtes om te sit in regte woorde. Wat ‘n frustrasie sou dit wees as ek met twee vingers die letters moes soek. Wel, ek doen dit met een vinger op my selfoon! Maar selfs daar kry ek dit vinniger reg omdat ek die sleutelbord so goed ken. Omdat iemand jare gelede die moeite gedoen het om dit vir my te laat inoefen met ‘The yellow rose of Texas’.

En terwyl ek nou aan die dankie sê is, dankie vir my oumas wat my leer hekel het en vir tannie Mags wat my leer brei het en vir my ma wat my leer kosmaak en naaldwerk doen het en gedink het daaraan dat ek musiek moet neem. Wat my die liefde vir hierdie goed geleer het. En juffrou Paula wat my leer lees het. En my pa wat my die liefde vir mense en die natuur geleer het. Julle maak my lewe ryker.

Toortsie

23 thoughts on “Oordra van vaardighede

      1. Ek is, sukkel om by reels te hou. Hou daarvan om uit die boks te dink – die trui aan te pas tot ek daarvan hou. Ek hou dalk van die idee, maar nie van die patroontjie wat gekies is nie. Of ek verander die moue, of lengte of wat ookal tot ek daarvan hou. Naaldwerk bied soveel keuses.

        Liked by 1 person

  1. Ek is dankbaar aan ‘n vriendin van een van my broers wat my geleer het om te brei – ek het haar twee jaar gelede na vyftig jaar weer ontmoet and was toe bly om haar daarvoor te bedank. My ma het my geleer om my eie klere te maak, en ek het self geleer om te kook. My ouers het my die pad tot wysheid gewys en my kinders het my ‘n nuwe blik aan die omgewing gegee; my kleinkinders maak my weer jonger voel; en waar sou ek wees sonder die avonture met my man? Ons lewens is vol avonture wat vir ons wag.

    Liked by 1 person

    1. Ja, ek het dit al vir jou gesê, maar sla dit weer sê dat jou liefde vir kursusse doen en deursettingsvermoë my inspireer. Op ons ouderdom doen ons dit vir die lekker, nie sodat ons ‘n verhoging in salaris kry nie.

      Like

      1. Dis waar, en dis lekker om dit te doen omdat mens nie gedwing word om dit te doen nie. Baie keer vra mense kry jy betaling daarvoor(dis nou met kwilte wat ek gemaak het) Ek het verkoop maar almal wou hê ek moes meer vra, nou ja dis eintlik nie waaroor dit regtig gegaan het nie. Bly ek inspireer jou.

        Liked by 1 person

  2. Als ik Jouw Afrikaans goed begrepen heb ben je aan het leren typen met tien vingers.
    In dat geval troost U, ik heb jaren geleden ook een cursus typen met tien vingers gevolgd.
    Het was niet simpel mar als je blijft volhouden en blijft oefenen wordt het door den duur gewoon routine.
    Je zult het niet geloven, maar ik ben momenteel zover dat ik een tekst kan typen terwijl ik met iemand aan het praten ben over iets totaal anders
    (Het zijn niet alleen de vrouwen die twee dingen tegelijkertijd kunnen, sommige mannen kunnen dat ook😀)
    Dus blijven volhouden, blijven oefenen en er komt een moment dat je met tien vingers kan typen zonder er nog bij na te denken.
    Groetjes uit België
    Theo

    Liked by 1 person

  3. Ek was saam met jou in die tikklas, met die kassies oor die vingers. En ek het eendag as grootmens vir Eps en tannie Anna op straat raakgeloop. Toe bedank ek hom omdat hy my geleer vrae vra het in wiskunde. Hy het skaam geglimlag. Later het ek gehoor dat hy toe al dimensia gehad het

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s