In die eerste deel van Die Kern het ons almal bladsye wat ons in ons lewens uitgeskeur het, teruggeskryf. Nou is die deel twee en gaan ons vertel waar kreatiwiteit ons gehelp het om seer te oorkom. Ons gaan nie noodwendig in diepte na die seer self kyk nie, ons kan dit ook doen as ons wil, maar ons gaan kyk hoe kreatiwiteit ons gehelp het, na aanleiding van Hekel en word heel.
Enige persoon kan hieroor skryf op haar eie blog of Facebook en dit by die ander soortgelyke stories voeg op Inlinkz sodat ander dit ook kan lees.
…………………………………………………….
Hekel en word heel. Brei en word heel. Skryf en word heel. Daarvan het ek ook my eie ervaring. En natuurlik, bid en word heel. Sit by my Here se voete. Huil voor Sy troon. Wag op Hom. Maar hierdie bloginskrywing gaan juis oor fisiese kreatiwiteit. Wat het ek gedoen?
‘n Keer toe ek deur die put van die hel is en ek net wou sit en staar, toe my brein aan niks anders wou dink nie, my liggaam nie krag gehad het om enige ding te doen nie, het ek gebrei. Dis wat ek kon doen terwyl ek sit: brei. Stekie vir stekie. Want al wat dit van my gevra het is om te konsentreer op my breiwerk. Om die patroon te volg. Niks meer nie as net dit. En saam met elke ry wat voltooi was kon ek vordering sien. Groei ervaar. Het ek positiewe hormone afgeskei wat vir my siel goed was. Kon ek uitkoms sien. Kon ek heel word.
‘n Ander keer wat ek ook in ‘n diepe gat was en nie geweet het watter kant toe nie, was net mooi toe die Here vir Gerda van Finesse Goedvoel Blogs gestuur het om vir my te nooi om vir hulle te skryf. En toe ek te moeg was om selfs my hande op te tel, ek geen kreatiwiteit denkbaar gevoel het nie, het die opdrag gekom: Teen die einde van die week moet daar vier stories ingehandig word asseblief. Genoeg om ‘n maand vooruit te kan publiseer, een per week. En daardie dwang om te skryf, dwang om aan iets anders as my krisis te dink, want daaroor kon ek nie op daardie stadium skryf vir die hele wêreld om te sien nie, dwang om verder as my seer te kyk … het ek begin skryf. Want ek wou nie daardie geleentheid mis nie. Want ek het so geëerd gevoel dat ek genooi was om dit te doen. God het daar vir Gerda gebruik om my te dwing om ligter te dink, om my letterlik aan my groottone uit die modder te sleep. En so het my skrywery my al uit baie hartseer gehelp.
Ek het al gehekel deur moeilike situasies, al hoe vinniger. Dit het my gehelp om my mond te hou, om iets te hê om op te fokus, iets om my senuwees te kalmeer.
En toe ek so siek was van Covid en regtig niks anders kon doen as om te lê en slaap en as ek wakker was, te sit nie, kon ek die seebodem van my borduurwerk doen. Al daai goetertjies, sandkorreltjies. En het dit my aandag van my siekte afgetrek. En het die wete dat ek nog kan produseer, kan kreatief wees, my help fokus op gesond word eerder as om die siekte nog ‘n groter kans te gee.
Hekel en word heel. Brei en word heel. Borduur en word heel. Skryf en word heel. Dit is my storie. Wat is joune?
Toortsie
Daarmee kan ek vereenselwig, breiwerk het my deur die donker dae in Kazakhstan gedra. Toe ek gevoel het mens gaan nie weer vir Suid-Afrika sien nie.
LikeLiked by 1 person
Dit moes darem maar erg wees
LikeLiked by 1 person
Dit was, het gevoel of daar nie einde gaan kom nie. Toe maak ek maar maskers en so aan. Dit is soos jy skryf, steek vir steek hou dit mens se gedagtes weg, kyk jy na die produkl en nie jouself en jou omgewing nie.
LikeLiked by 1 person
San, ek het aangedring dat ons eers gaan voel of mens kan oorleef. Ek het regtig gedink mens gaan doodvries, yskaste vries goed stokstyf teen 17 grade Celcius. Hulle het ons help huis kry – ons moes self betaal daarvoor – en ook vir manlief motorbestuurder gegee. En ‘n tolk. Ek kan my werk enige plek doen, manlief kan nie. Dus moes ons gaan. Hy was so opgewonde – ek wou nie in sy pad staan nie. En ons het regtig goeie ondervinding opgedoen.
LikeLiked by 1 person
Ek skryf of skilder as ek so voel. Dit help altyd! Dankie vir jou bemoedigende woorde!!
LikeLiked by 1 person
😊
LikeLike