Una het dit begin …

En Woordnoot het aangegaan … en hier gaan ons al weer op ‘n nuwe avontuur!

Woordnoot het met haar kers-verjaardagpartytjie vir ons elkeen ‘n pakkie in die hand gegee en ons saamgenooi na ‘n Learjet wat saggies op Rebusfontein kom land het en ons voor hierdie lieflike kasteel kom neersit het. In ons pakkies was daar vir elkeen ‘n sleutel …

Ek, sommer voor in die koor, storm behoorlik die kasteel se trappies op, deur die imposante voordeur en gaan staan botstil in die voorportaal. Dis asemrowend verby. Die binneversiering is met smaak gedoen. Geen koste is ontsien nie. Maar die opdrag is dat ons elkeen die kamer moet vind wat ons sleutels oopsluit en vir minstens agt ure daar vertoef sodat ons kan kom vertel hoe dit lyk en wat daar gebeur.

Volg die verhaal HIER waar jy elkeen se skrywes sal vind:

Inlinkz skakel: https://fresh.inlinkz.com/party/6640e82546594147b4ef78a3de36e871

…………………………..

Ek kyk rond – waar sal ek die vertrek vind wat my sleutel oopsluit? Ek hoop nie dit is in een of ander donker gangetjie nie, die gedagte daaraan laat my sommer ‘n krieweling teen my ruggraat voel. Maar voor ek by die trappe opgaan wil ek darem net eers hier ‘n bietjie rondloer. Ek wil mos self alles sien, sê nou nie een van ons Goue Vroue het die sleutels van hierdie vertrekke nie?

Ek draai die eerste deur se knop, maar die deur is gesluit. Die sleutel wil nie eers ingaan nie! Maar by die volgende deur glip die sleutel in. Vol afwagting draai ek die deurknop en die deur swaai oop.

Ek hoor ‘n simfonie-orkes klassieke dansmusiek speel en stap in. Weer eens stol ek in my spore. Hier is ‘n koninklike bal in volle swang! Manne en vroue, nee, prinse en prinsesse, adellikes is besig om hier voor my te dans soos ek maar nog net in die Artscape in operettes gesien het of in boeke van gelees het! Grasieus. Perfek! Die musiek is om jouself totaal in te verloor. En die klere! Die dames se balrokke is die een mooier as die ander, hul dra egte edelgesteentes om hulle nekke en arms, robyne, saffiere, pêrels, diamante … Die mans het almal aandpakke aan, so mooi. En elkeen ken hul danspassies foutloos en weet presies wat om te maak en hoe om elke voet perfek neer te sit.

Egte kristalkandelare soos ek in my wildste drome nie sou kon voorstel nie, hang van die hoë plafonne wat met die hand geskilder is in die mooiste skilderye. Ook die mure is behang met die mooiste skilderye in die lieflikste, swaar rame. Die banke waar die gaste sit, is van die lieflikste donker hout gemaak en gestoffeer in dieprooi en goue tapisseriemateriaal.

Op ‘n effense verhogie sit die koning en koningin op die mooiste stoele met hoë rug- en armleunings met goud versier.

Kelners beweeg geruisloos en amper onsigbaar tussen die gaste deur om hulle te bedien met drankies of wat hulle ookal nodig mag hê. Alles in die fynste goue eetgerei en kristal. Ek staan in verwondering om alles in te neem.

Skielik raak ek benoud. Sê nou hulle sien my! Ek pas mos glad nie hier in nie! Ek kom nou natgesweet uit die warm Suid-Afrika en het glad nie die regte klere aan nie! My hare is nie gedoen nie! Ek staan uit soos ‘n seer oog! Ek hoort met hierdie klere nie eers in die kombuis nie! Wat gaan hulle maak as hulle my sien?

Skielik kyk een van die dansers op en sien my. Hulle stop hul dans onmiddellik. Ander paartjies dans teen hulle vas en kyk ook vir my. Die musiek stop. Aarde, sluk my in! Ek wil weghardloop, maar kan nie.

Dan kyk ek af … en sien … dat … ek … ook ‘n balrok aanhet! Die mooiste, lieflikste vlootblou rok van die mooiste sy. Die lyfie is met silwer sequince versier. Ek het silwer hoë hakke aan en ‘n tiara met egte diamante op my kop. Diamant oorbelletjies. ‘n Lieflike diamanthangertjie om my nek en bypassende armband om my pols. My hare is so mooi gedoen soos wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. En ek ruik die lieflikste parfuumgeur, net genoeg om nie oorweldigend te wees nie. Ek vryf my lippe op mekaar en besef dat ek lipstiffie aanhet, dus sekerlik ook grimering. Ek staan verstom. Wat is hier aan die gebeur? Hoe het dit gebeur?

Die volgende oomblik staan die koning voor my en sê: ‘Welkom, Toortsie. Het julle Goue Vroue gearriveer?’ Toe draai hy om na sy gaste en sê: ‘Dames en here, ontmoet vir Toortsie uit Suid Afrika. Sy is een van ‘n groep dames, die Goue Vroue, wat hierheen gekom het en elkeen haar eie uitgesoekte taak gaan kry. Laat voel haar asseblief welkom. Toortsie stam uit die boerenasie van Suid-Afrika en sy en haar man het die edele taak, nes hulle voorouers reeds geslagte lank doen, voortgesit en dit hulle lewensroeping geag om voedsel te produseer, iets waarsonder geen land kan klaarkom nie. Boere in murg en been. Toortsie, ek het vir jou die balsaal se sleutel uitgekies oor jou liefde vir musiek en dans en jou stille begeerte om nog altyd ballroom dancing te beoefen. Sal jy asseblief die eerste dans met my dans?’

My moed val tot in my skoene. Ek met die koning dans? Regte egte klassieke danse? Ek kan miskien sokkiejol – two step en boerewals, dalk ‘n bietjie twist, maar hier in ‘n regte balsaal? Die dansbaan is skielik leeg en almal staan terug om die volle baan vir my en die koning beskikbaar te stel. Die musiek begin speel. Dit vul my wese. Ek en die koning staan teenoor mekaar, buig … en toe weet my voete presies wat die volgende passie is … want ‘n mens se gene het ‘n geheue.

Dit was ‘n lieflike aand.

Toortsie.

Trommeltjies is volgende.

30 thoughts on “Una het dit begin …

  1. Hoop hulle het ook Strauss walse gespeel, dan ek ek sommer kom inbreuk maak. Dit was nog altyd my droom om op Strauss walse met n balrok oor die vloer te sweef. Wat ń mooi aand, jy is bevoorreg om so in jou droom in te stap.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!