En Woordnoot het aangegaan … en hier gaan ons al weer op ‘n nuwe avontuur!

Woordnoot het met haar kers-verjaardagpartytjie vir ons elkeen ‘n pakkie in die hand gegee en ons saamgenooi na ‘n Learjet wat saggies op Rebusfontein kom land het en ons voor hierdie lieflike kasteel kom neersit het. In ons pakkies was daar vir elkeen ‘n sleutel …
Ek, sommer voor in die koor, storm behoorlik die kasteel se trappies op, deur die imposante voordeur en gaan staan botstil in die voorportaal. Dis asemrowend verby. Die binneversiering is met smaak gedoen. Geen koste is ontsien nie. Maar die opdrag is dat ons elkeen die kamer moet vind wat ons sleutels oopsluit en vir minstens agt ure daar vertoef sodat ons kan kom vertel hoe dit lyk en wat daar gebeur.
Volg die verhaal HIER waar jy elkeen se skrywes sal vind:
Inlinkz skakel: https://fresh.inlinkz.com/party/6640e82546594147b4ef78a3de36e871
…………………………..
Ek kyk rond – waar sal ek die vertrek vind wat my sleutel oopsluit? Ek hoop nie dit is in een of ander donker gangetjie nie, die gedagte daaraan laat my sommer ‘n krieweling teen my ruggraat voel. Maar voor ek by die trappe opgaan wil ek darem net eers hier ‘n bietjie rondloer. Ek wil mos self alles sien, sê nou nie een van ons Goue Vroue het die sleutels van hierdie vertrekke nie?
Ek draai die eerste deur se knop, maar die deur is gesluit. Die sleutel wil nie eers ingaan nie! Maar by die volgende deur glip die sleutel in. Vol afwagting draai ek die deurknop en die deur swaai oop.
Ek hoor ‘n simfonie-orkes klassieke dansmusiek speel en stap in. Weer eens stol ek in my spore. Hier is ‘n koninklike bal in volle swang! Manne en vroue, nee, prinse en prinsesse, adellikes is besig om hier voor my te dans soos ek maar nog net in die Artscape in operettes gesien het of in boeke van gelees het! Grasieus. Perfek! Die musiek is om jouself totaal in te verloor. En die klere! Die dames se balrokke is die een mooier as die ander, hul dra egte edelgesteentes om hulle nekke en arms, robyne, saffiere, pêrels, diamante … Die mans het almal aandpakke aan, so mooi. En elkeen ken hul danspassies foutloos en weet presies wat om te maak en hoe om elke voet perfek neer te sit.
Egte kristalkandelare soos ek in my wildste drome nie sou kon voorstel nie, hang van die hoë plafonne wat met die hand geskilder is in die mooiste skilderye. Ook die mure is behang met die mooiste skilderye in die lieflikste, swaar rame. Die banke waar die gaste sit, is van die lieflikste donker hout gemaak en gestoffeer in dieprooi en goue tapisseriemateriaal.
Op ‘n effense verhogie sit die koning en koningin op die mooiste stoele met hoë rug- en armleunings met goud versier.
Kelners beweeg geruisloos en amper onsigbaar tussen die gaste deur om hulle te bedien met drankies of wat hulle ookal nodig mag hê. Alles in die fynste goue eetgerei en kristal. Ek staan in verwondering om alles in te neem.
Skielik raak ek benoud. Sê nou hulle sien my! Ek pas mos glad nie hier in nie! Ek kom nou natgesweet uit die warm Suid-Afrika en het glad nie die regte klere aan nie! My hare is nie gedoen nie! Ek staan uit soos ‘n seer oog! Ek hoort met hierdie klere nie eers in die kombuis nie! Wat gaan hulle maak as hulle my sien?
Skielik kyk een van die dansers op en sien my. Hulle stop hul dans onmiddellik. Ander paartjies dans teen hulle vas en kyk ook vir my. Die musiek stop. Aarde, sluk my in! Ek wil weghardloop, maar kan nie.
Dan kyk ek af … en sien … dat … ek … ook ‘n balrok aanhet! Die mooiste, lieflikste vlootblou rok van die mooiste sy. Die lyfie is met silwer sequince versier. Ek het silwer hoë hakke aan en ‘n tiara met egte diamante op my kop. Diamant oorbelletjies. ‘n Lieflike diamanthangertjie om my nek en bypassende armband om my pols. My hare is so mooi gedoen soos wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. En ek ruik die lieflikste parfuumgeur, net genoeg om nie oorweldigend te wees nie. Ek vryf my lippe op mekaar en besef dat ek lipstiffie aanhet, dus sekerlik ook grimering. Ek staan verstom. Wat is hier aan die gebeur? Hoe het dit gebeur?

Die volgende oomblik staan die koning voor my en sê: ‘Welkom, Toortsie. Het julle Goue Vroue gearriveer?’ Toe draai hy om na sy gaste en sê: ‘Dames en here, ontmoet vir Toortsie uit Suid Afrika. Sy is een van ‘n groep dames, die Goue Vroue, wat hierheen gekom het en elkeen haar eie uitgesoekte taak gaan kry. Laat voel haar asseblief welkom. Toortsie stam uit die boerenasie van Suid-Afrika en sy en haar man het die edele taak, nes hulle voorouers reeds geslagte lank doen, voortgesit en dit hulle lewensroeping geag om voedsel te produseer, iets waarsonder geen land kan klaarkom nie. Boere in murg en been. Toortsie, ek het vir jou die balsaal se sleutel uitgekies oor jou liefde vir musiek en dans en jou stille begeerte om nog altyd ballroom dancing te beoefen. Sal jy asseblief die eerste dans met my dans?’
My moed val tot in my skoene. Ek met die koning dans? Regte egte klassieke danse? Ek kan miskien sokkiejol – two step en boerewals, dalk ‘n bietjie twist, maar hier in ‘n regte balsaal? Die dansbaan is skielik leeg en almal staan terug om die volle baan vir my en die koning beskikbaar te stel. Die musiek begin speel. Dit vul my wese. Ek en die koning staan teenoor mekaar, buig … en toe weet my voete presies wat die volgende passie is … want ‘n mens se gene het ‘n geheue.
Dit was ‘n lieflike aand.
Toortsie.
Trommeltjies is volgende.
Pragtig geskryf, ek het dit geniet. Wat het julle gedans? Ek sou wou tango.
LikeLiked by 1 person
Jongie, alle soorte! Selfs dié waarvan ek nie die name ken nie.
LikeLiked by 1 person
Wat ń heerlike droom wat waar geword het, Toortsie. Ek sien jou al saam met die koning oor die dansvloer gly. En die musiek! Jou musikale wese is voorwaar gevul.
LikeLiked by 1 person
Dankie dat jy hierdie een begin het.
LikeLike
❤
LikeLike
Wys jou as iets in jou gene is kan jy maar vergeet om jou kop weg te steek. Lekker romantiese tyd wat jy hier beskryf het.
LikeLiked by 1 person
Hulle sê dat gene nie lieg nie, maar hierdie verwysing na gene was tong in die kies. ❤️
LikeLike
Ek weet, ek bedoel ook so.
LikeLiked by 1 person
😁
LikeLike
Ag mooi! En romanties! ‘n rok om van te droom! Mooi musiek…. wat eil mens meer hê?
LikeLiked by 1 person
Praat jy!
LikeLike
Ek ruik romanse…en daardie lieflike balrok!
LikeLiked by 1 person
Nooit! Nie romanse! Ek en die koning is albei getroud! 🙈 Gasvryheid, dis wat dit was. 😁
LikeLike
Nou toe nou!
LikeLiked by 1 person
Ja! 😂 die koningin sit dan langs hom en ek is mos nie so ‘n meisie nie! 😳💃
LikeLike
Oeps! Ek het die stuk van die koningin skoon mis gekyk😅
LikeLiked by 1 person
Op wie het jy jou oog gehad? 😝
LikeLike
Hmmm.Wag tot ek mý sleutel het!
LikeLike
Kannie waggie!
LikeLike
Hoop hulle het ook Strauss walse gespeel, dan ek ek sommer kom inbreuk maak. Dit was nog altyd my droom om op Strauss walse met n balrok oor die vloer te sweef. Wat ń mooi aand, jy is bevoorreg om so in jou droom in te stap.
LikeLiked by 1 person
Ja! Strausswalse. Baie van hulle.
LikeLike
Welgedaan Toortsie…jy het ons kasteel besoek sierlik en grasieus ingelei….maar julle Goues weet dat als nie altyd net mooi is nienê😎
LikeLiked by 1 person
Jaja ons weet! Ek het die maklike ern gekry. 😁
LikeLike
En een van die mooistes!
LikeLiked by 1 person
Dankie dat ek eerste kon skryf.
LikeLike
Ek hou van die koning se opdrag vir elkeen. Ek wonder of almal verby die koning sal moet gaan.
LikeLiked by 1 person
Dit sal ons nog maar sien. Dit klink my die koning het besluit wie watter sleutels moes kry. Seker volgens persoonlikheid of vaardighede ens.
LikeLike
Dit klink opwindend .
LikeLiked by 1 person
Wat sal my spesiale taak wees volgens die koning? Dalk om my eerste storie in maande te skryf? Toorts jou rok is asembenewend mooi
LikeLiked by 1 person
Dankie. Ja, ‘taak’ is dalk nie die regte woord, maar uitdaging. Jy het jou goed van jou taak gekwyt.
LikeLiked by 1 person