Die lang afwesigheid

Hierdie skrywe van ‘Wag ‘n bietjie’ is die inspirasie van my bloginskrywing. Dit gaan oor die man wat gedurende die grendeltyd in Amerika nie sy 98- jarige ma kon sien nie, behalwe deur ‘n venster. Uiteindelik kon hy haar sien. Die verbasing op haar gesig spreek boekdele.

My ma is 93 en soos jy kan verwag, is daar agteruitgang. Merkbare agteruitgang. Ek wonder net soms of die agteruitgang wat ek nou by haar bespeur nét as gevolg van die ouderdom is en of dit aangehelp is deur die grendeltyd?

Al voor die grendeltyd kon ons nie meer noodwendig ‘n sinvolle gesprek voer met ‘n klompie feite in nie. Ek het gevind dat, sou jy oor iemand anders gesels, sy nie die mense kon plaas nie. Sy het egter presies geweet wie ek is en waar ek inpas in die prentjie. Of, sou iemand anders daar by haar kom, sou sy die persoon in daardie oomblik kon plaas.

Geselligheid en gasvryheid was altyd een van haar uitstaande eienskappe lewenslank. Sy het gehou van ‘n interessante, stimulerende gesprek. Selfs nou nog, met die geheue wat uiters kort raak, sal sy gasvry probeer optree.

Maaaarrrr…

Sedert die grendeltyd is ek nie meer seker of sy presies weet wie ek is nie. Sy herken my dadelik, sal vra: ‘Madelé, is dit jy?’, terwyl ek twyfel of sy regtig besef dat ek haar dogter is. Party dae kan ek sien dat sy weet wie ek is, maar ander dae sal sy die hele tyd deur ‘n tydskrif blaai en net soms opkyk en my in die oë kyk sonder om ‘n woord te sê. Dis sulke tye wat ek nie kan help om te wonder of dit natuurlike agteruitgang is en of die vereensaming tydens die grendeltyd nie sy ysterkloue ingeslaan het nie?

Ek aanvaar heeltemal die maatreëls wat ingestel moes word. Ons bejaardes moet beskerm word, veral omdat ‘n toeloop van besoekers by ‘n tehuis chaos kon veroorsaak as die virus vryelik toegang kon hê. My dankbaarheid teenoor die liefdevolle personeel kan ek nie in woorde omsit nie.

Tog werk doofheid en ouderdom en maskers en sosiale afstand en besoeke in vreemde omstandighede nie goed saam nie.

Toortsie

16 thoughts on “Die lang afwesigheid

Gesels saam, asseblief!