Die Krugergeheim

Die Krugergeheim is toe nié waar oom Paul sy miljoene begrawe het nie, die Towerinne het mos in elk geval lank gelede daardie geheim ontrafel.

Wat die Transvalers wel vir ons Kapenaars geheim hou, is hoe ongelooflik mooi die wildtuin hierdie tyd van die jaar is. Ons Kapenaars kom mos tradisioneel Junievakansies Kruger Wildtuin toe, ander tye is dit te … te uhm … wat nou weer?

Nadat ons ‘n paar jaar gelede in September by die wildtuin was, het ek gesê: van nou af kom ek altyd September. Die veld is só droog, jy sien baie diere. En leeus. Sommer langs die pad. Of dalk was ons net ekstra gelukkig?

Elke keer sê my man dat hy graag wil kom as die veld mooi is. In die reënseisoen. Dan dink ek dat jy min diere sal sien, want die veld is mos dan ruig.

So besluit ons om vir Paasnaweek wildtuin toe te kom. Wat ‘n wonderlike verrassing! Wag! Eintlik moet ek nie eers vir julle vertel nie, dan stroom almal van julle in die toekoms in April hierheen en dan is dit vol as ek wil kom. Die veld is onbeskryflik mooi. Dis ‘n lushof! Tot Satara, waarvoor ek nooit lief is nie omdat dit altyd so droog is, is lieflik groen.

Hier is heeltemal genoeg diere om ons te vermaak en hulle doen behoorlik moeite om vir ons plesier te verskaf.

Hier is ook heelwat kleintjies (babatjies) wat aanmekaar ‘n koor van aaaaauuuu veroorsaak. Die olifante geniet hulleself in die poele wat diep genoeg is sodat hulle sommer kan diep insak daarin. Dis nou sommer poele langs die pad waar daar gewoonlik nie eers water lê nie. Tot die seekoei maak ‘n lekker omdraai sodat haar voetjies bo die water uitsteek. Ons verkyk ons aan hulle en geniet elke sekond.

Ek is van voor af verlief op die wildtuin en dink nou by myself dat April beslis die tyd is om hier te wees.

Leeupan

Kyk nou net vir Leeupan. Ek het hom nog nooit so mooi gesien nie. Die vorige keer wat ons huer was, was dit kurkdroog en nie ‘n dier in sig nie. ‘n Ander keer wat ons hier op ‘n bossafari was, is ons te viet om die pan en het ons twee olifante, ‘n renoster, buffels en kameelperde raakgeloop.

Het ek gesê dat ek van voor af verlief is op die wildtuin? Ag, dan sê ek dit sommer weer! Hopeloos verlief, dis wat dit is.

Toortsie

Ns, Transvalers, julle het sekerlik nóg geheime, maar ek het julle nou uitgevang op hierdie een!

21 thoughts on “Die Krugergeheim

  1. Nou is ek plein common jaloers oor waar jy is! My hartsland. Die mooiste tyd is vir my September. Al die nuwe groen is pragtig. In Desember is daar weer baie kleintjies en pragtige blomme. Junie gaan jy weer groen wees, want dan gaan ons vir twee weke soontoe. Baie Noord. Tot by Phunda.

    Liked by 1 person

  2. Ek is bly jy kon die voorskrif kry vir jou Wildtuinkoors, Toortsie! Dit werk enige seisoen. Kom kuier volgende keer in die laaste week van November en eerste week van Desember wanneer die rooiboklammetjies almal op een slag aankom!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!