Die Kern – ‘n Bankroof

Die Goue Vroue pak ‘n splinternuwe uitdaging aan. Dis nou, so tussendeur hulle avonture op Rebusfontein en dan is daar boonop die maandkalender waar elkeen foto’s met ‘n storie skryf.Maar hierdie, HIERDIE IS DIE ONTKNOPING VAN ELKEEN SE DIEPSTE HARTSGEHEIME.

Diep in die hart van hierdie geel bladsye vesonke lê die geheim opgesluit.

Nie eens onsigbare ink of kodifisering verbloem die geheimenisse nie. Elke vrou het haar ontblote geheim versigtig uit hierdie boek verwyder…uitgesny!

Met net mooi genoeg provokasie sal elke vrou dalk, ja dalk tóg! een vir een hulle bladsye terugskryf sodat die leser kan agterkom HOE en WAT en HOEKOM elkeen in haar eie reg geluk gevind het.

Het jy ook ‘n geheim wat jy wil uitskryf? ‘n Ware geheim of ‘n fiktiewe een? Wil jy ook graag deelneem aan hierdie uitdaging? Skryf jou storie op jou blog en haak dit aan by hierdie skakel, waar al die ander se geheime ook gebêre word.

https://fresh.inlinkz.com/p/567e0dbec3284abbacab09e8d73f276e

…………………………………………………………………….

Ek sit op die meent saam met die ander Goue Vroue en luister na almal se stories, hoe hulle hulle uitgeskeurde bladsye terugskryf, hoe hulle lewens heel geword het. Sit sommer en dagdroom so tussenin, toe Seegogga vir my die boek in my hand sit. Dit is my beurt om te skryf! Sal ek skryf van die traumas wat ek in my lewe deurgegaan het wat my lewe amper uitmekaar geruk het en hoe ek heel geword het met God se genade, die Goue Vroue en ander maters se ondersteuning, deur fanaties te hekel en te brei en te borduur en resepteboek te skryf, klavier en kitaar te speel, my hart by my klavier uit te huil, in die berg saam met my man te stap, te skryf in my bidboek?

Maar toe dink ek, nee! Ek moet vir julle hierdie storie vertel!

Ek begin vertel:

“Ek weet wie die bank beroof het. Ek ken die skuldiges! Ek weet dit al al die jare! Ek praat van die groot bankroof wat in Johannesburg gebeur het in 1970. Dit was groot nuus. ‘n Groot skok vir die hele land, selfs vir die wêreld. Niemand het geweet hoe die bankrowers dit reggekry het nie, hoe hulle so slim was en letterlik al die sekuriteit wat daar was, gefnuik het nie. En die ergste van alles, in al die jare is hulle nog nooit opgespoor nie. Die bankrowers het eenvoudig alle spore agter hulle uitgevee.

En ek loop my hele lewe lank nog met die geheim in my hart rond.

En om dit hier te skryf, stel my lewe in gevaar.

Julle het geen idee watter vrees en angs ek my lewe lank in my hart dra nie, wegsteek nie. Want niemand moet dit agterkom nie. Niemand mag dit weet nie. Die mense dink dat ek maar hierdie lawwe, loskop, mal vrou is, maar hulle weet nie watter groot geheim ek agter dit wegsteek nie. Ek praat partykeer sommer aspris lawwe dinge, net sodat mense moet dink dat dit maar weer een van my lawwe stories is, dat ek in my eie wêreld is wat ek vir myself geskep het. Sodat hulle nooit sal uitvind nie. Want hulle mág nie uitvind nie. Want van daardie mense leef vandag nog en ek ken hulle!”

Die Goue Vroue sit oorgehaal en luister.

Christa: “Toortsie, is jy ernstig? Vertel meer?”

Toortsie: “Ek was maar net agt jaar oud, ‘n ou kleine krulkopdogtertjie. Ons het gekamp op Struisbaai, met ons karavaan. Die grootmense het gekuier van tent tot tent, stories vertel, gelag, nonsens gepraat. Ons kinders mag gesien word, maar nie gehoor word nie. Ons het gespeel. Wegkruipertjie tussen die karavane. Toktokkie. Krieket.

Soms het ons sommer net gedwaal.

En dis tóé, met ‘n dwalery, wat ek dit hoor. ‘n Klomp ooms het ‘n bankroof beplan! Stukkie vir stukkie. Hoe hulle gaan maak. Wie wat gaan doen. Die rewolwers. Die voertuie. Die voorryers, die agterryers. Hoe hulle gaan kommunikeer. Hoe hulle gaan wegkom van die bank af. Selfs waar hulle die geld gaan wegsteek. Wat hulle met die geld gaan maak. Hoe hulle hulle onskuldig gaan hou. Hulle alibi. Álles is in detail beplan.

Ek het net doodstil staan en luister. Ek kon nie glo wat ek hoor nie. Eintlik het ek dit nie verstaan nie, want wat weet ‘n ou agjarige dogtertjie nou van banke en bankroof af? Ek het gedink dat die ooms maar net ‘n doppie te veel gedrink het, of iets.

Toe kyk een van die ooms op en sien my. Hy het my diep in die oë gekyk, stadig opgestaan en na my toe gestap. Hy het sy hand so agterom my nek gevat en my hard gedruk. Dit was seer. En hy het vir my saggies, so tussen sy tande deur gesê:

A S J Y V I R E N I G E I E M A N D H I E R V A N S Ê , M A A K E K J O U D O O D , V I R J O U E N J O U B R O E R S E N J O U P A E N J O U M A .

Trommeltjies: “Nooit!”

Toortsie: “Ek was só verskriklik bang! Dit is groot ooms! En ek wil nie doodgaan nie! En ek wil nie hê my ouers en my broers moet doodgemaak word nie!”

San: “En toe, Toortsie?”

Toortsie: “Ek het sommer see toe gestap en daar agter die sandduin gaan sit. Ek was so naar dat ek opgegooi het. Vir drie dae aanmekaar. My ma kon nie verstaan hoekom my maag so omgedolwe was nie, ons het tog niks vreemds geëet nie. Sy het gedink dat dit dalk van die son was.”

Una: “Ons arme, arme Toortsie!”

Toortsie: “Eers het daar niks gebeur nie, daar het ‘n lang tyd verby gegaan en ek het begin ontspan, maar toe kom die nuus: Daar is ‘n bank beroof in Johannesburg. Ek was van voor af siek. En bang.

Maar ek kon nie praat nie.

En niemand het gedink dat ek, ‘n agjarige dogtertjie sou weet wie dit gedoen het nie.

Maar ek hét geweet.

En stilgebly.

Tot vandag nog.”

Sonell: “So, Toortsie, jy sê jy weet wie dit was? En dat die mense nog leef?”

Toortsie: “Ja, ek het nie almal geken nie. Die meeste van daardie ooms is al dood, die een is nog in die ouetehuis. Hy moet nou omtrent by die neëntig wees.”

Frannie: “Toortsie, dink jy regtig dat hy nou nog sal onthou dat jy iets geweet het, veral dat jy ná al die jare nog nooit iets gesê het daarvan nie?”

Toortsie: “Raai, Frannie, noudat jy dit noem, ek is nou nie eers heeltemal seker of hy nog wel leef nie, ek het hom baie lank laas daar gesien. “

Positief: “Toortsie, dan dink ek nie jy hoef meer bekommerd te wees dat hulle jou iets kan aandoen nie. Maar noudat jy daarvan praat, kan jy onthou waar hulle gesê het dat hulle dit gaan wegsteek?”

Woordnoot: “Ja, Positief, NOU praat jy reg! Toortsie, waar was dit?”

Toortsie: “O aarde! Julle weet mos dat ek nie name kan onthou nie! Ek dink dit was iewers in die Karoo. ‘n Piepklein dorpie waar een van die ooms ‘n familielid gehad het met ‘n plaas. ‘n Plek waaraan niemand sou dink nie. Wag! Dis Riet … uhm … uhm … Rietvlei? Rietdam? Watter riet sal dit wees? Ek onthou dat die een oom gesê het dat hulle net moet onthou: By Rietfontein se leidam waar die reier staan en droom …”

Appeltjie: “Ek weet nie of ons daardie rietfontein uitgesnuffel sal kry nie. Hoeveel Rietfonteine is daar in ons land? En ís dit nou Rietfontein? Ons weet almal van Toortsie en name.”

Aalsie skud net instemmend haar kop. Ja, ons weet, ons weet.

Sonell: “Toemaar, Toortsie, ek dink jy kan nou maar ontspan. Dit lyk vir my die ooms wat jou lewe bedreig het, lewe nie meer nie of kan in elk geval nie meer onthou nie en om vir daai oom in die ouetehuis te loop vra, gaan ook nie eintlik help nie.”

Toortsie: “Regtig, Sonell? Dan is hierdie bladsy mos nou heel. Teruggeskryf. En kan ek die boek vir iemand anders aangee.”

Seegogga: “Ai, Toortsie, ek is regtig bly oor jou heel bladsy en alles, en soos jy sien is dit die moeite werd om oor die dinge te praat. Maar ek is darem so effens teleurgesteld dat jy nie die naam van die plek kan onthou nie. En soos ek jou ken, is die plek se naam nie eers iets met ‘n Riet te doen nie.”

Virgo: “Toortsie! Party mense kan ‘n mens mooi aantrek, maar nêrens heen neem nie. ‘n Hele bank se geld! Wat kon ons nie alles daarmee doen nie? Maar ek is baie bly dat jy nog leef om vir ons die storie te kan vertel. Dat daai ooms jou nie iets aangedoen het nie.”

Verlig dat hierdie nare storie uiteindelik lug gekry het en Toortsie verlig is dat sy ontslae is van die groot las wat sy al die jare moes dra, dat haar stukkende bladsy in die boek teruggeskryf is, sit sy terug in haar stoel en wonder vir wie sy die boek volgende kan gee?

…………………………………..

Ns. Suiwer verbeelding van die Toortsie. Niks hiervan is waar nie.

22 thoughts on “Die Kern – ‘n Bankroof

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s