xxxis

Nou, met Prins Harry en Meghan Markle se onderhoud met die pers, word baie heilige koeie op die tafel gesit. Ek het ongelukkig nie die onderhoud gekyk nie, maar sal nog mettertyd ‘n bietjie daaroor wil lees. Dit klink my dat rassisme sommer nou ook een van die onderwerpe is wat aangeroer word.

Ek dink dat, diep in ons harte, elkeen van ons tog ‘n mate van rassisme het. Ek probeer om dit regtig nie te wees nie. ‘n Rassis nie. Want elke mens is ‘n skepsel van God en daarom vir Hom van waarde. Tog is dit vir my mooi om te onthou hoe ons ‘n Italianer kon uitken. Of ‘n Portugees. Aan sy gelaatstrekke. Of ‘n Sjinees, al dink ek ons gee sommer al die Oosterlinge die naam, Sjinees. Maar, om iemand uit te ken dat hy aan ‘n sekere ras behoort, beteken nie dat ek dink ek is meer of minder werd as daardie persoon nie. Of dat ek nie met hom sal praat nie.

Nou die dag hoor ek ‘n ander term: Klassis. Ook waar. Dalk is daar mense by wie ek gemakliker gaan voel as by ander. Maar dat ek ‘n klassis is? Ek hoop nie so nie. Of nie té erg nie.

Snobis?

Oeeee, maar wat ek dalk erg is, is ‘n integri-is. Integritis? Integrïs. ?? Ek weet nie of daar so ‘n benaming is nie en wat die regte benaming is daarvoor nie. Integriteit tel vir my baie. Eerlikheid. Opregtheid. ‘n Persoon wat my in die oë kyk sonder ‘n verskuilde agenda. Daardie persoon trek my nader, ongeag of hy blou of pienk of rooi is, of watter taal hy praat.

Of belangstellings. Dis wat my trek. Mense met wie ek lekker kan gesels en kuier wat my belangstellings deel.

En waardesisteme. Dit is nogal vir my belangrik. Eintlik baie belangrik.

So, wat ek wil sê, is dat dit vir my belangriker is wat in die persoon se hart aangaan as in sy beursie, of wat ek dink in sy beursie aangaan. Dat sy beursie my glad nie pla nie. En dat die hart vir my belangriker is as sy afkoms of sy ras of klas of kleur of taal. En of hy met die trein of die vliegtuig gery het. Natuurlik is dit net baie makliker om met ‘n Afrikaanssprekende persoon te kommunikeer wat dieselfde belangstellings as ek het.

Mooi loop

Toortsie

23 thoughts on “xxxis

  1. Ek het nie die onderhoud gekyk nie maar dis nommer een omdat ek nie TV het nie en nommer twee omdat ek nie data het nie en nommer drie, dit is hulle lewens en hulle het redes hoekom dit nou nodig was om die wasgoed bietjie uit te skud. Ek wet wel so hier en daar iets gehoor en ja, my opinie daaroor is nie belangrik nie. Ek wil self net nie in n boksie gesit en gelabel word nie. Was al as ‘n snobis gelabel. Ek vra ook daagliks dat ek die hart sal raaksien….al die ander goed is onbelangrik.

    Liked by 1 person

      1. Blykbaar het iemand voor die geboorte gewonder of die baba se velletjie donker of lig gaan wees. Dit is ‘n logiese vraag, mense het ook gewonder of my kinders my blas vel of hulle pa se ligte vel gaan erf. Ek het dit op geen manier as beledigend beskou nie.

        Liked by 1 person

  2. Ek werk elke dag met bruin en swart kibders. Op n stadium was daar somaliërs ook by en wit kinders. Maar ek sien net n kind raak. Vra my nou hoeveel van wat daar is en ek weet nie

    Like

  3. God het ons almal ‘dieselfde’ gemaak – wie is ons om ander as ‘minder’ te sien as ons self? Ons het almal dieselfde liggaamsdele -dus is ons ‘mense’ en al wat verskil: velkleur/smake/voorkeure/afkeure ens. God het die mens gemaak en in die Bybel het hy gese ” En dit was goed”.

    Oor Megan – ek dink sy is iemand met ‘n probleem en sy gaan nog swaar trek aan dit. Die ‘secret’ troue is een voorbeeld. Daar was nie so iets nie, in Engeland, is daar ‘n wet hoe ‘n troue kan voltrek word en volwaardig gesien word as ‘n troue: in die Kerk/Registrateur se kantoor of enige ander gebou wat deur die regering goedgekeur is waar ‘n troue voltrek kan word. Dus, basies was hulle nie in die geheim getroud nie! Eerste leuen. Daar is meer …

    Oor die velkleur – opgeblaas, ek stem saam met Christa – dit moes net so terloops genoem gewees het – soos baie mense wonder oor hulle ongebore baba.
    Ek dink sy en Harry is groot aandagsoekers en Harry is onder haar invloed. Ek het nie die onderhoud gekyk nie, wil ook nie, maar het enkele ‘clips’ gesien en daar’s een waar sy vir Harry ‘stil maak’. Hoekom? Sy wil antwoord en seker maak sy gee die ‘regte’ antwoorde.

    Nee wat, ek dink niks van die tweetjies nie – hulle wou finansieel onafhanklik wees en nou skree Harry links en regs sy pa wou hom nie ondersteun nie??

    Sy soek aandag en kry dit op die regte manier en sy gaan nog meer dinge doen – hou haar dop. Ek hou nie van haar nie, baie ‘nasty’. Waarom dit so openlik in die publiek doen en jou skandes vir almal uitblaker?

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!