Foto-storie – ‘n bietjie kleur

Christa vra: Wat is die storie agter die foto?

Ek was nog op skool toe ek al die eerste grys hare uit my kop getrek het. In my laat twintigs het die eerste grys tekens begin wys en van vroeg in my dertigs moes ek iets begin doen om dit weg te steek. Sommer gou het dit ‘n ‘werk’ begin raak, iets wat my geld gekos het wat ek nie regtig gehad het nie. Dit het tyd ook gevra.

Ai, en drie weke nadat ek dit laat kleur het, het die grys lyn teen my kopvel al weer gewys. Ná 4 weke het dit te lank begin raak en tot ek weer op 6 weke laat knip het, was dit gewoon slordig. Dan het die proses weer van voor af begin.

Toe laat groei ek die kleur uit.

Maar soms, veral aan die einde van die jaar as ek moeg was en ek op pad see toe is en die vakansie begin met ‘n haarknip, het ek so vaal gelyk en gevoel. Oorwerk, oormoeg, oorgejaagd, oorvaal. En dan het my waaghalsige haarkapstervriendin my malle versugting ernstig opgeneem.

Dán het ek kleur nodig gehad. ‘n Veertjie bloedrooi. Of selfs ‘n bietjie blou. Elke keer iets anders. Opwindend anders. Dit het my woema gegee, ‘n huppel in my stap.

Hierdie keer het ek my hand oorspeel in die instruksies. Wel, dit wás skreeusnaaks en gróót pret.

Deesdae gedra ek myself. Vir die oomblik. Mens weet nooit wanneer die lawwigheid my weer oorval nie.

Toortsie

28 thoughts on “Foto-storie – ‘n bietjie kleur

  1. Ag dis te lekker om so nou en dan n bietjie kleur aan jou hare te gee. Ek het meer muisvaal hare gehad as blond. Gereeld bietjie blond ingewerk en high light in gesit. Die kleursrl maak hare op einde die hare droog en kleurloos. Wil steeds party dae so rooi, pienk, blou of gron streep insit.

    Liked by 2 people

  2. Pragtig, Toortsie, ek sou dit. ooit gewaag het nie. Ek sit nie strepies in my hare nie, maar kleur gereeld om dit te laat blink. Een kleur my hele kop oor, wat ek self doen, dus kos dit nie arm en been nie. Tans kan ‘n haarkapper mens maklik R1000 uit die sak jaag vir ‘n sny en kleur. Ek speel met my hare, los of vas, om anders te voel. Jy is absoluut waaghalsig, en dit lyk baie mooi.

    Liked by 1 person

  3. Jy kry nou kleurel wat jy by jou conditioner gooi dan kleur dit jou ahre rooi, groen, pers, turkoois maar dit was uit na so drie wasse. EK het pers gekoop maar die Oom het dit weggesteek/weggegooi…..ai tog. Mens kan maar net nie altyd wen nie!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!