Hekel

Iemand skryf op die ‘Ons Hekel’ groep op Facebook oor die neusoptrekkerige opmerking wat iemand vir haar gegee het, blykbaar dat die persoon nog nie oud genoeg is om te hekel nie. Ja, wel. Sommige mense trek steeds hulle neuse daarvoor op en dit is hulle eie voorreg, hulle kan seker met hulle neuse maak wat hulle wil!

Ek was sommer nog ‘n kleine dogtertjie toe my ouma Ellie my leer hekel het. Sy het oumablokkies gehekel wanneer sy by ons kom kuier het. My ouma Lenie het die lieflikste tafeldoeke gehekel met baie dun gare, nie Tridalia nr 5 of 8 nie, eerder Mecer no 20! Sy het my leer hekel van ‘n patroon af en as hoërskoolkind geleer om met gare te hekel.

Ek het graag gehekel, maar gou agtergekom dat daar mense is wat dink dat hekel benede brei is. Wel, ek kon ook brei op ‘n baie jong ouderdom. Ek was in Sub B, deesdae se Graad 2, toe ek by tannies Mags en Willa loseer het. Tannie Mags het heeldag en aldag gebrei en kort voor lank het sy vir my ook geleer hoe. Ja, ek kan brei. En ek is mal daaroor. En ek kan hekel. En mal daaroor ook. En tot vandag toe kan ek nie verstaan hoekom sommige mense hekel as minderwaardig ag nie. As iets wat ‘oumas’ doen. Gelukkig is ek mos nou ‘n ouma en mag ek hekel na hartelus! 🙂

As tiener het ek graag op die stoep by die see gesit en hekel, kan jy nou meer. Nie met die kêrels rondgeloop nie. Ek onthou dat ‘n tannie vir my gesê het dat ek dit nie moet doen nie, hekel, bedoel ek nou. En beslis nie op die stoep nie. Wel, ek het seker daardie tyd soos ‘n oujongnooi met my hekelpen gelyk? Vir ander mense, natuurlik, want ek het nie gedink dat daar fout met my was nie. Ek dink dit steeds nie! En snaaks genoeg, ek hét op ‘n vroeë ouderdom my droomman ontmoet en getrou, lank voor die ware oujongnooiskap my sou tref. Gelukkig het my hekelry hom nog nooit gepla nie!

Soos reeds gesê, mag mense sekerlik hulle neuse optrek wanneer en hoeveel hulle wil. Ek sal tog aanbeveel dat, indien hulle dit wel doen, hulle dit ingelig doen. Want ek kry die idee dat baie mense hulle neuse optrek vir handwerk, spesifiek hekelwerk, uit onkunde.

Want hekelwerk is ‘n kuns. Dit verg intelligensie om ‘n ingewikkelde patroon te lees en uit te voer. Dit verg hand- en vingervaardigheid en ‘n aanleg daarin om dit te doen. Dit verg ook uithouvermoë. Maar, soos wat soveel mense kan getuig, is dit absoluut vervullend om te doen. Heerlik! Bevredigend. Jy kan vir ure daarmee besig wees sonder om verveeld te raak en wat die lekker daarvan is dat jy, soos wat jy daarmee besig is, onder jou hande die vordering kan sien. Dit is opbouend vir jou gees en gedagtes en so lekker om ‘n artikel te voltooi, ongeag wat dit is.

Ek is verskriklik bly dat my oumas daardie tyd al vir my die kuns aangeleer het.

Toortsie

30 thoughts on “Hekel

  1. Toortsie,dis sooo waar! Om ‘n hekelpatroon te volg verg intellek en om met dun penne en gare ingewikkelde patrone te hekel is bo meeste mense se vuurmaakplek. Ek verkies nietemin hekel bo brei omdat 1 3-been hekelry dieselfde lengte as 3 gebreide rye oplewer.🤩

    Liked by 1 person

    1. Ek dink ook hekelwerk is vinniger as brei. As ek nou dink hoe lank ek verlede jaar met daardie Coronasjaal besig was wat ek gebrei het. As dit hekelwerk was, was dit binne ‘n week klaar. Maar albei is heerlik. Nou moet ek net daardie blommetjies klaarkry!

      Like

  2. Handwerk is net vir my hopeloos te stadig. Ek dink my lus is op skool geblus toe ons vir ‘n jaar aan ‘n romp moes werk! En dan my skoonma wat besluit het as jy nie altyd ‘n handwerkie iewers het nie, is jy nie ‘n goeie vrou nie. Ek het probeer om ‘n “goeie vrou” te wees totdat sy my betig het oor ek “verkeerd” borduur.
    Ek kan lees. Dit gaan vinnig en dis interessant en jy kan dit nie verkeerd doen nie. Nou hoop ek net dat ek ‘n paar kratte vol boeke en ‘n vergrootglas eendag saam met my ouetehuis toe sal kan neem!
    Geniet julle handwerk!

    Liked by 1 person

  3. My ma was ook maar ‘n breier. By haar soort van geleer maar nooit regtig kans gehad om te ontwikkel nie. My eerste jaar van skoolhou het die oom waarby elk geloseer het my gewys hoe mens brei sonder om joy hele hand te gebruik om wol oor te dra. Van daaraf was daar geen keer aan brei nie. Ek lees ook patroon en kannie sommer uit my kop uit brei of hekel nie. Toe byt die hekel gogga my nadat ek getroud is en by VLU aangesluit het waar ons artikels moes hekel. Fyn hekelwerk gedoen daardie tyd. Ook op n stadium stelletjies gehekel op aanvraag. Dis beslis ontspannend en ander kan maar neuse optrek, dit bly mooi werk.

    Liked by 1 person

  4. Ek wens ek kon hekel, maar het nooit geleer nie. Ek hou van brei – dit gaan stadig vir my, tog het ek verlede jaar twee komberse gebrei vir twee kleinkinders. Die ander twee sal moet wag tot die einde van hierdie jaar 🙂

    Liked by 1 person

  5. Ek het nogal destyds vir my n boek gekoop om my te keer hekel, maar baie goeie voornemens sneuwel. Muskien kan ek dalk tog nog leer. Ek is mos nou n vlv tannie. Jou hekel- en breiwerk is pragtig, Toorts!

    Liked by 1 person

  6. Hekel laat my werklik ontspan. Om te dink die stokperdjie bevat net ‘n naald en ‘n bol wol! Wat jy met die grootste gemak oral heen kan vat. By my vorige werk het baie vroue gehekel – van jonk tot oud! Die kritici van hekel kan ook gerus google en kyk hoe gewild hekel oorsee is.

    Liked by 1 person

  7. Hoe praat jy na my hart. Ek kan brei en hekel en is versot daarop. Hekelgroep? Iemand na aan my het gevra dat ek vir haar iets hekel, maar sy nader my net wanneer sy my kan gebruik. En dan laat ek alles staan en help. Ek het nou so baie om te doen, dat ek dit nie vir haar gaan doen nie. Ek. oel as ek kon leer, kan ander ook. Dit is bevrydend.

    Liked by 1 person

  8. Ek het baie onlangs eers geleer hekel en geniet dit baie meer as om te brei. Ek was altyd een van daai wat my neus opgetrek het, maar nou trek ek my neud op vir mense wat nie kan nie, hang seker maar af waar jy in jou lewe is nê?

    Liked by 1 person

  9. Hekel kraai koning in my huis. Ek kan beide doen, maar verkies hekel, dit gaan mos vinniger as brei. Ek sou wat wou gee om die fyner werk te kon doen, maar dit is my nie beskore nie. Toortsie daarenteen kan enige iets doen waarop sy haar versier stel. Doe so voort!!!

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s