Rooikappie

Nikita skryf van ‘n oulike projek wat hulle by die skool gaan doen. Hulle gaan die storie van Rooikappie van ‘n ander kant benader. Die kinders moet die storie oorskryf, maar uit die oogpunt van een van die ander karakters, bv die ouma, of die houtkapper of die wolf.

Ek was baie lief vir kinderstories. Rooikappie. Goue lokkies en die bere, Die drie varkies, Die sewe dwergies. Ag, nou kan ek nie die name van nog van daardie stories onthou nie. Die regte, egte outydse kinderstories. Meestal Europese stories wat iewers in ‘n bos gebeur het. Dit is seker die rede waarom ek so graag toe ons in Europa was, net iewers in ‘n regte bos wou loop. Nie ver nie, want dan sou ek verdwaal, maar net die bosgevoel ervaar.

Ek het eers op ‘n latere ouderdom, toe my eie kinders klein was, gehoor dat daar eintlik ‘n storie of ‘n lessie agter elke storie was. Dalk het ek tog onbewustelik die lessie geleer, want ek het tog altyd geweet om versigtig vir wolwe te wees. Maar ek was nie paranoïes en het ‘n wolf om elke hoek en draai gesoek nie. Ek het ook nooit besef dat Rooikappie se storie dalk wreed is en dit vir kinders kan bangmaak nie.

Want dalk is dit nie op so ‘n manier vir my vertel nie. Dit was sommer terloops dat die wolf vir die ouma en wie nog almal ingesluk het. En op die ou einde word die wolf mos oopgezip en klim almal uit sy maag uit. Hoe wreed is dit tog regtig? En die wolf wat vir ouma insluk is gewoonlik sommer toevallig genoem of ‘n bietjie gedramatiseer, maar niks ernstig nie. En hy is op die ou end dood, so waarvoor moet ons nog bekommerd wees?

Dalk is dit omdat ek in ‘n veilige omgewing grootgeword het, waarvoor ek my ouers oneindig dankbaar is. Daarom dat ek nie dit as wreed ervaar het nie, want dit was nie vir my bekend nie.

Vandag, egter, besef ek dat daar baie ‘Rooikappies’ in ons samelewing rondloop. Dogtertjies en ook seuns wie nooit die voorreg gehad het om voluit kind te wees nie. Kinders wat op ‘n vroeë ouderdom met die wolwe van die samelewing kontak moes maak en hulle moes hanteer terwyl hulle geensins geweet het hoe om dit te doen nie. Ek kan verstaan dat stories soos Rooikappie vir hulle dalk baie nader aan die vel sou voel as vir die kind wat dit gespaar kon bly.

Sjoe! As ek nou dink, besef ek eintlik hoe naïef ek was, as kind, maar ook toe ek my kinders grootgemaak het en dat ek baie meer op God se beskerming staatgemaak het as wat ek ooit kon besef. En dat Hy hulle baie meer beskerm het as wat ek ooit kon dink. Dalk kan ons ook, soos Tommy Lessing voorstel, begin neerskryf van al die kere wat God ons beskerm het of geveg het vir ons, of waar Hy spesifiek ingegryp het. Nie net melding maak van die geleentheid nie, maar die gebeure neerskryf. Want ek weet dat ek later die feite rondom dit vergeet, selfs die geleentheid vergeet. Want eintlik is dit net ‘n genade om ‘n Rooikappie te wees wat beskerm was.

Toortsie

12 thoughts on “Rooikappie

  1. As jy kyk na al die ‘wolwe’ van vandag – dan is dit wolwe en wolvinne ook en dis nie net meer ‘in die bos’ nie, maar oral, selfs aanlyn ook. Ons kleinkinders word in ‘n ander tyd groot as ons eie kinders.

    Liked by 1 person

  2. As onderwyseres het ek ook baie feëverhale en bekende stories vertel en dit laat speel deur kindertjies. Dit gaan nie oor elke wolf wat moontlik daar kan wees nie dit gaan tog eintlik oor dat mens/kind soos Rooikappie liewers reguit na Ouma gaan want daar kan “wolwe”opduik. Die kinders van vandag se stories is vir my amper erger met die drake, dinousorise en eenhoring perdjie. Daar is altyd ‘n waarskuwing by wat deur volwassenes uitgewys moet word wat nie altyd gebeur nie.

    Liked by 2 people

  3. Hierdie metode wat ons gebruik om die storie vanuit ‘n ander oogpunt skryf leer die kinders om mekaar se opinies te respekteer en te aanvaar dat ander opinies ook dalk reg kan wees. Ek het ook in SA die rolspeel gedoen met kinders, maar nie op hierdie manier nie. Die kinders het ook hul eie weergawe geskryf, maar nie van die ander karakter se siening nie. Ek hou veel eerder van hierdie manier van storie skryf. Ek dink ook dat die storie meer daaroor gaan dat dit ‘n ‘waarskuwingstorie’ is – die ouma speel ‘n sosiale rol in die familie en die ma wou die kind net waarsku teen die gevare in en rondom die bos – wilde diere en veral die wolf, wat in Europa – op daardie stadium seker maar ‘n groot gevaar was – daarom is hulle gejag en so te se heeltemal uitgewis, voordat hulle weer begin terugkeer het. Ek glo nie sy was alleenlik na die ouma omdat daar nie wolwe was nie, sy was juis gewaarsku dat daar ‘n wolf mag wees – in die omgewing van die ouma. 🙂

    Liked by 2 people

      1. Ja, want elke karakter sal kom verduidelik waarom hy op ‘n sekere manier opgetree het – deel van rolspeel – en so ook in die regte lewe, jy moet die ander ou kans gee om te verduidelik wat gebeur het en luister na sy kant van die storie ook. 🙂

        Liked by 1 person

  4. Ek weet nie of jy twitter het nie, Toorts. Sien hierdie ‘trend’ aan hierdie kant: ‘Six Dr. Seuss books will no longer be published over ‘hurtful and wrong’ imagery’ – ai tog! Wat’s volgende – hoeveel meer ander boeke en die arme ou se dogter se hy het nie ‘n greintjie rassisme in hom gehad nie.

    Liked by 1 person

  5. en wat Hansie en Grietjie? Ek het as kind al ‘n renons gekry in stiefma’s wat die kinders so mishandel. en Aspoestertjie? Die een wat onderdruk word omdat die ander jaloers is en eintlik weet hulle skiet ver tekort. Aan die ander kant het ek ook altyd gewonder, hoekom het die mans in die kinders se lewens nie opgestaan vir hul kinders nie.

    Like

    1. Sjoe ja! Hansie en Grietjie. En arme Aspoestertjie. Omdat die stories altyd mooi geeïndig het en ek dink dat my ma die slegte deel daarvan ‘liggies’ vertel het, het ek dit nie altyd besef nie. Of dalk het die redding gou genoeg gekom. Ja, die ouers wat nie opkom vir hulle kinders nie…

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s