Geloof

Ek het aan die begin van Februarie ingespring om saam met Scrapydo elke dag ‘n Bybelvers oor geloof te skryf, maar het letterlik uit die bus geval! Toe ek die uitdaging gesien het, het ek dadelik aan Hebreërs gedink, daardie wonderlike hoofstuk oor geloof, maar wou eers oor ‘n paar ander verse skryf. Die hele Hebreërs 11 verwys na mense wat geglo het. Die 1983-vertaling, waarvoor ek besonder lief is sê elke keer ‘omdat xxx geglo het’, terwyl die 2020-vertaling sê ‘deur geloof’. Hoe mooi!

Omdat Abel geglo het, het hy … omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het … Omdat Noag geglo het … Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is … Deur geloof het ook Sara …

Hierdie hoofstuk het ek ‘ontdek’ aan die einde van my matriekjaar by die skoolverlaterskamp op Betty’s Baai. My neef was op daardie stadium in die lugmag by Valhalla. Hy het verjaar en sou saam met een van die lugmagoutjies wie ‘n klein vliegtuigie gehad het, terugvlieg. Vier lugmagoutjies. ‘n Rukkie nadat hulle opgestyg het, het hulle verdwyn. Die weer was baie sleg, die radioverbinding het nie gewerk nie en hulle het nie hulle bestemming bereik nie. Vir ‘n hele week lank is daar na hulle gesoek. Dit was in 1980, lank voor die bestaan van selfone. Die hele land het na hulle gesoek.

In daardie week het Hebreërs 11 vir my ‘n werklikheid geword. Het ek die woorde ingedrink. Vir myself geneem. Gehou daaraan en aan my God geklou. Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop (vers 1), o, ek was baie seker waarvan ek hoop. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon (vers 6).

Daar is gevrees dat hulle dalk weggewyk het om die digte wolke mis te ry en in, toe, vyandige gebied beland het. Soveel vrae. Soveel onsekerheid.

Waarvoor ek gebid het? Natuurlik dat hulle gevind word, hopenlik lewendig. Maar beslis dat hulle gevind word. Dat die soektog nie sal ophou nie. Hulle was gevind. Iemand het iewers iets sien blink en bo in ‘n berg, slegs drie meter (of was dit ses) van die top af het hulle vasgevlieg. Slegs drie meter tussen lewe en dood en sou hulle oor die berg kon kom, in mooiweer kon land. Die genade van God om hulle ouers te ondersteun. Die genade van God dat hulle nie die soektog afgelas het en hulle ouers nie tot hulle dood met daardie vraag in hulle kop moes loop van waar hulle kind is en of hy dalk nog lewe nie.

Heb 11:1 Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.” (2020 vertaling)

Ek weet, sonder twyfel, dat my God leef, dat Hy betrokke is in ons lewens, in ons goeie tye, maar ook in ons swaarkrytye. Dat Hy ons vashou wanneer dit sleg gaan, dat Hy ons dra deur ons krisisse. Want Hy doen dit daagliks vir my.

Toortsie

7 thoughts on “Geloof

  1. Dankie vir die stukkie. Dit is pragtig geskryf en gee die hart van die gelowige so mooi weer. Jou verhaal laat my ook dink aan die geloof van Daniël se vriende toe hulle met die vuuroond gedreig was (maw ongeag of hulle gaan lewe of nie, nes daardie manne in die vliegtuig):
    As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.
    Dan. 3:17‭-‬18

    Liked by 1 person

  2. Die genade van God is groot. Mense moet dit net glo en besef. In die lewe van vandag is dit soms moeilik vir mense om te bly glo – ek dink en is dit belangrik dat mense mekaar ondersteun en moed inpraat – soos jou blog inskrywing ook. Dis ook lekker om dit in Afrikaans te lees. Jy moet meer kere sulke inskrywings doen!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s