Klippe ry en TPM

Vandat ek kan onthou, is klippe ry ‘n jaarlikse instelling aan die begin van die jaar hier in die Rûens. Jaar vir jaar word groot klippe van die lande af gery, net om dit volgende jaar weer te doen.

In my kinderjare is die klippe op kliphope gery sommer daar in die land, maar soos wat implimente groter en sterker geraak het, het die kliphope ‘n oorlas geword en moes daardie hope verwyder word. Klippe is dan in klowe ingery.

Ek het kleintyd al vir my pa gevra hoekom daar dan elke jaar weer klippe gery moet word? Die klippe is dan al verlede jaar verwyder. Waar kom die klippe dan elke keer vandaan?

Die ding is dat ons wêreld in die eerste plek klipperig is. Hier is baie klippe! Die ding is, aanvanklik word die groot, ooglopende klippe verwyder. Maar met die gewoel rondom daardie klip, kom daar ander klippies ook los. Ook, soos wat die grond bewerk word, kom nog klippies los. Dalk kleiner klippe wat nie so maklik raakgesien word nie, maar die implenente erg kan beskadig as hulle op ‘n verkeerde plek beland.

Dit is baie hoe Transformation Prayer Ministry (TPM) ook werk. Eers word die ooglopende ‘klippe’ verwyder, maar mettertyd, met die gefroetel aan die klippe, kom ander klippies ook los. Klippies wat soms amper onsigbaar klein is, klippies wat ons nie eers weet wat bestaan nie, maar ‘n erge klippie in die skoen kan wees. ‘n Klippie wat ongemerk groot skade of ongemak kan verrig.

Soos Dr Ed Smith, stigter van TPM ook sê, dat dit amper ‘n daaglikse proses raak om al die ongemakkies te verwyder, by God die waarheid hoor sodat die Heilige Gees ons kan reinig en ons al meer die vrug van die Gees sal dra.

Dat dit nie altyd ‘n maklike proses is nie, is gewis. Dit is amper soos om ‘n tand te laat stop. Geen lekker proses nie, maar die verligting daarná kan net op geen manier met die ongemak vooraf vergelyk word nie.

Die groot genade is dat Jesus Christus self betrokke is hierby. Dat Hy saam met jou in die boot is. Hy, die Seun van God, wat stormwater kan stilmaak. Jy is nie alleen nie. Hy help jou. En saam met Hom kan enige klip uit die pad gerol word. Kan ek en jy gereinig word. Kan ons meer vrug dra.

Toortsie

16 thoughts on “Klippe ry en TPM

    1. ‘n Mens wil dink dat as jy die een of twee of drie groot dinge in die verlede ‘uitgesorteer’ het, is dit mos verby. Ongelukkig is dit nie.
      Een insident kan die gevolg hê tot ‘n hele ‘web van trauma’, wat ek weet dat jy weet, :), soos dat ek miskien een keer kleintyd uit my beurt uit gepraat het. Nou mag ek dink dat ‘ek nooit weet wat om te sê nie’, of ‘dat ek altyd uit my beurt praat’ of ‘ek is dom’ of ‘ek weet nie hoe om te onderskei nie’ of ‘ek neem nie ander mense in ag nie. Lawwe goed, maar wat ongelukkig ‘n invloed op jou hele res van jou lewe het. Elkeen van daardie goed is klein klippies wat ook verwyder moet word, dis nie net deel van die een groot klip nie en dis klaar en verby nie.

      Like

Gesels saam, asseblief!