Dooptyd

Annabelle laat my nou terugdink aan my eie dooptyd, oftewel, ontgroening. Maar eers wil ek julle vertel van Annabelle en hoe ek haar raakgeloop het. Ons het albei geskryf vir Finesse se Goedvoelblogs, om die waarheid te sê, ek dink Annabelle doen dit steeds! Die Goedvoelbloggers het mekaar begin opsoek, nes die WordPressers ook maar doen. Annabelle het vertel van Capital Singers en dit het my geweldig geinteresseer en selfs geroep ook. Ek het ingeskryf daarvoor en vir haar laat weet. Die aand toe ons opstap om ons koorplekke die eerste plek in te neem, staan Annabelle sowaar daar voor in die paadjie en wag vir iemand. Ons het mekaar herken en ná ‘n paar rondskuiwery van ‘n klompie mense wat langs mekaar wou staan of nie verby my lang kop en lyf kon sien nie, beland ek langs Annabelle! Dis glad nie so eenvoudig nie, op daardie stadium was daar 650 koorlede. Die kans om iemand raak te loop, was nie sommerso nie.

Dooptyd. Ontgroening.

Ek is nie ‘gedoop’ toe ek hoërskool toe is nie, maar wel toe ek universiteit toe is. Ons koshuis was bekend daarvoor as die dameskoshuis wat die ergste doop. Dalk is dit my geaardheid om dinge te geniet of dalk is dit die vele mense wat my vooraf voorberei het: “Geniet dit net.” Wel, ek het dit geniet. Seker nie altyd nie, maar dit was vir my skreeusnaaks. Ek het ook ‘n keer of wat moedeloos geraak, maar oor iets heeltemal anders as wat ‘n mens sou verwag. Hulle het ons tot snags baie laat besig gehou, wat moegheid veroorsaak het. Soggens vroeg weer aan die gang. Ja, dit kon as ‘vernederend’ beskou word as jy wil, maar regtig, om een lawwe pawpaw in volle pawpawmondering te wees wat tussen 90 ander pawpaw’s in ‘n droë waterstroom sit en visvang, is vir my skreeusnaaks. En ek gee nie ‘n flenter om wié daar verby ry nie, die moontikheid dat hulle my sal uitken met groen klere, 23 boksterte in my superkort hare, ‘n swart tand, kaart van SA op my rug, lang storie op my maag, boomtak as visstok in die hand, ‘n rosyntjie op die neus om al die ‘groen’ uit te trek, is ‘n ronde nul, selfs al sou hulle moes uitkyk vir my. Want, net ‘n entjie verder is ‘n ander groep eerstejaars ook besig om een of ander lawwe ding te doen.

Ek kon nie verstaan hoe ‘n kleine handjievol studente in ons koshuis dit reggekry het om binne ‘n paar jaar daarná dit heeltemal af te skaal nie. Ek weet dat ontgroening in baie plekke heeltemal hand-uit geruk het, dat daar onmenslikhede gebeur en daarmee stem ek glad nie saam nie. Ook nie dat daar jaarliks ‘n klomp mense is wat hulle hand heeltemal oorspeel en mag totaal misbruik nie. Daarom kan ek verstaan dat ontgroening heeltemal gestaak is. Net soos wat ek dit as student geniet het, was ek maar benoud toe my eie kinders hoërskool en universiteit toe is. Bang dat hulle van dié sal wees wat onmenslik deurloop.

Tog glo ek en het ek geglo dat juis in die lafwees, ons as koshuismaats geleer het om saam te staan. Juis in die belaglikhede van in die middel van die nag koffer inpak, want ons gaan nou teruggestuur word, daar kameraderie ontstaan het. Ja, ek stem saam dat dit nie nodig is dat mense onmenslik hanteer moet word om so iets te skep nie, maar is dit nie so dat mense deesdae baie meer ‘man-man-vir-homself’ is nie? Of daardie kameraderie net nie meer bestaan nie? Of die ek groter geraak het as die ons? In die huwelik, die gesin, die hele samelewing? Survival of the fittest? Kyk waar gaan draai ek nou!

Al wat ek wou sê, is dat ek dooptyd geniet het. En dat my kinders heel anderkant uitgekom het. En dat ek verstaan dat dit afgestel is omdat mense hulle hand oorspeel het. Ek wil nie graag hê dat hierdie blog nou in ‘n klipgooiery sal ontaard nie asseblief. Tog, as jy wil, kan jy met graagte vertel wat vir jou lekker was van jou ontgroening? Of daar iets was wat jy geniet het.

Toortsie

6 thoughts on “Dooptyd

  1. Dit was vir my ook so snaaks. En ek het dit geniet om op die afsprake met manskoshuise se eerste jaars my as Nederlander voor te doen.
    Ons ry meisies moes in volgorde langs ‘n eerste jaar ou inval. So kry elkeen ‘n maat en dan stap jy na een of ander mal aktiwiteit toe. Ek het ‘n Nederlandse vriendin gehad. Met die aksent het ek dan die man vertel van mijn Vaaaaderland. 🙈 Ek het geleer van vasbyt en die lekker om tot ‘n groep waarop ek trots is, te behoort.

    Like

    1. Die afsprake met die manskoshuise was vir my ‘n riller. Ek was skaam vir mans. Daardie rye waar jy langs die eerste jaar ou inval – sjoe, draai my maag nou! en as ek dan verby my broer stap, ook in ‘n soortgelyke ry, dog ek aarde sluk my in. Maar die res was vir my groot pret.
      ‘n Nederlander! Kan jy nou meer! Jy het daardie tyd al ‘n goeie verbeelding gehad. 🙂

      Like

  2. Ontgriening was lekker en vet pret en ja jy leer jou medestudente op n vrolike manier ken! Mense kan gerus n beter sin vir humor hê en nie alles as so afbrekend en persoonlik ervaar nie. Solank jy nie aan fisiese gevaar blootgestel word nie, of uitermate drank ea misbruik nie, is jt veronderstel om ok te wees. Dit is ook veronderstel om net 2 weke lank te duur, en dan is jy volwaardige student.

    Like

Laat 'n boodskap na seegogga Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s