Toortsie en die tiewie

Eendag, lank, lank gelede, en dit was ook net een dag en dit was regtig baie lank, lank gelede, was Toortsie vir ‘n volle drie minute op TV. Dit, nadat daar ‘n hele dag geskiet is. Ek dink maar steeds hulle het dit net op die ou end wel opgesit omdat Seegogga hulle gebel het en gevra het wanneer hulle dit gaan opsit.

Want Toortsie is nie ‘n aktrise nie. Glad nie. Dit het Toortsie daardie dag gesien. Daar moenie te veel voorafinstuksies wees nie, want Toortsie kan dit nie onthou nie. Dit het sy darem mos al in Egipte gesien. Vooraf het hulle ‘n hele lesing gekry oor wat hulle mag doen en wat nie. Mag nie neus blaas nie, ens. Toortsie het hulle almal oortree, en hoe langer sy in Egipte was, hoe meer het sy vergeet wat sy mag en wat nie.

Dit was dieselfde probleem die dag met die tiewie. In die begin het dit nog goed gegaan toe sy nog vars was, maar soos die dag gevorder het, nee, nee. Toortsie kan nie dieselfde ding oor en oor presies dieselfde ding doen nie. Sy kan ook nie onthou in watter volgorde die bestanddele die vorige keer was nie. Nee. Dit was ‘n goeie eenmaal in ‘n leeftyd ervaring.

Toe, een dag, vra die direkteur van die DS de Wet Skool vir Outisme op Bredasdorp, dat ek vir hulle moet help met ‘n advertensievideo wat hulle wil maak om fondse vir die skool in te samel. Ek sê vooraf dat hulle nie moet voorskrifte gee nie, hulle moet my daardie dag vat soos hulle my kry, want die oomblik as hulle probeer raad gee en voorskryf, foeter dit my hele kop deurmekaar. Los my net, en ons kyk wat gebeur, want dan gebeur dit wat natuurlik is. Dalk nie so professioneel nie, maar baie beter as wat Toortsie probeer om iets ‘reg’ te doen.

Intussen maak Martjiesews die oulikste video’s en plaas dit op Instagram. Skoon laf, sommige van hulle, maar die mense kyk en kyk en is mal daaroor! Sy sê: “Kom ons maak ‘n video.” En Sondag, so tussen die kosmakery deur maak sy toe hierdie video. Sommer net soos dit is. Geen ge-oor-en-oor-doenery nie. Spontaan. Net wie ek is. Geen gekonsentreerdery nodig nie, ek praat maar soos ek praat en doen maar soos ek doen. Niks aansittery nie. Niks bang nie, want ek is mos nie nou op Nasionale TV nie. Ek moet sê, as ek die video sonder klank kyk en ek kyk die lyfie en die koppie wat knik, wonder ek by myself: Is dit hoe reg lyk? Regtig?

Toortsie maak kaassous – Facebook video

Toortsie demonstreer kaassous – Instagram video (‘n bietjie korter as die Facebook een)

Toortsie

22 thoughts on “Toortsie en die tiewie

    1. Ek het die kokhoed gekoop vir my Toortsie 3 voorblad, die foto’s geneem en afgehaal. Ek is so spyt ek het dit nie opgehou tydens die fotonemery nie, want die hoed het my glad nie gepla nie en ek dink daar sou mooi foto’s kom. Water onder deur die brug!

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!