Hande in die hare

Ek kry die indruk dat idioom besig is om uit te sterf. Dat mense nie meer regtig in idioom praat nie en dit ook nie verstaan as jy dit gebruik nie. Tog gebruik ek wel nog redelik idioom wanneer ek praat, maar glad nie meer so baie as voorheen nie. En ai toggie, het ek al groot in die moeilikheid gekom as ander my idioomtaal letterlik vertaal, dalk uit asprisheid, of dalk omdat hulle nie hulle taal ken nie. Een keer was ek behoorlik in die spervuur toe ek gesê het, ‘elke diertjie het sy plesiertjie’. Dit het gegaan oor motorfietsryers en ek vermoed dat die ander persoon reeds voor die tyd al hipersensitief was, waarmee ek eintlik regtig niks te doen gehad het nie. Toe ontspoor hy behoorlik omdat ek kwansuis gesê het dat motorfietsryers diere is. Nou ja, so iemand kan jy nie leer nie! Dit help ook nie om met so iemand te redeneer nie. Jy mors letterlik net jou asem.

‘Hande in die hare’ was ‘n idioom wat my ma baie gebruik het. As sy nie geweet het wat om te doen nie en raad benodig het, sou sy graag hierdie idioom gebruik.

My hare, woeste krulhare kleintyd wat darem oor jare tog ‘n bietjie kalmeer het danksy swangerskappe, was vir my vir baie lank ‘n bron van hartseer, frustrasie en ontsteltenis. Onthou julle in ons kinderjare hoe mense met krulhare gelyk het? Persoonlik dink ek dat haarkapsters nie geweet het hoe om dit behoorlik te knip nie. Of dalk het ek nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Om die waarheid te sê, ek weet steeds nie. My pa het altyd gesê, “Madelé gaan kam jou hare”, en as ek dan die haarborsel in my hare gedruk het, dink ek, het dit nie regtig gehelp nie. Om die waarheid te sê, ek dink dit het vererger. Almal het ook iets te sê gehad oor my hare. Jy moet dit eerder só dra. Dra ek dit langer, piep dié wat hou daarvan dat ek dit kort dra. Dra ek dit kort, piep ‘n ander span. Dit gebeur vandag nog, net baie minder. Ek moet regtig sê dat kort hare die heel maklikste is. Ek bedoel, soos in kort, kort, kort. Dit lyk my ek was met my hande in my hare oor my hare!

Op die oomblik dra ek my hare langer. Dikker. Bosseriger. Ek het gevoel om die baie energie, staan, effense krul, maak wat hulle wil, te omhels. Ewe skielik doen ek wat my dogter nog haar hele lewe lank gedoen het: Daar kom nie ‘n kam of ‘n borsel naby my hare nie. Regtig nie. Eintlik kom daar niks naby my hare nie, behalwe natuurlik die normale shampoo en sulke goedjies. En my hande. Ja, my hande! Dit is AL wat naby my hare kom. En dit werk!

So, ek is met my hande in my hare. Letterlik.

Toortsie

20 thoughts on “Hande in die hare

Gesels saam, asseblief!