Op die oulike toep wat ek op die foon het, MinimaList, staan nou al ‘n hele ruk: ‘Skryf oor die outoriteit wat ons in Christus het.’
Die outoriteit wat ons in Christus het.
Totaal onder leiding van die Heilige Gees, te midde van my stryd teen Covid 19, skryf ek:
Eerstens wil ek sê dat ek besig is met Geestelike Oorlogvoering in hierdie huis in ‘n erge graad. As Gesalfde van die Here, as ouderling in Sy Koninkryk, wat ek oor jare verkry het in diens van Hom, nee, nie ouderling in my kerk nie, ouderling in Sy Koninkryk, het ek die outoriteit om dit te doen.
Toe ek weer gesond is en meer met ‘n ‘gesonde’ verstand dink, wonder ek skielik by myself: Het ek nie my perke oorskry nie? Wie is ek om te sê dat ek ‘n ‘ouderling in Sy Koninkryk’ is? Ouderling, afgelei van ‘elder’. Matig ek nie dalk my dinge aan nie?
Maar God is getrou. Hy weet mos wat in my gedagtes aangaan. In my voorbereiding vir Vrydag se Bybelstudie antwoord Hy my voor ek Hom nog kan vra! Ons behandel Openbaring. Openbaring 4 is waar ons nou trek. Kyk wat staan daar in vers 4:
Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, en op hulle koppe was daar goue krone.
Ja, ja, ek weet, twaalf van daardie oudelinge verwys na die Ou Testament, die twaalf stamme van Israel. En die ander twaalf na die Nuwe Testament, na die twaalf apostels. So, regtig, Toortsie, waaaaaarrrrr pas jy in?
Kyk wat sê Bybel in Praktyk op bl 2000? Ook van die stamme en die apostels, en ‘stel die gelowiges in aanbidding voor’. Ahaa! Terloops, die ‘troon’ is die setel waar God regeer. God se troon, net om baie duidelik hieroor te wees. Die Bybellennium bevestig dit dat die ouderlinge die kerk, die gelowiges, voorstel.
Riekert Bota skryf in Openbaring ontsluit: Die vier-en-twintig ouderlinge simboliseer die algehele kerk van God in beide die Ou en die Nuwe Testament, die volledige kerk van God deur die Eeue heen, die gelowiges van die Ou Testament en die gelowiges van die Nuwe Testament wat saam in Christus verenig word tot een Liggaam. Aan hulle word koninklike outoriteit gegee. Hulle sit rondom die troon van God, in Sy lieflike teenwoordigheid en dra wit klere, gereinig deur Christus. Die krone simboliseer die eer en outoriteit wat God aan hulle gee. Hy verwys ook na Rom 8:16-17 wat sê dat ons as kinders van God, ook saam met Christus sal erf, en ook saam met Hom sal ly.
Ja, dus lyk dit vir my of ek glad nie so verkeerd was nie! Of dit al weer die ou duiwel was wat ‘n bietjie twyfel wou saai.
Dit bring my by die volgende punt. Ek hoor dikwels iemand sê dat hy nou nie ‘só ‘n gelowige’ of ‘só ‘n Christen’ is nie. Is hy dalk net ‘n skaam Christen? Of voel hy dat hy nie genoeg tyd met God spandeer nie? Of is dit ook ‘n leuen wat die duiwel in sy oor fluister?
Want as jy ‘n kind van God is, as jy Hom as jou Verlosser aanvaar het, as jy Hom soek, werk aan jou verhouding met God, hét jy die outoriteit wat God aan jou gee in jou hand. Dalk moet jy dit net aanvaar? Glo? Vir jou toe-eien? Want dan is dit JOUNE! Ja! Is dit nie wonderlik nie? Natuurlik in volle afhanklikheid van God, nooit in arrogansie nie.
Toortsie
Ek het ywerig begin met die Februarie daaglikse versie oor geloof, en het gruwelik uitgeval. Tog aan hierdie stuk oor geloof, of hoe? Selfs al is die woord ‘geloof’ nie in die versie nie.
Mooi verduidelik. Ek is nog maar n leek maar leer elke dag meer en meer, veral hier by jou. Dankie vir die verduideliking.
LikeLike
Moenie jouself gering skat nie. Ons almal leer nog elke dag. 🙂
LikeLike