Ursula?

Ek kan nie besluit nie. Ek wou sê dat die duiwel listig is, maar toe maak iemand my attent daarop dat dit lyk of Ursula weer aan die woel is.

Uhm. Ursula? Ek het dan gedink dat sy haar deesdae so goed gedra. Dat sy haar hele houding verander het. Dat sy amper hulpvaardig geword het. Dis mos darem nou al amper vier jaar sedert sy haar vererg het. Sedertdien woon sy mos op haar eie, maar help my darem altyd sing in die kerk. Mooi besadig, sien?

En vir as jy wonder wie Ursula is? Sy is my Alter Ego.

Ek dink steeds dit is maar ‘n goeie skoot duiwelse listigheid.

Ek behoort mos aan die VLV. En ons woel en ons werskaf om ons artikels betyds klaar te kry. Dit moet gewoonlik by ons tak se Maart-vergadering ingegee word, wat dan na die Overberg Sirkel se konferensie gaan die daaropvolgende week, en as dit dan deurgaan, na die Wes Kaapse kongres in Augustus.

Net drie items per tak per kompetisie-artikel gaan konferensie toe. Daarom moet ons tak se artikels eers beoordeel word om te besluit watter drie. Daar is tyd nodig.

Op ‘n stadium verlede jaar hoor ons: Die artikels moet reeds 13 Februarie in wees vir kongresbeoordeling. 13 Februarie? Dis ‘n hele MAAND voor die tyd! Ek gaan onmoontlik klaarkom. Ons vra mooi en hulle sê hulle skuif dit dan tot 23 Februarie, maar ons goed moet maar steeds ‘n week voor die tyd ingehandig word vir takbeoordeling.

Ek brei en borduur soos ‘n besetene. Ek wou nog die denimbaadjie gemaak het en gehekel het, maar nee wat, dit is totaal wensdenkery. Die breiwerk is betyds afgehandel en lê en wag in die sakkie. Gereed. Die borduurwerk kom ook mooi aan, ek is mooi op datum, tot ons besef dat die hele rand uitgetrek moet word en oorgedoen word, daar is ‘n fout.

Skielik raak die tyd skraps. Ek werk mooi, maar daar kom weer ‘n fout en dit beteken weer uittrek. Weer twee dae se werk oordoen. My keel begin toetrek. Intussen het daar nou al ‘n teekolletjie ook verskyn.

Toe kom die nuus: Konferensie is afgestel as gevolg van daai virus, jy weet, ons konferensie-artikels kan nou maar in Maart ingegee word. Ag hoe dankbaar is ek. ‘n Bietjie minder druk.

Ons kom die naweek Struisbaai toe. Borduurwerk natuurlik eerste ingepak. Gisteraand besef ek: Selfoonlaaier lê by die huis. Oh well, dit beteken geen foon vir die hele naweek nie. Lekkerrrr!

Maar toe ek die borduurwerk uithaal om te begin … is die boksie met die naalde en gare nie in die sak nie …

Gelukkig het ek op ‘n stadium ekstra gare bestel van al die diktes en dit lê in die sak. Geen naalde egter nie. Waar sal ek naalde kan kry? En my foon is dood, ek kan nie hulp soek nie.

Gelukkig grawe ek nog in die sak, net dalkies het ek die boksie gare misgekyk en … kry ‘n selfoonlaaier … en my koordlose sleutelbord … in my borduursak! Ursula!

Die res is geskiedenis. Op die Struisbaai Fun Faceboekgroep het iemand vir my raad gegee waar om te gaan soek vir borduurnaalde. ‘n Winkel wat ek deesdae nie baie besoek nie omdat die diens in die verlede soms baie swak was.

Kry ek ‘n heerlike verrassing! Daar is beslis ‘n nuwe eienaar. Iemand wat weet wat sy doen. Iemand wat weet dan naalde en ander naaldwerkbenodigdhede.

En ek? Ek kon al twee draadjies gewerk het, en ek sit en praat nonsens met julle.

Ursula kan dalk tog ‘n kleine hand in die paai hê, ek dink steeds die duiwel is listig, maar daar is Iemand wat na my kyk! O ja!

Baai!

Toortsie

14 thoughts on “Ursula?

  1. Het nou so lekker gelees – dit was asof ek jou kan hoor vertel van Ursula en die borduursage. Jy moet daardie borduurwerk kom wys wanneer dit klaar is, ‘seblief – die hele ding, ons het nog net afsonderlike vissies gesien.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!