Mense sien wat jy glo – 3 Februarie

Ek doen hierdie uitdaging saam met Scrapydo, om gedurende Februarie daagliks ‘n Bybelvers wat handel oor geloof, te skryf.

Romeine 1:8: Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof.

Ja, as jy jou geloof uitleef, sien mense dit raak. Praat mense dalk daaroor. Kyk mense hoe jy optree, soms met afguns, soms met kritiek, soms om deur jou optrede geïnspireer te word.

Op 11 Augustus 2015 het ek in my Bybel by hierdie vers die volgende geskryf:

My gebed vir my nasate: Dat hulle geloof in Christus só fantasties sal wees, dat mense dit sal raaksien. NIE om mense te beïndruk nie, maar vir God, omdat dat hulle Hom so ongelooflik lief het. Mag hulle ‘n getuie vir Jesus wees.

En dit, my liewe vriend, liewe leser wat toevallig hier opdaag, of wie ookal hier lees, is ook my gebed vandag vir jou:

Ek bid dat jy in geloof sal groei, dat jy vrymoedigheid sal hê om jou geloof uit te leef sodat Christus daardeur verheerlik sal word, sodat dit ander sal aanmoedig om ook vir Hom te wil volg. Veral in die tye waarin ons vandag is waar dit al hoe meer ‘vreemd’ raak as jy hom voluit volg, waar vervolging al hoe erger raak, waar Christene wêreldwyd op selfs die onskuldigste maniere, gekeer word om hulle geloof voluit uit te leef. Laat ons God vreesloos dien en volg.

En dit is altyd my wens dat ek ook my geloof so sal uitleef, nie om myself te verheerlik nie, nie sodat iemand my ‘n kloppie op die skouer sal gee en sê dat ek oulik is nie, maar om vir Christus te verheerlik, hopelik dat ander ook lus sal kry om Hom te volg.

Toortsie

3 thoughts on “Mense sien wat jy glo – 3 Februarie

Gesels saam, asseblief!