Geloof soos ‘n mosterdsaad – 2 Februarie 2021

Saam met Scrapydo het ek die uitdaging aanvaar om gedurende Februarie elke dag ‘n Bybelvers oor geloof te skryf.

Die vers wat die Here vanoggend op my hart gelê het, is Matteus 17:20:

Dit verseker ek julle: As julle maar die geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.

Wat sal ek oor hierdie vers sê? Ja, ek glo dat ons nie net IN God moet glo nie, maar ook HOM glo. Ons moet glo hoe Wonderlik en Groot en Almagtig Hy is. Hy hou die hele wêreld in Sy hand. Sal ‘n God wat die hele heelal kon skep, nie my kleine probleempie kan oplos nie? Sal Hy jou dan nie kan gesond maak nie? Sal Hy nie hierdie sleg wat oor jou pad kom, kan wegneem nie? Kan Hy nie ‘n wonderwerk laat gebeur nie?

Natuurlik kan Hy, AS DIT BINNE SY WIL IS. En dit is iets wat ons nie sommer moet vergeet nie.

  1. Ons moenie dinge uit ons eie krag probeer doen nie. Ons moet op God vertrou. Ons moet GLO wat ons vra.
  2. Ons moet aanvaar as iets nie binne Sy wil is nie.
  3. Ek glo nie aan voorspoedsteologie nie, want dit gaan nie oor MY nie, dit gaan oor GOD.

In my lewe het ek die voorreg gehad om self soveel wonderwerke te beleef. Kleines, grootes. Dit maak my nie meer spesiaal as enige iemand anders nie. As elkeen van ons mooi gaan dink, gaan ons onthou van wonderwerke wat ons beleef het. Die groot geheim is dat ons moet begin ERKEN dat dit ‘n wonderwerk is, dat ons nie skaam moet wees nie. En weet jy wat gebeur? Hoe meer ons God se hand in ons lewe ERKEN, hoe meer gaan ons Sy hand HERKEN.

By die grotkerk in Kaïro vertel die man vir ons die storie:

Hulle wou ‘n kerk bou daar. Maar dis teen die wet om kerke te bou in Egipte. Hulle gaan doen toe aansoek en die amptenaar sê: Dit staan mos in die Bybel dat as julle geloof so groot is soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê hy moet skuif, en dit sal gebeur. So, wys my jou geloof. Laat skuif die berg en julle mag ‘n kerk bou.

Toe bid en vas die gelowiges in Kaïro vir sewe dae en die berg skuif en die grotkerk ‘ontstaan’, wat hulle toe net moes klaarbou.

Geloof soos ‘n mosterdsaadjie. Maar slegs as dit binne God se wil is.

Toortsie

6 thoughts on “Geloof soos ‘n mosterdsaad – 2 Februarie 2021

Lewer kommentaar op scrapydo2.wordpress.com Kanselleer antwoord