Seksuele sonde

Hierdie is vir my ‘n moeilike blog wat ek vandag skryf, omdat dit so een honderd persent indruis met wat vandag geleef en verkondig word. Dis amper outyds. Uit die oude doos. Wel, Ou Testamenties, sal sommige sê en saam met dit dit so effens wegwaai met die hand en die gesig afwysend trek. Met hierdie skrywe wil ek ook geen las op iemand se skouer sit nie of oordeel nie. Glad nie. Ek kon net nie help om dit te skryf nadat ek die stuk in Levitikus gelees het nie. Toe ek dink om dit eerder te verwyder, het ek baie duidelik gehoor dat ek eerder aan God gehoorsaam moet wees as aan mense.

Ek is seker dat die Ou Testament in die Bybel ingesluit is omdat God wil hê dat ons dit ook moet lees. Deur die Ou Testament te lees, verstaan ek God beter, verstaan ek die Nuwe Testament beter. Want God het nog nooit verander nie. Dit wat Hy in die Ou Testament haat, haat Hy vandag nog. Al verskil is dat Jesus gekom het om ons van ons sondes te verlos, dat ons nie meer doodgemaak word as ons dit doen nie. Maar, soos Paulus soveel keer in die Nuwe Testament waarsku, gee die voorreg van Jesus se verlossing ons nie die reg om te maak wat ons wil, ons skouers op te trek en aan te gaan nie. Nee, dit gee ons juis die verantwoordelikheid om self te besluit om te doen wat God wil hê.

Levitikus is baie reguit, op die man af. En ja, ek eet ook onrein kos, maar in die Nuwe Testament is alle kos rein verklaar. En ja, ek doen baie sonde. Elke dag. Ek oordeel. Ek praat soms lelik. Het soms lelike gedagtes. Maar omdat ek self sondig, beteken dit nie dat ek moet stilbly oor wat God haat nie.

God haat seksuele sondes. Hy haat egbreuk. Hy haat dit as iemand gemeenskap het met iemand anders se vrou of man. Hy haat dit as jy gemeenskap met jou skoondogter het, soveel so dat Hy sê hulle verdien die dood. Hy haat dit as ‘n mens met ‘n dier geslagsgemeenskap het, dit is afskuwelik! Vieslik! Ook nie met jou oom of tante nie. Hy haat dit as ‘n man iemand anders se vrou afneem. Hy haat homoseksuele verhoudings.

En net indien ons tog dink dit is Ou Testamenties, word dit oor en oor herhaal in die Nuwe Testament ook. God haat seksuele sonde. Seksuele reinheid is vir Hom só belangrik, hy vergelyk Sy verhouding met die kerk soos met ‘n huweliksverhouding met ‘n vrou. Hy verwag dat ons seksueel rein sal wees. Selfs tot aan die einde van Openbaring praat Hy baie duidelik daarteen. Seks is vir die huwelik tussen een man en een vrou.

Dalk moet ons weer begin dink oor die flieks en sepies en alles wat ons op TV kyk. Dit word so ‘reggepraat’ dat ons dit al begin glo. Dat dit algemeen raak. Dat saamblyverhoudings niks vreemds meer is nie. Dat ek my man of vrou verneuk, maar sommer net iets so in die verbygaan is. Solank ons nog nie seks gehad het nie, het ons niks gedoen nie. Solank ons net nie uitgevang raak nie, en dan maak dit ook eintlik nie saak nie. Dat mense in die platteland sal skinder oor ‘n huwelikspaar wat skei, net om môre aan te gaan asof dit niks is nie. Nie vreemd is as ek vandag die een buurvrou het en môre ‘n ander nie. Of as ek self oor die draad loer nie.

Dalk moet ons almal ‘n slag weer introspeksie doen. Ook ek. Nee, dit gaan my sekerlik nie in die hel laat beland nie, maar dat dit God se hart seermaak en ‘n klomp mense s’n daarmee saam, is nie altemit nie. Dalk moet ons, ook ek, op my knieë gaan, ‘n sirkeltjie om my trek met bordkryt en vra, Here, maak reg wat verkeerd is binne hierdie sirkel.

Toortsie

10 thoughts on “Seksuele sonde

  1. Ek voel dat mense kies om die feit mis te kyk dat God gister, vandag en tot in ewigheid nie verander nie. Jy het di tgoed raakgevat. Dit maak die Ou Testament wat steeds relevant wat betref sake wat die karakter van die Godheid raak

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s