
Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel … ‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue. Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247
……………………………………………………
Kosie is ‘n seuntjie wat op Comono Eiland, die Seuntjie-Eiland woon. Kosie is groot. En sterk. En ongeskik. Almal is bang vir Kosie. As hulle onderlangs van hom praat, daar waar hy nie by is nie, noem hulle hom Boeliebul. Want hy is eintlik ‘n boelie. Hy weet dat hulle hom Boeliebul noem en dit maak hom baie kwaad, maar dit laat hom einlik stilweg lekker voel ook. Dis vir homlekker dat die ander seuntjies vir hom bang is. Versigtig is. Doen wat hy sê.
Boeliebul is die kaptein van ‘n b e n d e. Hulle noem hulleself die Bullebakke. Want bullebakke is hulle sowaar. Hulle stamp die kleiner seuntjies om. As hulle sien ‘n seuntjie eet iets waarvoor hulle lus het, sal hulle dit sommer afvat en opeet. Hulle is altyd besig om iewers skoor te soek. Baklei te soek. Wanneer hulle die slag saamspeel, is daar altyd ‘n geniepsigheid by. Hulle kyk hoe hulle ander kan seermaak. Boelie. Nes hulle kaptein, Boeliebul. Want Boeliebul moedig hulle aan om dit te doen. Hy hits hulle aan om ander seer te maak. Want as hulle dit nie genoeg doen nie, dan mag hulle nie deel van die bende wees nie. Die ander kinders is bang vir hulle en speel eerder daar waar hulle nie is nie.
Andries is ‘n lang, maer seuntjie, maar hy is baie sterk. Hy is gespierd. En baie rats. Hy hou nie van bakleiery nie en hou al lankal vir Boeliebul en sy bende dop. Hulle karring nie sommer aan hom nie, dis of hulle nie heeltemal seker is hoe sterk hy is nie. Hy het agtergekom dat Boeliebul net die ander seuns aanhits en aanpor om te baklei, dat hy eintlik net ‘n grootmond is en glad nie so sterk is nie. Om die waarheid te sê, baklei hy self nooit, hy laat die ander seuns sy vuil werk doen. Boeliebul maak maar net of hy so sterk is. Sodat ander vir hom bang moet wees.
En toe kry Andries ‘n plan. Hy daag vir Boeliebul uit om teen hom arm te druk.
Eers skrik die ander seuns toe hulle sien wat Andries maak. N i e m a n d daag vir Boeliebul uit nie. Jy kan dit nie waag nie! Want as jy vir Boeliebul uitdaag, beteken dit jy daag al die Bullebakke uit! Dis lewensgevaarlik! Niemand doen dit nie!
Ewe selfvoldaan lag Boeliebul en die Bullebakke vir Andries uit. Wat is sy plan? Wil hy regtig sy kragte een Boeliebul meet? Lagwekkend! Húlle sal vir hom wys hoe dit gedoen word. Húlle sal vir hom wys waar Dawid die wortels begrawe het. Húlle sal sy grootmond sommer vinnig toemaak. Vol brawade lag hulle vir hom uit. Terwyl die ander seuns bang en versigtig terugstaan. Hier kom moeilikheid wat kon gebly het.
Maar Andries weet wat hy doen, en sê, ja, hy daag vir Boeliebul uit vir armdruk.
Uiteindelik besef Boeliebul: Andries is ernstig en hy gaan nie hier uitkom nie. Hy sal self moet armdruk teen Andries.
Hy kom sit en hy en Andries neem hande. Eers is Boeliebul nog grootmond, vol brawade, maar sommer gou besef hy: Hier het hy ‘n teenstander. ‘n Groot teenstander wat nie vir hom bang is nie. Ook nie vir die Bullebakke nie. En hy raak bang. Want vandag gaan hy iets aan almal moet erken: Hy is eintlik glad nie sterk nie. Om die waarheid te sê, hy is sommer swak. Hy is net so groot, maar het eintlik glad nie uithouvermoë nie. En A L M A L op die eiland gaan dit sien. en gaan dit weet. WAT GAAN HY MAAK?
Sommer gou druk Andries sy arm plat. Hy kyk vir Boeliebul in sy oë. En hou sy hand daar. Boeliebul wil nog sy hand wegtrek, maar hy kan nie. Andries kyk en kyk en kyk vir hom. En sê niks. Almal is tjoepstil. Almal wag om te sien wat gaan gebeur. Al wat Andries doen, is om Boeliebul se hand vas te druk en hom in sy oë te bly kyk.
Uiteindelik praat hy: “Boeliebul, ek weet wie jy is. Ek weet dat jy eintlik ‘n bang seuntjie in ‘n groot lyf is. Dat jy eintlik glad nie so sterk is soos wat jy wil voorgee nie. Dat jy die ander seuns in jou Bullebakbende gebruik om jou vuil werk te doen. Dat jy dink dat jy mag verkry deur so te wees, maar eintlik kry jy net die weersin van die ander. Weet jy wat, ek sal graag jou maat wil wees, maar dan moet jy die Bullebakbende los. Dan moet jy die saggeaarde seun wees wat jy regtig is. Ophou baklei soek met almal. Ophou afbrekend wees. Sommer net seun wees wat lekker speel.”
Almal hou hulle asem op. Wat nou? Wat doen Andries nou? Is hy heeltemal van sy kop af?
Boeliebul bly lank stil. Hy dink diep. Dan sê hy: “Dankie, Andries. Dankie dat jy my maat wil wees. Weet jy, dit is ook nie vir my lekker om so altyd te moet baklei nie. Van nou af sal die Bullebakbende een wees wat lekker saamspeel, wat ander kinders help, wat ophou baklei soek. Wat seuntjies sal leer om sterk te wees, maar nie ongeskik hoef te wees nie. Dankie, Andries, baie dankie.”
Al die seuntjies juig en klap hande. Hulle is maar nog bangerig, maar weet dat dinge op hierdie eiland nou gaan verander.
Toortsie
Toortsie, dit is soveel meer as wat ek verwag het. Lewenslesse in die stories ingebou. Ek is so opgewonde hieroor. Ek dink ons stories gaan harte raak.
LikeLiked by 1 person
Ek het klaar op my 2021 to do list dat hierdie ‘n eboekie gaan word en as dit nie te duur is nie, dalk vir ons en wie nog wil hê dit laat druk ook.
LikeLiked by 1 person
Hmmm, ekke ook. My skoondogter kan die uitleg doen en my dogter kan ons taalversorger wees. Skoondogter we werk …
LikeLiked by 1 person
👏🏻👏🏻👏🏻
LikeLike
En tussen die Goue Vroue … 😁
LikeLike
Lekker kyk Boeliebul nou op sy neus!
LikeLiked by 2 people
Gedaanteverandering!
LikeLiked by 1 person
Mooi so Andries, stil en kalm ontlont hy ñ bom
LikeLiked by 1 person
Stil, kalm, beheersd.
LikeLiked by 1 person