Wat my help met covid – prakties

Ek is jammer dat ek julle so verpes met Covid en as julle nie wil lees nie neem ek julle nie kwalik nie. Die doel van hierdie skrywe is om dalk vir iemand anders te help wat deur dieselfde simptome as ek gaan.

Eerstens wil ek sê dat ek besig is met Geestelike Oorlogvoering in hierdie huis in ‘n erge graad. As Gesalfde van die Here, as ouderling in Sy Koninkryk, wat ek oor jare verkry het in diens van Hom, nee, nie ouderling in my kerk nie, ouderling in Sy Koninkryk, het ek die outoriteit om dit te doen. Hy het dit vir my gegee. Hy sê in Sy woord wat ek oopsluit sal oopgesluit bly, en wat ek toesluit sal toegesluit bly. Hy sê as ek die satan weerstaan, móét hy luister. Met Christelike gesag as profeet kan ek met oortuiging sê dat hierdie covidgemors van die duiwel is. Daarom beveg ek hom nie net liggaamlik nie, maar geestelik ook. En ek loof en dank God dat Hy my gekies het om deur hierdie siekte Sy mag, Sy krag, Sy almag te demonstreer. Ek loof Hom vir mense vanoor die hele wêreld wat vir my bid en waarvan ek die krag sonder twyfel voel. So, wat help vir my? My God.

Maar kom ons raak prakties.

Dit is mos so dat hier duisende video’s die rondte doen. Kyk maar na hulle selfs al irriteer dit jou. Berei jouself voor.

  1. Beweeg. Dit was dr Annelie van Struisbaai se raad, oor en oor. Beweeg. As jou liggaam jou toelaat, beweeg. Dit stoot die suurstofvlakke beslis op. Dit bring verligting. Dankie dr Annelie vir jou liefdevolle sorg toe die krisis op die hoogste was, terwyl jy my eintlik van geen kant af ken nie. Jy is kosbaar.
  2. Stoom jouself met kookwater en ‘n handdoek oor jou kop. Sommer as jy vermoed jy dit mag hê. Keer daai kiem betyds.
  3. Nebuliseer. As ek in die oggend opstaan en alles in my liggaam is ontsteld en my hart klop en ek is uitasem, bring dit kalmte.
  4. Haal diep asem. So diep soos jy kan, want dit is seer. En doen longoefeninge. Dankie VirgoC vir jou onuitputlike bron van kennis en liefdevolle raad. Jy het nie ‘n idee hoe ek op jou raad gesteun het nie, veral in daardie opboutyd.
  5. Longoefeninge – Kyk daai videos. Blaas met Seegogga se bamboesstrooitjie in ‘n beker water. Uit, uit uit, en waag dit dan om diep, diep, diep asem te haal tot die hoes jou oorval, hoes, hoes, hoes, vee die sweet af en blaas weer. En Virgo het gesê ek mag haar sulke tye maar slegsê, maar ek belowe, ek het nog nie. Om nie jou longkapasiteit te verloor nie. Dankie, dr Anel Keuck Rademeyer, vir jou ekstra bietjie aanmoediging hierin.
  6. My man se liefdevolle sorg. Hy maak vir my kos. Hy vryf my in met Vics. Hy slaan my op die rug as die slym vassit en ek nie meer kan hoes nie. Hy gee my fisio op my rug, kap, kap, kap, kap sodat dit kan loskom. Dankie dr de Kock van Struisbaai vir hierdie raad. Dokter het dit twee keer gesê en ek het nie gereageer nie, maar ek het gehoor. Dit verrig wondere.
  7. Vloek daai virus. Skel hom. Sê hom sleg. Wys hom hy kry jou nie onder nie. Skryf daaroor. Bid. Soek hulp by jou vriende. Doen dit op die manier wat vir jou werk, wat vir jou moed gee. Ek is ‘n uitsaaier, so die hele wêreld het onmiddellik geweet. Jy doen dit dalk anders, dis ook reg. Op jou manier, maar beveg hom met alles in jou. Moenie vir hom outoriteit gee nie.
  8. Stort. En nog ‘n keer en nog ‘n keer. Hoeveel keer op ‘n dag. Stort, trek vir jou droog aan. Julle wil nie weet by outfit nommer hoeveel ek al vir vandag trek nie. Jy is net skoon en droog aangetrek, dan is die nuwe stortvloed sweet weer daar.
  9. Lê op jou maag. As al die ander misluk, dit werk. En ja, ek kan nie meer regtig op my maag lê nie, ek het ‘n nekbesering en swak rug. Ek lê sommer so dwars oor die bed met my voete wat eenkant afhang en my kop aan die ander kant. Dit bring geweldige kalmte in my longe. Dan rus ek behoorlik.
  10. Rus. Saam met die beweeg, rus. Slaap as jou liggaam daarvoor vra.
  11. Sonlig. Die son kom nou vir die eerste keer uit, so ek kan nou nog nie getuig dat ek dit gedoen het nie, maar, sonstoep, hier kom ek.
  12. Vriende wat vir my goedjies van die winkel af saambring en dit dan voor my hekkie neersit, nes hulle met die melaatses in die ou dae gedoen het. Dankie Christal. Dankie liefste Seegogga, dis nie die eerste keer wat jy my help nie. Jy is vir my kosbaar.
  13. Die liefde en ondersteuning van elke blogmaat, ek kan nie julle almal nou hier noem nie, elke faceboekvriend, whattsappvriend. Julle aanmoediging doen presies wat dit sê: dit moedig aan.
  14. Staan op jou knieë met jou kop so tussen jou arms terwyl jy hoes. Dankie Perdebytjie, jou video het my gered. Die slym sit soms vas daar waar dit nie moet nie, dit moet uit, maar jy kry dit nie uit nie. Jy moet hoes maar het nie krag nie. Soek daai video, ek kan dit ongelukkig nie hier post nie. Die prentjie is van ‘n man wat so op sy knieë staan. As jy dit nodig het en nie kan kry nie, inboks my op my Faceboek of kry op ‘n manier by my jou Whattsappnommer dat ek dit kan aanstuur.
  15. Ek neem my medikasie soos die dokter sê. Vitamienes, wat ook alles. Ek neem my suurstof gereeld en stuur die lesing deur aan die dokter, ‘n paar keer op ‘n dag. Kortisoon. Dankie dr Erna Visser van Bredasdorp. Dankie vir jou omgee, jou liefde, jou bel om te hoor hoe dit gaan.

Julle, my vermislagie is mos maar baie min. Covid het dit hou heeltemal afgeskuur. Ek is my ou, reguit self. Vreesloos. Want die bietjie vrees wat ek nog oorgehad het, is nou ook afgeskuur, ek was darem te naby aan die dal van doodskaduwee. Bly veilig, pas jouself mooi op. Neem die vaksien wanneer dit beskikbaar raak. Doen wat die slim mense sê om te doen. Beveg die duiwel met alles in jou. Maar die heel belangrikste, maak seker waar jy staan met God. Die Woord sê dat ons nie hom moet vrees wat ons kan doodmaak nie, maar Hom wat oor ons gees moet besluit. Dis nie bangmaak waarmee ek besig is nie. Maak reg met God terwyl jy nog die kans het. Daardie kans kan vinniger van jou af weggeneem word as wat jy dink en as jy jou keuse gemaak het, is die wonder dat jy regtig niks hoef te vrees nie, ook nie ‘n simpel virus wat dink dat hy die wêreld in sy mag het nie.

Toortsie

23 thoughts on “Wat my help met covid – prakties

  1. Hemelse Vader, ons pleit die bloed van Jesus Christus oor Toortsie en almal wat vir haar bid en bemoedig. Ons dank U dat U besig is om 2 Kor 1:10-11 waar te maak: Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ‘n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.
    Here, dankie vir die vordering. Dankie vir die goed wat hieruit voortkom en dat U alles ten goede laat meewerk. Dankie dat U sal voortgaan om die siekes gesond te maak.
    Ons is almal in U hand, elkeen wat hier lees en hulle geliefdes. Ons is so dankbaar, Here.
    Ons prys U Naam, Here Jesus Christus, amen.

    Like

  2. So dankbaar dit begin beter gaan, veg met alles in jou. Genadiglik weet ons die Here veg saam met jou. So bly as jy skryf, dit vertel ons waar jy is op die pad en ons leer weer by jou.

    Like

    1. Ek voel net daar is so min inligting hieroor in Afrikaans beskikbaar, indien enige. Mense weet nie wat aangaan, wat om te verwag nie. Omdat daar letterlik drie dokters is wat heeltyd oor my waak en my die beste, nuutste raad en sorg gee, voel ek dat ek dalk op ‘n nie te langdradige manier, vir iemand kan help.

      Like

Gesels saam, asseblief!