Emmerskoplysie 7

Nee! Moenie skrik nie! Ek is nie aan die emmerskop nie, nog nie naastenby nie. Ons is besig met ‘n bloguitdaging. Lees maar verder, dan sal jy verstaan.

Liewe leser, hierdie hoofstuk vorm deel van ‘n bloguitdaging waarin die Goue Vroue van Rebusfontein uitgedaag word om ‘n vervolgverhaal te skryf waarin ons items op mekaar se emmerskoplysies uitleef. Soos gewoonlik, is een of meer van die res van ons karakters in die vervolgverhaal. Elke hoofstuk word afgesluit met ‘n emmerskoplysie en ‘n spesifieke vrou word uitgedaag om die verhaal verder te vertel …

Jy kan dus ten minste 13 hoofstukke verwag. Die res van die verhale kan hier gelees word, onthou om gereeld terug te kom om nuwes te lees. Dit is ‘n werk in wording …

https://fresh.inlinkz.com/p/901334e664234152a8107aad817a73bb.

……………

Stil sit die Goue Vroue daar in die mooie Zambië om die vuur. Almal besig met haar eie gedagtes oor die wonderlike tyd wat Frannie vir ons gereël het en dit om Seegogga te help om van haar emmerskopitems te help beleef. En soos dit mos maar met die Goue Vroue werk, een vir almal en almal vir een, doen ons almal mee in die waarmaak van ons drome. Almal gaan saam. Niemand bly agter nie. Ons het al die wonderlikste ervaringe gehad, julle moet maar self die inlinks skakel hierbo volg.

En nou is dit my beurt. Ek moet vir Frannie help om háár emmerskoplysie waar te maak. Ek het so mooi gevra sy moet sag wees met my, ek is siek onthou, en tipies die gentle lady is, het sy my uiters sagkens behandel. Dankie liefste Frannie, dalk was daar nog meer avonture wat jy wou bysit.

Toe sy haar lysie gee, is ek dadelik opgewonde. Ek is MAL oor haar idees:

Weet julle, as ek so terugdink, besef ek dat ek al wonderlike goed ervaar het. Dis eintlik nou te laat vir my vir ‘n emmerskoplysie, my uurglas is amper leeg, maar daar is tog nog twee goed wat ek bitter graag sou wou doen. Die een is om ‘n week in Parys, Frankryk deur te bring – ek was nog nooit daar nie… Die ander een is om weer so lank moontlik in ‘n chalet by Stormsriviermond te gaan bly, in die see te swem en in die woud te gaan stap…

Watter een sal ek kies? Stormsriviermond? Hoe fantasties sal dit nie wees as ons klompie Goue Vroue daar in die huisies kan gaan bly vir ‘n week en stap in die see en in die woud en (sluk) oor die hangbrug nie? I’m tempted … maar, aan die ander kant, Stormsriviermond is makliker bereikbaar en ek dink liefste Frannie ken my ook te goed. Ek weet sy weet van die bein af watter een ek sal kies. Want, jy weet, daar is net een Parys. Parys, o Parys! Ai tog! Hier is ek nou sommer uit my beswyming uit. Waar is Blitz dat ons kan glip?

Blitz

“Kom julle”, sê ek. “Huh?”, vra Sonell. “Waarheen moet ons kom? Ons sit dan nou so lekker en oordink alles. Toortsie, moet jy nou weer kriewels hê?” “Kom net, ons moet gaan, Blitz wag!” “Blitz?”, vra Appeltjie. “Blitz! Ja, julle, dis Blitz wat vir ons wag, kom!” Dadelik is almal reg vir ‘n nuwe avontuur en kry hulle sitte in Blitz. Ek druk die knoppie en woerts … Frannie het net so ‘n salige glimlaggie in haar oë, sy weet wat sy weet en sy weet reg.

Blitz stop voor die luukse Shangri-la hotel. Ons kry ons kamers, ek en Frannie deel ‘n kamer (arme ding, hoe jammer kry ek haar!). In ekstase maak sy die gordyne oop en wat is die eerste wat sy sien?

“Toortsie!”, kom die roep amper soos ‘n fluistering uit die romantiese Frannie. Ek wou dit nog altyd sien! Net daar skryf ek op ons whattsappgroepie, “Kom! Trek warm aan, hier gaan ons!” Reguit Eiffel toe. Ons kry vir ons kaartjies sommer tot die derde vloer. Sluk. Sluk nog ‘n keer. Maar, hoe lui ons spreekwoord? Een vir almal …

Tot op die tweede vloer is die hysbak vol. Ons klim daar uit en loop eers al in die rondte, kyk liggies so ver as wat die oog kan sien, soek die bekende bakens. Die Goue Vroue is in ekstase. Frannie is stil, sy het net die mooiste, sagste, gelukkigste uitdrukking op haar gesig. Hierdie grasieuse Goue Vrou sal nie sommer haar grasie verloor nie. “Julle, dis mooi!”, sê Trommeltjies. “Wie sou dit ooit kon dink?” “Verskrilik mooi, sê Christa.” “Ek geniet die Eiffel elke keer”, sê Aalsie bly, “dit bly net ‘n belewenis, en klaar. ” “Kom, ons moet nog hoër gaan”, sê ek benoud. Gelukkig besef die ander vroue nie hoe bang ek is nie, hulle dink dis nog die covid wat in my longe is. Doodstil, kiertsregop, versigtig betree ons die heiser en gaan ons op, op, op …

Daarna stap ons terug hotel toe. Die voorsmakie was goed. Môre is nog ‘n dag. Ons eet agtuur ontbyt en 9 uur moet ons almal reg wees. Lekker slaap, ouens!

Versailles. Marie-Antoinette se paleis. My kop werk oortyd. Jammer, dis Frannie se emmerskoplys, maar ek mag mos nou sommer ietsie doen wat ek nog altyd wou, maar nie by kom nie omdat ons altyd te kort in Parys is. Nou is dit my kans! Ek was nog in die vroeë hoërskool toe my ouers Versailles besoek het, het hoeveel keer deur die pragtige boek geblaai wat hulle destyds daar gekoop het. Ek is seker dat, as dit so mooi is soos wat ek dink, Frannie dit ook sal geniet. En natuurlik die res van die Goue Vroue ook.

Die volgende oggend, stiptelik nege voormiddag, staan ons klompie reg vir vandag se verrassing. Niemand weet wat ons gaan doen nie. “Goed, dames”, sê ek, nou is dit ons en die Metro. Stilweg hoop ek ek verstaan die roete reg, julle weet mos, ek en rigting is glad nie maatjies nie, maar ek verstaan die Metroroetes. Dis so eenvoudig soos tien, al lyk dit die eerste keer erg. Jy moet kyk waar jy nou is, die stasie soek waar jy wil afklim, dan net eenvoudig die kleurlyne volg. Is dit op dieselfde kleur, maklik. Die uitdaging is as jy moet oorklim omdat die een lyn jou nie by jou bestmming gaan uitbring nie. Soms moet jy ‘n paar keer oorklim, so jy oet kophou, die stasies mooi volg, nie jou aandag laat dwaal nie. As jy metro ry, ry jy dit met aandag. Ek wys vir die Goue Vroue hoe dit werk sodat almal van ons presies weet, daar kan maklik ‘n fout kom en ons een verloor. Om dertien vroue bymekaar te hou is een ding, om hulle almal in die paar sekondes wat die treindeure oopgaan, betyds binne of buite die trein te kry, ‘n ander verhaal. Gelukkig weet Christa ook presies hoe dit werk en heop sy verduidelik. “Hier kom die trein!”, sê Seegogga. “Is julle reg, vroue,” vra Appeltjie benoud. Trein stop. Mense klim uit. Goue Vroue spring in. Deure gaan toe. Trein beweeg. “Is almal op?”, vra Aalsie besorg. Dit lyk darem so.

By Pont de Sevres moet ons afklim, dit was nou al na ‘n paar oorklimme. “Hierdie mollery onder die grond maak my kop deurmekaar. Waar is noord?” “Noord?”, vra ek. “Ek het nie die vaagste benul nie, weet in elk geval gewoonlik nie waar dit is nie, nou moet ek dit hier vir jou in Parys wys?” Daar klim ons op die bus wat ons dertig minute later by Versailles aflaai. En toe begin die toer van die dag. Die toer van ons lewe.

Eers dwaal ons in die tuine. Appeltjie is in ekstase. “Dis genoeg om ‘n oorval te kry!”

Internetfoto

Toe gaan ons die paleis binne. Sowat van prag en praal het ons nog nooit gesien nie. Onthou, Marie-Antoinette het gekoop asof haar lewe daarvan afhang. Ou Louis het mos nie eintlik in haar belang gestel nie en iewers moes sy haar kreatitwiteit uitleef. Selfs toe die Franse Revolusie gedreig het en die gewone mense nie eers meer kos gehad het om te eet nie, het sy steeds gekoop asof dit uit die mode gaan. Wie sou kon dink dat dit bygedra het tot haar ondergang?

Die eerste plek wat ons opsoek, is die “Hall of mirrors.”

http://en.chateauversailles.fr/sites/default/files/gg3.jpg

Toe ons dit sien, gaan staan ons almal stil. Doodstil. “Oeee, kyk daai ligte, julle. Kandelare soos ek nog nooit gesien het nie. “, sê Woordnoot.

Die volgende is die “war room”.

Foto geleen by Versailles se webblad

“Die skilderye, julle!”, fluister Seegogga. “Die goud!”, se Sonell. “Dis massief”, sê Positief. “Die kleure!”, fluister Una. Trommeltjies knik instemmend haar kop.

So beweeg ons van die een saal na die ander, spandeer die hele dag by die paleis. Die “Peace Room”, die park … Tussendeur stop ons vir ‘n koeldrankie of eet ons piekniek op die grasperk.

The lake of the Swiss guards

En dan natuurlik die Switserse wagte, wat sekere Goue vroue stomgeslaan het. Ek sal nou nie name noem nie, volg maar net my oë.

Veral die kleurvolle kleredrag! Ek sê eerder niks.

Hier by 4 nm begin ons oppak. Dis winter en die donker kom al weer aan. Terug Parys toe waar ons nog die aand kan verwyl. Sommer stap in die Champs-Élysées, daardie bekende straat in Parys met al sy winkels. Ons drentel stadig, die aand is nog lank en gaan sit in ‘n straatkafee om aandete te bestel.

Môre vat ons die rooi bus en doen ‘n stadstoer van Parys en besigtig al die nodige plekke: Notre Dame, die Sacre Cour, die kunsmuseums, Arc de Triomph …

Terwyl ons lekker sit en dink oor die dag, vra Una: “Toortsie, jy het jou nou so ingeleef in Frannie se emmerskoplysie. Wat is joune?” “Raai Una,” antwoord ek, “ek het nie regtig in my lewe emmerskoplysies gehad nie. Ek sou ‘n gedagte in my kop kry, dink dat ek dit graag sal wil doen, en selfs vergeet daarvan en dan een dag, baie jare later, uit die bloute, kom daardie item sommer net in my skoot sonder dat ek dit ooit sou dink of droom. Soos die stap in die wildtuin wat ons jare gelede gedoen het. En weet jy, op skool was ek verlief op Johann Strauss die komponis en het gewens dat ek in Wene sou uitkom eendag. Nooit het die geleentheid gekom nie en ek het heeltemal daarvan vergeet, want ek het soveel ander lekker dinge beleef. Tot ek drie jaar gelede op ‘n georganiseerde toer in Wene beland, sonder dat ek daarvoor gevra het. Maar daar is ‘n paar goedjies waarvan ek baie sal hou om te doen. Ek sal byvoorbeeld graag ons sendelingvriende in Peru gaan besoek en sommer die Inkaroete stap. En natuurlik die Camino de Santiago in Spanje. En ek sal hou van Kroasië, hulle sê dis so mooi daar. Ek steur my nie aan die geskiedenis nie, ek hou van mooi plekke besoek. Winkels trek my ook nie aan nie. Daar was ‘n tyd wat ek graag Kilimanjaro sou wou klim, maar ek raak darem nou regtig te oud daarvoor. Ek dink in elk geval my longe wat nou so befoeterd is en gewoond is aan ons dikker lug, sal te swaar kry by daardie hoogtes. Oeeee en die gorillas in Tanzanië en die Ngorongondo krater … die wêreld is net so groot, jy weet. Wag laat ek ophou, dit lyk my ek het nie net ‘n emmerskoplysie nie, dit raak dan nou ‘n drom vol!” “Ek sal jou help.” “Sal jy regtig, Una?” “Natuurlik weet jy ek sal dit graag doen, jou lawwe ding!”

30 thoughts on “Emmerskoplysie 7

          1. Ditsem! Julle kan my sommer daar by die Sacre Coeur los en my later weer kom haal… Ek wil die Parysenaars sit en bekyk, soos wat Andre P Brink en Breyten Breytenbach dit in die sestigerjare van die vorige eeu gedoen het…

            Like

            1. En omdat dit JOU emmerskopuitstappie is, mag jy mos vra wat JY graag wil hê. Ons maak so. Una moet ons nou net nie te vinnig wegruk met die Blitsie nie. 🙂 Lekker slaap. Ek gaan kyk of hy nie nou wil kom nie.

              Liked by 2 people

  1. Parys, dankie vir die wonderlike toer en fotos. Dit was darem maar prag en praal daai dae van my (amper) naamgenoot. Wonder waar gaan ons volgende. Ons moet net nie vrek baie stap nie, ek is onfiks hoor

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s