Covid is ‘n bliksem

Covid is ‘n bliksem ‘n gemors die vieslikste vieslik wat daar is ‘n gesant van die duiwel ‘n dief in die nag wat kyk wat hy kan inpalm ‘n brullende leeu wat kyk wat hy kan verslind. Covid is al die vieslikste woorde wat ek nie eers ken nie. ‘n Kind van die donker.

Daarom bekruip hy jou in die nag. Laat hy jou wakker lê. Maak jou lyfseer dat jy later nie meer weet hoe om te lê nie. Laat hy jou aanmekaar opstaan om te gaan piepie net sodat jy weer aan die hoes raak as jy in die nagkoue onder die warm kombers uitklim. Maak dat jy bang is om te gaan piepie, want dan kom die hoes weer. Laat jou so sweet dat jy elke twee ure droog moet aantrek, ‘n nuwe handdoek onder jou sit. Laat jou die een oomblik so koud kry net om die volgende oomblik warm te wees. Laat jou wakker stik van jou eie slym, verward terwyl jy nie weet waar jy is nie, want jy het vir die eerste keer die nag diep geslaap. Laat jou stikkend in die huis rondhardloop, moeg en uitgeput na liggaam omdat jy net nie meer kan hoes nie, maar aanhou hoes, die nebuliseerder gryp, kookwater maak en jou te begin stoom. Jou bloedsuurstof oor en oor toets, want dit is op die ‘veilige’ minimum, die geringste uitputting laat dit sak na 88 dan haal jydiep asem, konsentreer, forseer jou om te ontspansodat die metertjie weer begin lig en lig. Covid hou daarvan om jou te ontstel. Bang te maak. Covid is ‘n gemors. Selfs op sy heel beste is hy die grootste gemors denkbaar en is daar vir hom geen goeie woord te sê nie. Covid laat jou huil. Hy laat jou vriende by jou voordeur wegwys en sê hulle kan nie inkom nie. Hy steel. Hy vat wat hy wil hê wanneer hy wil hoeveel hy wil. Hy het geen skaamte, geen simpatie, geen empatie. Hy dink net aan homself. Me, myself, I.

Maar so in die stikkende, benoude hardloop in die huis kom die woorde in my op: Nogtans sal ek in my Here jubel. Selfs al dink hy hy kan my steel, het ek vir hom ‘n surprise: Ek is klaar gemerk. Hy kan my liggaam aftakel. Hy kan my selfs doodmaak as hy so wou, wat ek sterk betwyfel, maar selfs dán is dit ‘n VERLOOR vir hom. Dat alles wat hy my probeer aandoen, my net nader bring aan my Here. Ek is ‘n gesalfde kind van God en niemand kan my uit Sy hand ruk nie. Die oorlog is fel, maar ek veg dit nie alleen nie. My God is saam met my in hierdie geveg. En my man. En ‘n paar wonderlike dokters. En vriende wat vir my bid en bemoedig.

Nogtans sal ek juig (Jannie du Toit) Getoonset deur Chirsta Steyn

Selfs al sou die vye ophou bloei

Selfs al sou die druiwe skaars nog groei

Ook al sou die oes maar weer misluk

storms als verwoes of droogte druk

Selfs al sou my skape ophou lam

nes die water opdroog in die dam

Selfs al word die beeste in my kraal

uitgeteer deur honger weiveld kaal

Dan sal my hart bly jubel in die Here

Dan bly ek juig oor die God van my heil

Hy gee my weer krag om op te staan

nes ‘n ribbok rats my weg te baan

bo-oor die hoogste rots laat die Here my veilig gaan

Wat ookal gebeur as onheil kom

EK VERTROU OP HOM.

Selfs al sou jou vrugte ophou bloei

Selfs al sou jou wingerd skaars nog groei

Ook al dreig die storms rondom jou

Wees verseker Hy bly getrou.

So Covid, die stryd is fel, regtig, maar die Een aan my sy is groter as jy.

(Hierdie is my ervaring van Covid, elke persoon ervaar dit anders, baie ervaar dit nog baie erger as wat ek dit ervaar het. Ek loof die Here dat ek tot nou toe nog die hospitaal gespaar bly en die betervoeltye al hoe meer raak.)

Toortsie

Ek vra verskoning dat ek julle nou aanmekaar met hierdie gemors belas. Ek skryf dit ook om julle te waarsku: Hierdie ding is nié ‘n grap nie. Asseblief, ons moet versigtiger as versigtig wees. Ons moet ons ekstra weerhou daarvan om by mense te kuier. Ons maskers dra. Doen maar wat die president vra, selfs al hou jy nie van hom of van wat hy wil hê nie.

32 thoughts on “Covid is ‘n bliksem

      1. Dit sal so wees. Hier het hul nou en dan iemand wat beskryf hoe hul voel nadat hul die eerste virus besmetting gehad het en siek was. Hul sukkel nog steeds met moegheid en simtome wat nog nie wyk nie. Dan is daar ander wat heeltemaal gesond is. So dit hang maar af hoe elkeen reageer. Jy moet maar moedhou dit sal goed uitwerk al gaan dit tyd vat.

        Liked by 1 person

  1. Death, be not proud, though some have called thee
    Mighty and dreadful, for thou art not so;
    For those whom thou think’st thou dost overthrow
    Die not, poor Death, nor yet canst thou kill me.
    From rest and sleep, which but thy pictures be,
    Much pleasure; then from thee much more must flow,
    And soonest our best men with thee do go,
    Rest of their bones, and soul’s delivery.
    Thou art slave to fate, chance, kings, and desperate men,
    And dost with poison, war, and sickness dwell,
    And poppy or charms can make us sleep as well
    And better than thy stroke; why swell’st thou then?
    One short sleep past, we wake eternally
    And death shall be no more; Death, thou shalt die.
    – John Donne, Holy Sonnets

    Liked by 2 people

  2. Genade Toortsie, ek bid dat jy gou gesond sal word. Dié van ons wat dit nog nie het of gehad het nie, lewe weer in vrees met elke hoesie of keelseer of naarheid. Die wêreld is nie meer ‘n lekker plek nie.

    Liked by 1 person

    1. Son! Lekker om jou te sien. Ja, net vanoggend sê ek vir my nan dat ons nou nie meer die getalle in vrees (of kamtige bravade) hoef dop te hou nie. Amper ‘n bedekte seën maar ek bid dat dit jou en jou geliefdes gespaar sal bly.

      Like

Gesels saam, asseblief!