Sonder trane

Ons kyk The Crown, Seisoen 3. Iewers is daar ‘n tragedie waar ‘n hele dorpie ontsaglik geraak word. Baie mense sterf, veral kinders. Aanvanklik versuim die koningin om die dorpie te besoek, maar sy doen dit wel later.

Sy noem haar bekommernis: Sy kan nie huil nie. Daar moet iets fout wees met haar. Daar ís fout met haar.

En my hart huil vir haar. Ek sê: “Moenie so hard wees op jouself nie. Wees sag op jouself.”

Ook ek kon op ‘n stadium in my lewe nie huil nie, baie, baie jare gelede. Ek wou so graag, maar die trane wou nie kom nie. Tot op ‘n dag wat daar weer ‘n traan gekom het, en daarvandaan loop die dam oor!

Hoeveel keer sien ek mense wat nie kan huil nie. Mense wat selfs bekommerd is daaroor. Ander wat nie bekommerd is daaroor nie. Sagte mense. Dierbare mense. Maar die trane ontbreek.

Om watter rede ookal. Is dit ‘n oorlewingsmeganisme? Is dit mure wat hulle om hulle hart gebou het om hulleself te beskerm? Was dit dalk ‘n poging om sterk te wees en in die proses het hulle afgeleer om te huil? Dalk omdat jy op ‘n stadium nie mog huil nie?

Liewe vriend, vriendin, jy met die droë oë. Wees sag met jouself. Wees lief vir jouself. Jy is okay.

Toortsie

18 thoughts on “Sonder trane

  1. Ek weet net na die kyk van die reekse, dat geen mens daardie lewe kan geniet nie. Soveel protokol. Hulle lewe in ń glaskas. Verstaan hoekom Harry en Megan daarvan weg gestap het.
    Ek het altyd vrek maklik gehuil, maar ongelukkig stomp anti depressante jou emosies af, ek voel baie harteloos en onsimpatiek omdat ek nie kan sazm huil nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!