Kleurvolle klippies

Al hoe meer mense sit foto’s op van pragtige klippies wat hulle oral ontdek op die groep, Struisbaai Fun, en dit fassineer my. Later kan ek my nuuskierigheid nie meer bedwing nie en vra op die groep die volgende vrae:

Ek wil graag ‘n blog skryf oor die geverfde klippies, maar benodig meer inligting asb: 1) Wie se oulike idee was dit? 2) Wanneer het julle begin om die klippies neer te sit? 3) Kan die persone wat dit vind, dit hou? 4) As jy die klippie hou, word daar iets van jou verwag, soos dat jy ook klippies verf en neersit? 5) Waarmee verf julle dit? 6) Vertel van die lekkerte wat jy ervaar as jy ‘n klippie neersit of vind? 7) Mag ek van julle foto’s gebruik asb?

En net daar gaan die deure behoorlik vir my oop. Die mense antwoord, die inskrywing lewe.

‘n Hele paar mense verwys my na Southern Cape Rocks en ek sien dat dit nie net in Struisbaai is wat die klippies neergesit word nie, maar sommer op baie plekke. Kaapstad, Stilbaai, Hartenbos, Gansbaai, Kleinmond … Cape Town Rocks is ook ‘n Faceboekgroep waarna verwys word, waar die volgende geskryf word:

The goal is to encourage creativity, outdoorsiness, and community involvement. Join us and have some fun! We don’t care how old or young you are, how creative you are, or where you come from. You can even take one with you on your travels and leave a Cape Town Rocks somewhere exotic; somewhere far!

Een van die persone wat ook baie opgewonde hieroor voel, beskryf dit as ‘n geverfde klippieskattejag, ‘n kosmosniks manier om liefde en gasvryheid aan vakansiegangers oor te dra.

Kyk gerus na die pragtige geverfde klippies van Susan van Kuns Hart . Sy sit ook blykbaar gereeld klippies uit vir iemand om op te tel.

Iemand skryf: ‘The idea is to give joy to the finder however it is always a pleasure to see where your rock was found and traveled to.’ Hoe onbaatsugtig! Iemand anders dra by: ‘Ek sal regtig almal aanraai om ‘n klippie te vat en te verf, dit is so ontspannend, jy vergeet van alles om jou en terapeties. As jy eers een klippie geverf het kan jy nie ophou..’

Een persoon beskryf haarself as ‘n ‘rockhunter and re-hider.’ Ek hou van hierdie idee. Sy deel in die opwinding, maar gun weer die volgende persoon ook om dit te vind.

Kyk ook hierdie mooi gesindheid van een van die klippiekunstenaars: ‘We paint these rocks for our own pleasure and for own personal therapy. We hide or place them so that others can find the joy of the unexpected discovery. And whether they acknowledge their find on this group or not does not in any way detract from our process. We can be pretty sure that they have loved their find, and that’s enough.’ (Admin van Cape Town Rocks)

Dit is nie net die kunstenaars wat reageer het nie, ook soveel blye ontdekkers van die klippies. Dit bring voorwaar baie vreugde vir baie mense. Vir hulle wat dit verf, maar ook vir hulle wat dit ontvang.

Iemand het die baie interessante storie van Isla’s Stones. Isla was ‘n skrale ses jaar oud toe sy gediagnoseer is met ‘n baie dodelike en aggressiewe kanker. Toe sy nie meer kon loop nie, het sy en haar mense begin om klippies te verf om haar besig te hou. Haar maatjies het die klippies oral gaan wegsteek. Mense wat dit gevind het, het dit op Facebook geplaas en dit het vir haar oneindig baie genot verskaf. Dit wil lyk of dit die begin was van die geverfde klippe, as ek dit reg verstaan.

Al wat ek weet is, dat dit baie opwindend is, dat mense dit geniet om die klippe te soek, om dit te verf, dit op Facebook te plaas. Dit is beslis ‘n aanknopingspunt en iets positiefs om oor te gesels. En nee, ek het nog nie een gevind nie en dit maak glad nie saak nie, ek geniet sommer die klippe wat almal op Faceboek sit saam met hulle.

Toortsie

29 thoughts on “Kleurvolle klippies

  1. Toe ons in Ballito was het ons ook al die mooi geverfde klippies gesien. Party van hulle het oefening instruksies op gehad bv: “Draf 3x op en af by die trappe.” 😄 Ons het dit geniet om elke oggend nuwe klippies te ontdek.

    Liked by 1 person

    1. Ek hoop ook vir jou part so. 🙂 Dalk is dit dalk ‘n oulike skoolprojek, het een van die mense genoem. Die kinders verf klippies en dan gaan elkeen dit wegsteek iewers in julle dorp. Dalk kan hulle agterop die datum skryf en vra dat hulle dit op faceboek sal post.

      Like

      1. Hoor wat skryf een nou:
        Sy het klippies geverf, n jaar of wat gelede. Dit by Agulhas neergesit. Toe, heelwat later, sit iemand ‘n post op facebook dat sy dit in Switserland opgetel het en so opgewonde was omdat dit ‘n klippie vanaf Kaapstad was. So iemand het dit opgetel en weer in Switserland gaan neersit!

        Like

Gesels saam, asseblief!