Langs die see

Soos reeds vertel, het ons op Kersdag van Waenhuiskrans af seelangs gestap tot by Struisbaai. Ons het die gety swak gekies en die weervoorspelling en die ware weer het ook nie ooreengestem nie. Die ‘bewolk’ het verander in ‘n sterk wind skuins van voor. Dit was ‘n geveg met die see en ‘n uitdaging om ‘n plek te vind om te loop waar die sand nie insak onder ons voete nie. Of waar die sand nie erg skuins is of los is nie. Of later, ‘n geveg teen sand wat in jou oë wil waai, selfs al dra jy bril. Later was rus ook nie meer ‘n opsie nie, want as jy sit, voel die sand wat teen jou waai selfs sterker. Kan jy nie meer van die padkos eet nie, want so vinnig soos wat jy die eier afdop, waai dit vol sand.

Die eerste vier kilometer was nog op ‘n duinepaadjie en het ons heerlik gestap, dit was nog windstil. Toe ons die sandstrand betree, het ek ‘n uitroep van lekkerte gegee. Min het ek geweet wat voorlê. Hoe verlig was ek toe ons Die Mond haal. Ons het in ons koppe gehad dat die roete ongeveer 30 km is, na aanleiding van ‘n faceboekinskrywing wat ‘n vrou gedoen het wat dit gestap het. Ek vermoed egter sy het dalk by ‘n huis in Struisbaai begin en het tot by ie hotel gestap en dat sy selfs by Die Mond oor die brug gestap het. Ek weet ook dat sy ‘n stuk verdwaal het. Ons het nie by Die Mond oor die brug gestap nie, ek hoor ná die tyd dat dit ‘n verdere vyf kilometer sou beteken. Ons is sommer deur die mond. Omdat dit hoogwater was, was daar ‘n seestroom rivierop. My man is eerste deur, het dryfsand gewaar en is toe op ‘n ander plek deur. Hy beveel toe aan dat ek en my dogter hande vat. Van rolle gepraat, sy was die een wat die sterke was, die leier. Ja, my rol het verander, maar ek geniet dit. Ons is heuphoogte deur die water.

Waaroor ek eintlik wil skryf, is die plastiek. Mense, ons almal is deesdae bewus van die plastiekoorlog. Van eilande vol plastiek wat in die see dryf. Maar dis mos in die see, dit raak ons nie regtig nie. Die waarheid is, dit raak ons. Dit beïnvloed my en jou gesondheid, of ons dit wil hoor of nie. Visse neem dit in, hulle eet klein stukkies plastiek, dit beïnvloed die kwaliteit van die vis wat ons eet, vergiftig ons. Dit is nie ‘n ‘ander persoon’ se probleem nie, dit is ONS probleem.

Weet julle hoeveel plastiek lê uitgespoel op daardie stuk strand waar niemand regtig kom nie? Een liter plastiek waterbottels. Buisligte. Selfs ‘n harde beskermingshoed soos wat bouers gebruik. Koeldrankbottels. Vislyn. Daardie klein borreltjies wat van ‘n skip verloor het wat ons see besoedel en wat soos viseiers lyk, wat visse dink kos is. Sulke houers met gate in wat ek vermoed deur vissersbote gebruik word om die vis wat hulle gevang het, in te hou. ‘n Stuk strand wat veronderstel is om eintlik ongeskonde te wees omdat daar nie mense kom nie, is besoedel met plastiek.

Nou die dag terwyl ek en my kleinkinders by die poeletjies rondkyk, begin ek sommer plastiek optel wat daar tussen die klippe vassit. Binne ‘n paar minute het ek sakke vol goed opgetel. Ag nee man! Hoe kan ons ons wêreld so besoedel? En ek dra by daartoe, want ook ek gebruik heeltemal te veel goed. Ook ek gebruik steeds plastiek, selfs al het ek my plastiekverbruik al soveel verminder. Selfs al konsentreer ek daarop. Ons sal ons sokkies moet optrek. Elkeen van ons. Ons sal moet kyk waar ons die gebruik van plastiek kan minimaliseer.

Soos deur verpakking. Hoekom moet die gammon wat ek koop, 1, vakuumverpak in plastiek wees, 2, nóg ‘n plastiekgaas omgedraai hê, 3, nog weer verpak word op ‘n polistereenbakkie met 4, nog ‘n klomp kleefplastiek om? Net om 5 dit in nog ‘n broodsakkie by die kassiere te sit binne in die 6 plastieksak? Is dit regtig nodig?

Ek daag vir my en vir jou uit om in 2021 nóg maniere te vind waar ons plastiek kan bespaar. Om aan te hou met wat ons besig is om te doen, maar op die uitkyk te wees vir nog meer plastiekbesparings. Ek sal na my klere moet kyk, want ek hou van goed wat nie gestryk hoef te word nie. Dalk meer natuurlike stowwe begin dra?

Toortsie

10 thoughts on “Langs die see

  1. Dis so nodig om op te hou met al die plastiek.Ons koop nou al ons goed in papiersakke so ver as moontlik. Die koeldrankbottels en melkbottels is nog n groot probleem. Hul word wel her-gesirkuleer maar dit is maar steeds baie mense wat nie n hersirkuleer houer wil betaal nie. Ek het bv nie n vuilgoed blik nie. My maandelikse verbruik is nie eers n plastiese sak vol nie. Meeste word gehersirkuleer.

    Liked by 1 person

    1. Ek sukkel nog met die hersirkuleerdery. My deurmekaar lewe met die pendelry maak dit ook moeiliker. Ons hersirkulasiesakke word Donderdae opgetel. Koeldrankbottels is beslis ‘n probleem by ons ook. Ek probeer meer water drink, dan gebruik ek self so minder koeldrank. As ons op die plaas is, gaan die bottels melkstal toe waarin daar vir die kalwers bies gevries word. Leë joghurtbakkies ens maak ek vol lekkers en deel dut weer uit vir mense op straat.

      Like

      1. Dis darem wel al iets. Hier kan ons nie jogurthouers hersirkuleer nie omdat dit no 5 plastiek is en dit nie hier verwerk kan word nie. Ons kan net 1 en 2 plasties hersirkuleer. China vat lankal nie meer die plastiek nie. Ons verwerk dit nou hier om bou stene en teerpad mee te versterk.

        Liked by 1 person

  2. Wow – what a hectic walk – always wanted to do that but if I do I’ll check the tide and weather carefully!
    I agree that we all need to get our act together regarding plastic use. We need to save the planet before it’s too late.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s