Die Goue Vroue kamp by Brandberg

Hierdie is deel van ‘n uitdaging wat Christa aan ons gegee het. 

Vir die doel van hierdie uitdaging word elke Goue Vrou uitgedaag om ‘n ware verhaal te vertel waarin sy waaghalsig, roekeloos, dapper, onverskillig, vreesloos, uitdagend, mal, koen, riskant, gevaarlik of heldhaftig was. Met een groot verskil.

Soos gewoonlik is die res van ons karakters in elkeen se ware verhaal. 

Die verhale van die Goue Vroue se waaghalsigheid kan hier gelees word https://fresh.inlinkz.com/p/f80d05d5846445598fea67b47c8a6182

……………………………

Ai tog, die Goue Vroue is altyd in vir ‘n ding, gewoonlik ‘n ding wat groter is as hulle self. Gewoonlik voor hulle dink aan die gevolge. Sommer net omdat hulle kan en omdat hulle daarvan hou om lekker dinge saam te doen. En omdat hulle glo aan almal vir een en een vir almal, hulle los nie sommer een by die huis of bly by die huis sodat die ander alleen die dinge moet hanteer nie.

So gaan kamp die klomp vriendinne saam met ‘n toerleier in Brandberg in Namibië. In die oopte, net met tentjies. Die kampplek is nie omhein nie. Dis tog te lekker tussen die bome. Almal is bewapen met ‘n kopliggie of ander sterk flitsie, as hulle in die nag ‘n draaitjie wil loop, moet hulle eers die omgewing bekyk of daar nie vreemde kuiergaste is nie. Viervoetige kuiergaste, jy weet.

Toe ons by ons kampplek opdaag, waarsku die gids ons dat ons veral versigtig moet wees vir olifante. Woesteynolifante. “Olifante?”, vra Frannie, “in hierdie wêreld? Dit lyk nie soos olifantwêreld hierdie nie?” Positief beaam dit, sy weet van boerbokke en olifante. Glad nie olifantwêreld nie.

Die Goue Vroue sit tot laataand by die kampvuur, raak nostalgies, praat oor alles wat op die hart kom lê. Vertel hartsdinge. Hier en daar loop ‘n traan. Soms oor iets hartseers, soms uit dankbaarheid, maar meestal sommer oor die saamwees ná hierdie vreemde jaar. Oor die besondersheid van hulle vriendskap: Afrikaanse vroue wat die wêreldvol bly en sulke goeie vriende geword het. Hartsvriende. Hulle lag oor hulle lawwighede, klink ‘n glasie op oorwinnings in hulle lewens.

Later begin hulle almal tentwaarts keer, maar soos dit met vroumense gaan, moet hulle eers die ou bekende plekkie besoek. Hulle stap twee-twee deur die bospaadjie tot by die geboude toilette, hang die takkie wat as slot moet dien, skeef voor die opening, en voor hulle terugkeer, lig hulle soos hulle gesê is om te doen, weer met hulle flitsies. “Wat?! Het jy dit ook gesien?” vra Seegogga. “Nee? Wat het jy gesien?”, vra Sonell wat saam met haar stap. “Oë. Geel oë. Daar het nou net geel oë in die lig geblink.” “Geel oë? Watter dier se oë is geel?” Seegogga lig weer in die rigting van waar sy die oë gesien het, maar dit is nou weg. Koue sweetdruppels loop teen hulle rûe af. Hulle besef dat hulle nie heelnag hier kan staan nie, hulle het in elk geval nie vreeslike beskerming hier nie en laat spaander vir hulle tent.

Kort nadat almal gaan slaap het, jy hoor selfs hier en daar ‘n ligte snorkie, veral uit sekere tente uit, nie só lig nie, hoor hulle ‘n onaardse gebulk en die vreemdste gestamp. Diere wat hardloop. Wat gaan aan? Wat is dit? Almal is natuurlik dadelik wakker, maar kan niks doen nie, lê net doodstil en luister.

Dan hoor hulle olifante trompetter. Dit weergalm behoorlik. Dit voel vir Toortsie en Christa of die olifante teen hulle tent is. Hulle lê doodstil, hulle tentflap is toegerits, dus kan hulle nie sien wat aangaan nie. Haal amper nie meer asem nie.

Una en VirgoC is gelukkiger. Of ís hulle? Hulle tentjie is net langs Toortsie en Christa s’n, maar net die net van hulle tentdeur is toegerits, hulle beskou die petalje. Twee olifante is aan die baklei! Styf teen Toortsie en Christa se tent! Daar breek die een ‘n stuk boomtak af reg bokant hulle tent en die tak glyval teen Toortsie en Christa se tent af. As een nou nie kyk waar hy trap nie, is hulle … wag, laat ek eerder nie sê nie.

‘n Paar minute wat soos ‘n ewigheid voel hoor jy nog die gedraas en geskarrel, toe is dit stil. Niemand waag dit die res van die nag buite hulle tente nie. Dis eers die volgende dag wat hulle die ware toedrag van sake hoor. Appeltjie en Woordnoot se tent was op so ‘n plek opgeslaan dat hulle die hele besigheid mooi kon bekyk.

Die lawaai wat hulle heel eerste gehoor het, was ‘n klomp donkies wat deur die kampplek gehardloop het. Of hulle vir die olifante weggehardloop het, weet hulle nie. Net daarná het die olifante deur die kamp beweeg. Daar was vyf van hulle. Twee olifante het daar by Toortsie en Christa baklei, soos ons reeds weet. Die olifante het tussen die tente deur beweeg. So naby aan Trommeltjies en Aalsie se tent verby, dit is eintlik wonderlik dat hulle dit nie raakgetrap het nie. Scapydo kon ook met opgehoue asem sit en kyk. Sy kan nie ophou vertel hoe grasieus en sag die logge liggame tussen die tente deur beweeg het nie. Sy glo hulle het defnitief geweet van ons mensekinders wat daar was.

Wel, hier is ons, almal het oorleef en kan die storie weer vertel.

Groete Toortsie

Ware gebeure met ‘n kinkel. Die storie is waar, die karakters uitgedink.

24 thoughts on “Die Goue Vroue kamp by Brandberg

    1. Ek is ook mal oor olifante. En hulle sal jou nie raaktrap nie ondat hulle geweet het ons is daar. Ongelukkig het hulle baklei rondom ons tent en dan is die gevaar dat hulle nie kyk waar hulle trap nie.

      Like

  1. Ja nee, die petalje het my asem weggeslaan. Ek is nou nie uitkamp mens nie maar om die olifante te sien versigtig loop tussen tente is uniek. Daardie grote pote wat eers voel-voel voordat hul dit neersit. Die twee wat gestry het was seker twee jongelinge wat in mekaar se pad geloop het. Dalk het een die ander een se stert getrek. Lekker avontuur gewees.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!