Ons moes mos eintlik vooraf weet … Rebusfontein

Ja, ons moes mos eintlik vooraf weet dinge sal nie heeltemal ‘ordelik’ gebeur nie, want het iets al ooit heeltemal ordelik op Rebusfontein gebeur? Toe, sê vir my?

Una het haar bes gedoen om ‘n ‘ordelike’ kerspartytjie te reël. Ons het elkeen ons werkie gekry. Ordelik, sien.

Maar Toortsie is lui. Haar kop is dof. Sy kan aan NIKS dink om voor te sit vir kersete nie. Sy is, om die waarheid te sê, nie lus vir dink óf doen nie. Sy wil net rus. En gesels. En saamspeel. En laf wees. En kersliedjies sing. En niks doen. Eintlik net dit. Niks doen en saam met die golf beweeg, waarheen die golf ookal beweeg.

Die diere is verveeld en begin al hoe meer chaos skep, daarvan kan jy by Una en by Appeltjie gaan lees as jy my nie glo nie. Dis mondoophangchaos wat daar aan die gang is.

Courier Guy weet nie wat hulle getref het nie. Voorheen het hulle nie eers van die dorpie Rebusfontein geweet nie, nou kry hulle soveel bestellings daarvandaan vir die vreemdste goed, meestal eet- en drinkgoed, hulle moes al van hulle afleweringsvoertuie van die ánder roetes afhaal net om al die bestellings hanteer te kry. Hulle verbeelding hardloop oortyd, want watter soort dorpie is hierdie Rebusfontein? Hulle kan maar net dink! Om die waarheid te sê, hulle wíl nie regtig dink nie, want iets is baie vreemd daar … amper onheilspellend vreemd.

Danie, wat geen vlieg kan skade doen nie, word toe sommer aangekla van geskenkediefstal, kan jy nou meer. Want sien, hy het agtergekom kersvader is nie wat hy voorgee om te wees nie. Dat sy invallery by Rebusfontein glad nie so toevallig is nie. Woordnoot en Una het gaan ondersoek instel … en vir die Towerinne kom fluister … en die Towerinne/Goue Vroue laat nie met hulle mors nie. Ook nie op hulle wag nie. Want hulle weet van probleme en chaos en indringers hanteer …

Voor die kamtige kersvader nog weet wat met hom gebeur, voor hy kan sê ‘mes’ is die klomp Towerinne soos een vrou, want hulle glo mos aan een vir almal en almal vir een, om hom. Op hom. Oor hom.

Appeltjie en Trommeltjie skraap sy presente bymekaar en laai dit op die slee, maar Toortsie sê, nee, laat ons ‘n bietjie kyk wat is hierin en begin presentpapier afhaal. Dis die een leë boks ná die ander. “Wat?”, sê Aalsie, “dis mos BEDROG!” Positief, wat bokke verstaan, wat is die verskil nou tussen ‘n boerboke en ‘n takbok, is dadelik by die kamtige vlieënde takbokke en begin hulle uitvra. Waar kom hulle vandaan? Sy kom agter dat hulle glad nie eers uit Lapland kom nie, dat hulle nie kan vlieg nie. “Waar kom julle dan vandaan?”, vra Frannie mooi. Toe kom hulle uit met die storie, hulle woon glad nie so ver van Rebusfontein af nie. “Wat?” vra VirgoC met ‘n wortelstokkie in die hand, “Julle woon nie ver van Rebusfontein af nie? Nou waarom is julle hier? Wat het julle tot hier gebring? Hoekom? Wat wou julle bereik?” Seegogga se kop werk oortyd. Met Courier Guy wat nou so aanhoudend kom bestellings aflewer, kan hulle dan nie sommer vir die kamtige, nagemaakte, bedrieër kersvader sommer inlaai in hulle voertuie en gaan aflaai waar hulle vandaan kom nie? “Luister julle, kom ons hoor net eers by hom wat is die rede hoekom hy so ‘n skelm streek uitgevoer het voor ons hom nou sommer hier veroordeel”, sê Sonell. “Ja,” beaam Christa, ” dalk het hy ‘n goeie rede gehad. Scrapy het nou net ‘n whattsapp gestuur waarin sy sê dat ons genade moet hê. Kerstyd is tog immers ‘n tyd van genade, of hoe?”

So, as Rebusfontein se kersvader sommer ná aan Rebusfontein woon en sy takbokke nie regtig kan vlieg nie, wie is hy regtig? Dit lyk tog nie of hy hier is met kwade gedagtes nie? wie kan help?

Toortsie

15 thoughts on “Ons moes mos eintlik vooraf weet … Rebusfontein

Gesels saam, asseblief!